Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril: Ek veroordeel plaasmoorde net soos ander moorde

Hy veroordeel plaasmoorde net soos die moord op enige ander Suid-Afrikaner, maar glo daar moet verby etnisiteit gekyk word omdat elke lewe gelyke waarde het.

So het pres. Cyril Ramaphosa Donderdag in die Nasionale Vergadering (NV) in sy repliek op die debat op sy begrotingsrede gesê.

Dit was in reaksie op dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, se vraag aan hom Woensdag in die debat oor wanneer hy plaasmoorde gaan veroordeel.

Pres. Cyril RamaphosaFoto: Daily Sun

Ramaphosa sê dié vraag dui op die afstand wat die nasie steeds moet aflê na doeltreffende versoening en die erkenning van die gelyke waarde van elke lewe in die land.

“Dit is die mate van die onvermoë van sommige in ons samelewing om verby die etniese enklaves van ons verlede te kyk.”

Hy wys daarop dat hy reeds in November 2018 in antwoord op ’n parlementêre vraag gesê het dat geweldsmisdaad in die hele Suid-Afrika ’n kwessie van ernstige kommer is, ongeag van waar dit voorkom of vir wie dit raak. Hy het dié antwoord aangehaal waarin hy gesê het alle moorde in die land, insluitend dié op boere en plaaswerkers, moet sterk veroordeel word en dat die regering daartoe verbind is om alles te doen om elke landsburger van alle vorme van geweld te verdedig, ongeag van waar hulle leef of werk.

“Ek het en ek sal voortgaan om moorde op plase te veroordeel. Wanneer boere vermoor word en wanneer plaaswerkers vermoor word, sal ek voortgaan om dit te veroordeel.

“Elke lewe in hierdie land het ’n gelyke waarde en elke moord in elke geweldsmisdaad moet sonder onderskeid veroordeel word,” het Ramaphosa in Afrikaans gesê.

Hy het verder daarop gewys dat breed gebaseerde swart ekonomiese bemagtiging (BSEB) nie geskrap sal word nie.

Dit was in reaksie op Mmusi Maimane, DA-leier, wat in die debat ’n beroep daarvoor gedoen het.

Ramaphosa sê nou is nie die tyd om BSEB te skrap nie.

Ek is in geen posisie om ’n mening uit te spreek oor die OB se bevindinge teen minister Gordhan nie. Dié kwessie is nou voor die howe.

Dit het ware “materiële voordele” aan swart Suid-Afrikaners, vroue en mense met gestremdhede gebring.

“Dit het aansienlik tot die groei van die middelklas en tot verbeteringe in diensbillikheid bygedra. Dit het swart mense en vroue in staat gestel om eienaars en bestuurders van sakeondernemings te word.”

Terwyl daar erken moet word dat die pas van verandering stadig was, was dit nie onbeduidend nie.

“Maar ons is ver daarvandaan om dit af te skaf. Nou is eintlik die tyd om dit te versterk om dit meer doeltreffend te maak en om te verseker dat dit in ooreenstemming met ons pogings is om beleggings en ’n toename in werkskepping te verseker.”

Ramaphosa het ook herbevestig dat hy beskikbaar en gereed is om voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping te getuig.

“Die werk van die kommissies is absoluut noodsaaklik as ons staatskaping daadwerklik wil beëindig en korrupsie doeltreffend wil beveg en ons vra alle Suid-Afrikaners om hulle te ondersteun.”

Die president het ook vir Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, verdedig. Dít nadat Julius Malema, EFF-leier, ’n siedende aanval op hom geloods het met verwysing na die bevindinge van die openbare beskermer (OB) teen hom.

Ramaphosa sê hy moet reageer op Malema se “uitsonderlike” aanval op Gordhan. Niemand is volgens hom bó die reg verhewe nie en elke persoon moet aanspreeklik gehou word vir hul optrede, insluitend die president, Gordhan en Malema. Elke persoon is egter ook gelyk voor die reg en moet hom op die reg kan beroep.

“Ek is in geen posisie om ’n mening uit te spreek oor die OB se bevindinge teen minister Gordhan nie. Dié kwessie is nou voor die howe. Ek kan my egter uitspreek oor sy karakter en die bydrae wat hy tot die vryheid van die land gemaak het. Ek het hom in ’n kritieke en veeleisende posisie in die kabinet aangestel omdat ek weet hy is persoon van integriteit.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.