Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril gaan só teleurgesteld in my wees, sê Mthembu voor sy dood

“(Pres.) Cyril (Ramaphosa) gaan só teleurgesteld in my wees.”

Dít was een van Jackson Mthembu, minister in die presidensie, se grootste bekommernis ure voordat hy die afgelope Donderdag aan Covid-19-verwante oorsake in die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg oorlede is.

Suster Mavis Mahlakoane, wat na hom omgesien het, het dit Sondag op ’n emosionele staatsbegrafnis vir Mthembu (62) in sy tuisdorp Emalahleni (Witbank) in Mpumalanga gesê.

Mahlakoane is ook deur Thembi Mthembu, Mthembu se weduwee, versoek om háár huldeblyk aan haar man aan die begrafnisgangers in die Sacred Heart Rooms-Katolieke kerk naby Mthembu se huis in die Ackerville-township voor te lees.

Ramaphosa en ander hooggeplaastes, onder wie adj.pres. David Mabuza, Gwede Mantashe, ANC-voorsitter en minister van minerale bronne en energie, Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering, en Pemmy Majodina, Mthembu se opvolger as ANC-hoofsweep, het die begrafnisdiens en ter aarde bestelling bygewoon wat in die reënweer plaasgevind het.

Weens die inperkingsregulasies kon slegs 50 mense die byeenkoms bywoon.

Mahlakoane het vertel hoe Mthembu die Dinsdag voor sy dood in die Milpark-hospitaal opgeneem is en hoe “kalm sy siel” en nederig hy daartydens was.

Die Woensdagmiddag het hy haar versoek om sy telefoon vir hom aan te gee omdat hy “sy ware vriend” wou bel.

Dit was glo Ramaphosa wat hom “beter as enigiemand verstaan”.

Omstreeks 18:45 die Woensdag het Mahlakoane aan Mthembu gesê dat haar skof verby is.

“Hy het my bedank. Hy het my hand vasgehou en gesê dat ek vroeër saam met hom en sy vrou gebid het. ‘Kan jy asseblief vir my bid’,” het hy haar toe versoek, wat sy gedoen het.

Die Donderdag met haar terugkeer wou sy hom gaan groet omdat sy toe na ’n ander pasiënt moes gaan omsien.

“Hy het gesê dat die suurstof op sy gesig en in sy keel baie koud is. Ek het sy waslap warm gemaak en probeer om sy gesig warm te maak. Hy het baie dankie gesê.”

Sy sê sy het ook ’n koppie swart rooibostee vir hom gemaak.

“Op daardie oomblik het hy weer na sy foon gevra. Hy het weer gesê: ‘Cyril gaan so teleurgesteld wees’. Ek het steeds nie verstaan wat hy bedoel nie.

“Hy het weer baie kalm gesê die suurstof is koud.”

Volgens Mahlakoane het sy daarna haar toesighouer en die dokters daaroor ingelig.

’n Dokter wou hom toe aan ’n suurstofmasker koppel, maar hy het geweier omdat dit “ongemaklik” is. Hy het wel ingestem dat ’n pyp in sy keel geplaas word vir asemhaling.

Volgens haar is dr. Kgopotso Mononyane, ’n narkotiseur, ook ingeroep om Mthembu te help behandel. Hy het toe gesê dat hy haastig is omdat hulle ’n pasiënt in KwaZulu-Natal met ’n Netcare-lugambulans moet gaan haal.

Mononyane was Donderdagmiddag deel van ’n spesialisspan van vier, asook die vlieënier, wat gesterf het toe die mediese helikopter waarmee hulle gevlieg het, naby Bergville neergestort het.

Mahlakoane het verder vertel hoe dokters alles moontlik gedoen het om Mthembu se lewe te red, maar dat hy net swakker geword en omstreeks 13:20 Donderdag gesterf het.

Mahlakoane het namens Mthembu se weduwee ’n emosionele boodskap voorgelees waarin laasgenoemde onder meer gesê dat sy altyd haar man se “grappe sal onthou”.

“Jy sal altyd deel van my bly. Ek sal altyd lief wees vir jou, my mooi, aantreklike man soos hulle sê jy jouself genoem het. Mooi loop Mvelase (sy stamnaam).”

Intussen het ’n duidelik emosionele Ramaphosa in sy lofrede Mthembu as “sowel ’n betroubare kollega en kameraad, as ’n liewe vriend” beskryf wat hom daagliks gebel het.

“Hy het die innemende vermoë gehad om my bui ligter te maak en my vasbeslotenheid, selfs in die moeilikste situasie, te versterk.

Volgens Ramaphosa was Mthembu “ ’n vriendelike en sagmoedige siel”, maar sy “ander kant” is ook gesien wanneer dit by korrupsie, selfdienende leierskap en skaamtelose misbruik van mag gekom het, wat hy nie kon verduur nie.

Ramaphosa het gesê Mthembu, wat tot sy dood die regering se “gesig en stem” tydens die pandemie was, se lewe was vol betekenis en prestasies in die wyse waarop hy homself toegewy het om die mense van Suid-Afrika te dien.



Mthembu se kinders se hartroerende boodskap aan hom:

’n Emosionele Thuli Mthembu, dogter van Jackson Mthembu, het tydens die begrafnisdiens namens al sy kinders en “almal vir wie hy ’n vaderfiguur was”, gesê dat dit geen verrassing was dat daar ná sy dood hordes foto’s en video’s van ’n laggende en dansende Mthembu die ronde gedoen het nie, “omdat dit letterlik al is wat hy gedoen het”.

“Hy het vreugde en lag sy daaglikse brood gemaak. Dit het in hierdie moeilike tye glimlagte op ons gesigte gesit, siende dat Suid-Afrika hom ook so gesien het.”

Sy het in trane gesê dat hy in sy lewe so baie in verskeie sfere bereik het, maar “Pappa, óns het altyd soos jou3

grootste prestasies gevoel”.

“Jy het ons geleer dat harde werk en nederigheid saamgaan. Ek is hartseer dat jy nie dit alles aan ons kinders sal kan leer nie. Dat die mylpale wat nog moet kom, bevlek is deur die werklikheid dat jy nie daar sal wees nie.”

Volgens haar laat Mthembu egter sy grootste geskenk agter: sy kinders.


Meer oor:  Jackson Mthembu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.