Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril en kabinet moet ‘uit skaamte bedank’ – Steenhuisen

Suid-Afrika is weens die verdoemende getuienis wat onlangs voor die Zondo-kommissie gelewer is oor magsvergrype deur die Staatsveiligheidsagentskap (SVA), ook in ’n demokratiese krisis gedompel.

En die enigste onmiddellike uitweg daaruit is vir pres. Cyril Ramaphosa en sy kabinet om almal “uit skaamte” te bedank.

Só het John Steenhuisen, DA-leier, Maandag gesê toe hy aanlyn sy party se “ware staatsrede” gelewer het.

Dit in aanloop tot Ramaphosa se staatsrede wat Donderdagaand in die parlement gelewer sal word.

John Steenhuisen, DA-leier, lewer Maandag sy party se ‘ware’ staatsrede.

Steenhuisen het bygevoeg dat dit “verskriklike” nuus is dat Suid-Afrika se Covid-19-inentingsprogram verder vertraag word weens vrae wat oor die doeltreffendheid van die AstraZeneca-entstof heers.

Volgens Steenhuisen sal Ramaphosa Donderdag in sy staatsrede dapper en beslissende besluite moet neem vir veral oplossings op kort termyn- vir die Covid-19-, ekonomiese en demokratiese krisisse waarin Suid-Afrika gedompel is.

“Dit omdat ons nou meer as ooit ’n eerlike assessering oor die stand van die nasie benodig. En dit sal julle op 11 Februarie beslis nie van die president kry nie.

“Hy sal ons ekonomiese krisis onderskat, die regering se Covid-19-reaksie oorspeel en reguit lieg oor ons inentingsplan.”

Steenhuisen sê dat dit egter kritiek is dat die land se inentingsprogram so spoedig moontlik op die regte pad geplaas word.

Oor die “skokkende” SVA-getuienis voor die Zondo-kommissie het Steenhuisen gesê dat die hele regering in enige ander funksionerende demokrasie daaroor sou bedank het.

“Om belastingbetalersgeld te gebruik om in die geheim te betaal vir propaganda-nuusberiggewing, die regbank te beïnvloed, opposisieregerings te wil destabiliseer en om aan te hou om ’n skandbevlekte oudpresident (Jacob Zuma) te verryk, is so ’n reuseskandaal wat tot die ondergang van enige regering anders as die ANC sou gelei het.

“Selfs die Nasionale Party-regering van B.J. Vorster was in die 1970’s gedwing om skandelike bedankings te maak toe daar ontbloot is dat hulle ’n byna identiese staatsbefondste propaganda-program bestuur het.”

Volgens Steenhuisen is dit daarom ondenkbaar dat ’n regerende party in enige funksionerende en aanspreeklike demokrasie as regering sal aanbly vir wat die ANC onder Zuma met die SVA gedoen het.

“Wat oor ’n dekade by die SVA met miljarde van staatsfondse gebeur het, is niks minder as verraad nie. As ’n onthulling van hierdie aard en omvang nie tot bedankings of ten minste afdankings lei nie, het ons ’n fundamentele fout in ons demokrasie.”

Hy sê dat Ramaphosa reeds in 2018 van die SVA-vergrype ingelig is, maar niks daaromtrent gedoen het nie.”

Volgens hom is dit daarom kritiek dat die land aanspreeklikheid en gevolge vir die Zondo-kommissie/ SVA-onthullings eis, sy Covid-19-inentigingsprogram begin in werking stel en die rug op kaderontplooiing draai as dit Suid-Afrika se grootste probleem, die stilstaande ekonomie, wil oplos.

“Ons sal dit nie kan begin doen as ons verewig in ’n staat van inperking bly nie of as die plunderaars van ons staat veilig in hul poste aanbly nie. Ons sal nie kan begin om dit te doen as ons nie dadelik ’n meriete-gebaseerde, apolitiese staat begin bou nie,” sê Steenhuisen.

Meer oor:  Da  |  Cyril Ramaphosa  |  John Steenhuisen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.