Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
CR ‘gebruik’ dat Eskom hoes vir steenkool, hoor Zondo

Aandele wat pres. Cyril Ramaphosa saam met die Glencore-mynmaatskappy gehad het, kon as ’n sleutel-onderhandelingstrategie gebruik word om Eskom te dwing om duurder vir steenkool te betaal.

Dít was Dinsdag die aantyging van Brian Molefe, voormalige uitvoerende hoof van Eskom, in sy getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping.

Molefe het aangevoer Glencore wou sy prys vir steenkool van die Optimum-steenkoolmyn, wat aan die Hendrina-kragstasie in Mpumalanga steenkool gelewer het, opstoot van R150 per ton tot R530 per ton.

“Mense jaag vrees aan met beurtkrag en gee die tekort aan steenkool die skuld. Dan dreig hulle Eskom indien Eskom nie aan hul vereistes wil voldoen nie en sê daar gaan verwoestende gevolge wees,” het Molefe getuig.

Brian Molefe getuig Dinsdag voor die Zondo-kommissie. Foto: Skermgreep

Maar hy sê Glencore het nog ’n taktiek gehad wat hy kon gebruik indien die vrese van beurtkrag nie die gewenste uitwerking sou hê nie.

“Sy prys het nie meer gegaan oor die koste om steenkool te myn nie; hy het gespekuleer. Hy het geweet as hy spekuleer en verloor, sou hy kon onderhandel.

“Maar wat as hy kon onderhandel, wat sou sy sleutelpunt van onderhandeling wees? Daarom sê ek dit wys na Ramaphosa,” het Molefe getuig.

Hy het verwys na die tydperk toe hy as uitvoerende hoof van Eskom geweier het om verder met die Glencore-mynmaatskappy te onderhandel oor die prys van steenkool vanaf die Optimum-myn.

Molefe het, soos met sy getuienis voor die kommissie op 15 Januarie, gesê Glencore het aan Ramaphosa aandele in die Optimum-myn gegee vir ’n rede – sodat sy naam gebruik kon word toe Glencore vir duurder steenkoolpryse met Eskom onderhandel het.

Molefe het toe getuig dat Glencore ’n 9,64%-belang in die Optimum-myn aan Ramaphosa gegee en hom die voorsitter van ’n nuwe maatskappy gemaak het wat die myn gekoop het, wetende dat hy ’n politieke swaargewig en lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee is.

Volgens Molefe wou Glencore die prys vir die verskaffing van steenkool aan die Hendrina-myn van R150 per ton tot R530 verhoog, maar hy het geweier.

Glencore het ’n wins gemaak vir sy beleggers deur steenkool van Suid-Afrika uit te voer, maar toe die internasionale steenkoolprys skerp val, wou Glencore sy verliese opmaak deur Eskom in ’n wurggreep te plaas.

Volgens Molefe is hy in onderhandelings deur Glencore gedreig dat die verskaffing van steenkool van die Optimum-myn aan Hendrina gestaak sal word.

“Noudat dit swaar gegaan het (weens die swak uitvoerprys vir steenkool), het hulle verwag Eskom moet daarvoor betaal. Dit is onregverdig. Hulle het dit self veroorsaak,” het Molefe getuig.

Hy het gesê Suid-Afrika het 400 jaar se steenkoolreserwes “wat God daar onder die grond geplaas het”. Eintlik behoort Eskom nie eens vir steenkool te betaal nie, maar by mense word vrees ingeboesem oor ’n tekort aan steenkool en beurtkrag sodat mynmaatskappye hul pryse kan opjaag.

Volgens Molefe is daar ’n geskiedenis in die mynbedryf oor steenkool, wat “die grootste rooftog was wat nóg gebeur het”.

Hulle het vrees gebruik as onderhandelingstaktiek en dit was ’n goeie strategie om te sê die verskaffing van steenkool gaan gestaak word.

Eskom het die geld gegee sodat steenkoolmyne op die been gebring kon word om steenkool eksklusief aan hom te verskaf ingevolge ’n kontrak van 40 jaar. Die oorspronklike ooreenkoms was dat die steenkool aan Eskom verskaf word en aan niemand anders nie.

“Toe word alles omgekeer en die myne onderhandel om hul steenkool te kon uitvoer. Eskom het ja gesê en hulle het die steenkool uitgevoer. Hulle het ’n klomp geld gemaak, maar toe die internasionale steenkoolprys val, wou hulle nie meer uitvoer nie,” volgens Molefe.

Hy het aangevoer dat Glencore verwag het Eskom moet namens hulle die prys betaal vir daardie besluit.

“Hulle het vrees gebruik as onderhandelingstaktiek en dit was ’n goeie strategie om te sê die verskaffing van steenkool gaan gestaak word,” volgens Molefe.

Hy sê die Guptas het onderhandel om die Optimum-myn oor te neem en dit is gebruik as ’n “meesterlike plan” waarin Eskom daarvan beskuldig is dat hy met die Guptas saamwerk.

“Daar was ’n ongekende mediaveldtog om ons name deur die modder te sleep as mense wat deur die Guptas beheer word. Enige stukkie inligting is teen ons gebruik,” volgens Molefe.

Hy het gesê daar was aantygings dat Eskom vir Glencore gedwing het om die myn aan die Guptas te verkoop. “Hulle het die myn aan die Guptas verkoop. Ek het hulle nie gedwing nie. Hulle het dit uit hul eie gedoen,” het Molefe gesê.

• Ramaphosa het in Januarie ná die eerste aantyging deur Molefe ontken dat hy aandele van Glencore ontvang het in ruil daarvoor om die belange van Glencore ten koste van Eskom te bevorder.

Hy het toe weer gesê dat hy voor die kommissie sal verskyn om sy kant van die saak te stel.

Adv. Pule Seleka SC, getuienisleier van die kommissie, het dit aan Molefe gestel dat Clinton Ephron van Glencore op 11 Februarie vanjaar 'n beëdigde verklaring afgelê en gesê het Ramaphosa was nie betrokke by die dag-tot-dag-bestuur van Optimum Coal Mine of Optimum Coal Holdings nie. Hy was ook nooit die voorsitter van een van die twee nie. Molefe het hierop gesê hy het in ‘n tydskrif oor die mynwese gelees Ramaphosa was ‘n voorsitter.

Zondo het gevra of Molefe aanvoer dat Ramaphosa self iets verkeerds gedoen het of gesit het agter iets wat verkeerd gedoen is.

Molefe het gesê wat hy aangevoer het, is dat dit baie vreemd was en dat hy gesê het hulle (Glencore) het gehoop om Ramaphosa se invloed te gebruik om hulle te help onderhandel.



Meer oor:  Eskom  |  Brian Molefe  |  Steenkool  |  Betaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.