Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril-era begin
Kabinet gaan fyntrap van Ramaphosa vereis
Pres. Cyril Ramaphosa Saterdag op Loftus Versfeld. By hom is hoofregter Mogoeng Mogoeng. Foto’s: Felix Dlangamandla

Pres. Cyril Ramaphosa sal eers later vandeesweek sy kabinet bekend maak, het die presidensie Sondagaand gesê.

Vroeër is bespiegel dat so ’n aankondiging Maandag of Sondag – kort ná sy swierige inhuldiging Saterdag op Loftus Vers­feld in Pretoria – op pad is.

In die aanloop tot die aankondiging is verskeie aanspraakmakers op poste koorsig besig om te probeer om hul naam in ere te herstel.

Die ANC se integriteitskomitee, onder voorsitterskap van George Ma­shamba, het reeds voorleggings van David Mabuza, adjunkpresident van die party, en Gwede Mantashe, partyvoorsitter, ontvang.

Mabuza was in die vorige kabinet adjunkpresident en Mantashe was minister van minerale bronne.

Die integriteitskomitee het in die aanloop tot die verkiesing tientalle ANC-leiers uitgestippel wie se name op die party se verkiesingslys verskyn het terwyl hulle betrek is by ’n verskeidenheid van bewerings, waaronder korrupsie.

Mabuza het vroeër in ’n brief aan Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, gevra dat sy inhuldiging as parlementslid uitgestel word sodat hy sake met die integriteitskomitee kan uitklaar.

In ’n poging om sy reputasie te red en sy plek in die parlement te verseker, het Mabuza Vrydag voor die komitee verskyn en skuld ontken.

“Jy sal weet dat die media onlangs berig het dat die integriteitskomitee 22 mense, onder wie ek en kameraad Gwede Mantashe, uitgewys het as problematiese kandidate op die organisasie se lys van lede om in die Nasionale Vergadering te dien.

“As adjunkpresident van die ANC het ek besluit om eers te wag dat die integriteitskomitee sy werk afhandel,” skryf Mabuza.

In ’n poging om sy reputasie te red en sy plek in die parlement te verseker, het Mabuza Vrydag voor die komitee verskyn en skuld ontken.

Thami Ngwenya, Mabuza se woordvoerder, het gister bevestig dat Mabuza “uit eie inisiatief” met die komitee vergader het.

Mabuza word betrek by bewerings wat verband hou met korrupsie en sluipmoorde in sy termyn as premier van Mpumalanga.

Hy was Ramaphosa se geheime wapen om dr. Nkosazana Dlamini-Zuma te verslaan in die verkiesing van die ANC-leier.

Mantashe, ’n Ramaphosa-lojalis, het ook gister bevestig dat hy met die integriteitskomitee vergader het.

Sy naam is genoem in getuienis deur Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosasa, voor die Zondo-kommissie.

Bosasa het na bewering vir veiligheidstelsels by Mantashe se huise betaal.

Vroeë aanduidings is dat die integriteitskomitee Mantashe se naam in ere sal herstel.

Vroeë aanduidings is dat die integriteitskomitee Mantashe se naam in ere sal herstel.

Mosebenzi Zwane, voormalige minister van minerale bronne, is óók deur die integriteitskomitee uitgewys. Zwane word betrek by staatskaping weens sy beweerde rol in die Gupta-beheerde maatskappy Tegeta se verkryging van die Optimum-steenkoolmyn van Glencore in 2017.

Hy was ook LUR vir landbou in die tyd toe Magashule die premier van die Vrystaat was.

Albei se name word genoem in verband met die Estina-suiwelprojek waarin R200 miljoen wat vir opkomende boere bedoel was, verdwyn het.

Zwane, wat verlede week as parlementslid ingehuldig is, het gister bevestig dat hy per brief ingelig is dat hy voor die integriteitskomitee moet verskyn.

Nomvula Mokonyane en Malusi Gigaba, wat ook by bewerings van staatskaping betrek word, het albei onttrek as parlementslede.

Nomvula Mokonyane en Malusi Gigaba, wat ook by bewerings van staatskaping betrek word en deur die integriteitskomitee uitgewys is, het albei onttrek as parlementslede.

Intussen is Pravin Gordhan, wat ook as parlementslid ingehuldig is, in ’n stryd gewikkel om bevindings teen hom van Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), om te keer.

Mkhwebane het Gordhan Vrydag skuldig bevind aan ongrondwetlike en onwettige gedrag in sy goedkeuring van die pensioen van Ivan Pillay, destyds ’n adjunkkommissaris van die SA Inkomstediens.

Gordhan het reeds te kenne gegee dat hy Mkhwebane se bevinding in die hof gaan beveg.

Die integriteitskomitee sal na verwagting Vrydag sy verslag op ’n sitting van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) indien.

Die NUK-vergadering sal gevolg word deur ’n lekgotla die naweek. Albei geleenthede sal in die St. George-hotel buite Pretoria gehou word.

David Mabuza en sy vrou, Nonhlanhla Mnisi, kom by die inhuldiging aan.

'n Kleiner kabinet

Ramaphosa sal na verwagting ’n kleiner kabinet aanstel. Die kabinet het van 50 lede onder oudpres. Thabo Mbeki tot 70 onder oudpres. Jacob Zuma gegroei.

Pres. Cyril Ramaphosa staan voor ’n dilemma, sê prof. Bheki Mngomezulu, verbonde aan die Universiteit van Wes-Kaapland se departement politieke wetenskap.

Aan die een kant moet hy ’n onkreukbare kabinet aanstel, maar terselfdertyd kan hy nie diegene isoleer wat hom ondersteun het om president te word nie.

Ralph Mathekga, ’n politieke ontleder, sê as die integriteitskomitee besluit om Gwede Mantashe en David Mabuza se name nie in ere te herstel nie, kan dit Ramaphosa van die ANC se ander topses leiers isoleer. Dit kan hom kwesbaar maak vir interne aanvalle.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Ministers  |  Kabinet  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.