Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril ‘éintlike teiken van dié wat Gordhan se kop eis’
Pres. Cyril Ramaphosa Foto: CITY PRESS

Pres. Cyril Ramaphosa is die eintlike teiken van die voortdurende aanvalle op Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, uit die ANC en ander oorde wat hom vir die Eskom-krisis blameer.

Dit was Woensdagmiddag laat die mening van 20 ANC-strydrosse en -veterane in ’n sterk bewoorde verklaring, waarin uitgevaar word teen die aanvalle op Gordhan, en gesê word dat Ramaphosa die eintlike teiken is.

Volgens hul verklaring vervul die politieke aanslag op Gordhan weens die Eskom-krisis hulle met afgryse.

Die “onpraktiese” voorstel dat Eskom onder die portefeulje van minerale bronne en energie geplaas word, is ’n taktiek om Gordhan te “ondermyn en polities te verswak”, aldus die veterane.

Cosatu, Numsa en die EFF dring daarop aan dat Ramaphosa Gordhan weens die krisis in die pad steek.

Cosatu, Numsa en die EFF dring daarop aan dat Ramaphosa Gordhan weens die krisis in die pad steek.

Julius Malema, EFF-leier, het selfs vandeesweek gedreig om Ramaphosa se staatsrede op 13 Februarie in die Nasionale Vergadering te ontwrig as hy nie voor dan van Gordhan ontslae raak nie.

Luidens die verklaring kan sekere feite rondom Eskom nie betwyfel word nie. Dit sluit in dat die kragverskaffer die afgelope twee dekades ’n vrugbare teelaarde vir “patronaatskap, enorme korrupsie en politieke avontuurlustigheid” was.

Onbeholpe bestuur en onbevoegde oorsig het daartoe gelei dat Eskom stelselmatig verval het tot die punt waar minder as twee derdes van sy kragopwekkingsvermoë op enige gegewe tydstip beskikbaar is. ’n Gebrek aan instandhouding het die voorspelbare gevolg gehad, beurtkrag is aan die orde van die dag en daar is ’n verband tussen die mislukkings by Eskom en Suid-Afrika se ekonomiese agteruitgang, lui die verklaring.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings.

Om Gordhan te blameer en te beledig weens die toedrag van sake by Eskom is oneerlik en vals, lui die verklaring.

“Eskom se mislukkings oor dekades heen is vererger deur misdadige staatskaping en aangehelp deur ’n reeks ministers in Jacob Zuma se rampspoedige administrasie, sowel as ’n groep diewe wat in Eskom-direksies aangestel is.

“Pravin Gordhan is nie een van hulle nie. Die ware teiken van sekere ANC-politici en diegene wat saam met hulle die aanval loods, is pres. Cyril Ramaphosa.

“Hulle wil ’n eenheid vorm wat ten doel het om die president te verwyder, ’n president wat daartoe verbind is om die land se instellings reg te ruk en om korrupsie uit te wis.”

Volgens die veterane is die “bevestigings” deur diegene se “steun” aan die president net “vir die skyn”. Dit is duidelik dat dié partye Ramaphosa as ’n plekhouer beskou, lui die verklaring.

“Hul strategie is om hom geleidelik te verswak totdat hy uitgestoot word en die Eskom-krisis is ideaal hiervoor.”

Diegene wat Gordhan se kop eis, mislei niemand nie.

“Ons, soos die meeste regdenkende ANC-lede en landsburgers, weet dat sekere partye besig is met ’n langtermynprojek van staatskaping en hulle beskou die Ramaphosa-presidensie as ’n tussenpose voordat hulle weer in beheer is.”

Die veterane het ’n beroep op Ramaphosa gedoen om “ferm te staan” en te weier om die knie te buig voor diegene wat saam met hom in die nasionale uitvoerende komitee van die ANC en kabinet dien, “maar wat van die staat sal steel en dit sal verlam”.

Onder die veterane wat Ramaphosa en Gordhan verdedig, tel Wally Serote, Mavuso Msimang, eerw. Frank Chikane, Sydney Mufamadi, Cheryl Carolus, Murphy Morobe, Sheila Sisulu, Aziz Pahad, Fazel Randera, Crispian Olver, Omry Makgoale, Mary Metcalfe, Pam Yako, Aslam Dasoo, Smangaliso Mkhatshwa, Connie Molusi, Ata Mkhwanazi, Trevor Fowler, Thami Ntenteni en Super Moloi.

Meer oor:  Pravin Gordhan  |  Cyril Ramaphosa  |  Anc  |  Anc-Veterane  |  Eskom-Krisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.