Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril begin planne maak vir kabinet

Hoewel pres. Cyril Ramaphosa Woensdag daarop gesinspeel het dat hy noemenswaardige veranderinge aan sy kabinet gaan aanbring, is hy uit talle vriendelike oorde gewaarsku: Hou die bevlektes en vermeende staats­kapers uit.

Dr. Snuki Zikalala, president van die ANC-veteraneliga, waarsku dat kiesers die ANC in verlede week se algemene verkiesing “vir oulaas ’n kans gegee het” en dat omstrede mense nie ingesluit mag word nie.

Pres. Cyril RamaphosaFoto: DEAAN VIVIER

Hy en ander ANC-veterane raai Ramaphosa aan om bekwame en onbevlekte mense as ministers aan te stel sodat die ANC as regerende party kan oorleef.

“Nuwe kabinetslede moenie eiebelang nastreef nie.”

Dit is deel van die druk wat van in en buite die ANC-alliansie op die president opbou oor sy nuwe kabinet.

Cosatu en die SAKP, die ANC se alliansievennote, het dit gister ook benadruk dat Ramaphosa “bekwame en vlekkelose individue” moet aanstel.

Bheki Ntshalintshali, Cosatu-hoofsekretaris, sê Cosatu vergader Donderdag om die nuwe kabinet te bespreek en verwag dat Rama­phosa hulle en die SAKP daaroor sal raadpleeg voordat hy dit bekend maak.

Alex Mashilo, SAKP-woordvoerder, sê sy party sal deel wees van die konsultasieproses.

“Sekere mense het ernstige probleme vir die beweging veroorsaak. Daar moet in die nuwe kabinet ’n kollektief wees wat steun van die samelewing sal aantrek.”

Corruption Watch (CW) sê ook die ANC het die verkiesing gewen vanweë Ramaphosa se beloftes om korrupsie uit te roei en van korruptes ontslae te raak en dat sy optrede voortaan, ook met die samestelling van sy kabinet, sy verbintenis daartoe moet wys.

Pres. Cyril Ramaphosa

David Lewis, uitvoerende direkteur van CW, sê hulle raai Ramaphosa aan om ontslae te raak van ministers wat nie geskik is nie en om nie mense op die ANC se lys van LP’s wat by korrupsie betrek word as ministers aan te stel nie.

News24 het gister berig dat Ramaphosa sy kabinet met tot nege departemente en ministeries kan verklein en dat daar hard in Luthuli-huis onderhandel word oor ministers.

Ramaphosa het gister op Goldman Sachs se beleggerskonferensie in Parktown, Johannesburg, gesê die regering gaan hom nou daarop toespits om die Nasionale Ontwikkelingsplan uit te voer.

Een van die grootste probleme is dat dié plan nie ingestel word nie. “Ek wil dit nie meer hoor nie. Ons moet nou doen wat ons beplan het,” het hy telkens gesê.

Die regering gaan nou “al die hervormings begin uitvoer waarvan ons gepraat het”.

“Ons wil die ekonomie laat groei en beleggers lok.”

Glen Mashinini, voorsitter van die Verkiesingskommissie, oorhandig die lys van die aangewese parle-mentslede, asook lede van die provinsiale wetgewers, aan hoof-regter Mogoeng Mogoeng. Foto: felix dlangmandla

Hy wys daarop dat beleidsonsekerheid een van die groot uitdagings is wat oorkom moet word. “Ons sal fokus op wat die beste vir die land is en verseker dat ons dit op ’n volhoubare manier toepas.”

Intussen het die Verkiesingskommissie (OVK) die lyste met die name van die politieke partye se nuwe LP’s gister in Johannesburg aan hoofregter Mogoeng Mogoeng oorhandig. Hulle word môre amptelik by die parlement ingehuldig.

Mogoeng het by dié geleentheid ’n beroep op die LP’s gedoen om die mense eerste te stel en “om nie voor die korruptes te kruip” nie, berig Philda Essop.

Hy waarsku Suid-Afrikaners om op hul hoede te wees.

“Hulle moet waaksamer as vantevore wees om enige manipulasie deur funksionarisse bloot te lê in staatsinstellings wat ons uit die probleme moet kry waarin ons vasgevang is."

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.