Pres. Cyril Ramaphosa het “omvattend en substantief” gereageer op adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), se ondersoek na die omstrede R500 000-skenking van Gavin Watson, uitvoerende hoof van Bosasa, aan sy 2017-veldtog om die ANC-president te word.
Khusela Diko, woordvoerder vir die presidensie, het Woensdagaand gesê Ramaphosa se respons sluit ’n aantal bevestigende beëdigde verklarings, sowel as ander stawende dokumente in.

President Cyril Ramaphosa (GCIS)
Siyabulela Duda
“Die president glo dit sal help om hierdie saak tot ’n spoedige resolusie te bring en het weer eens beklemtoon dat daar absoluut geen gronde is waarop enige kwaaddoenery aan hom toegeskryf kan word nie,” sê Diko.
Volgens Diko glo Ramaphosa sy respons sal die nodige feite aan die openbare beskermer oordra. Ramaphosa het sy respek vir die OB se kantoor bevestig en weer eens beklemtoon dat hy sy volle samewerking met die ondersoek sal gee.
Gwede Mantashe, ANC-voorsitter, het Donderdag op ’n impromptu media-inligtingsessie aan die kantlyn van die Nehawu-beleidskonferensie oos van Johannesburg sy kommer uitgespreek oor die OB se besluit om die saak verder te ondersoek.
Volgens Mantashe kry hy van tyd tot tyd die indruk dat Mkhwebane haarself in die politiek begewe.
“Die (openbare beskermer) is ’n (hoofstuk) nege-instelling. As die instelling die wet oortree, moet dit formeel aandag kry en gesprek daarmee gevoer word.
“Daar is tye dat ’n mens dink sy beset ’n politieke ruimte wat nie aan haar behoort nie, maar jy moet ’n manier vind om dit te hanteer. Dit is waarom ons in die politiek is,” het Mantashe gesê.
Sy uitlatings kom ’n dag nadat Solly Mapaila, tweede adjunkhoofsekretaris van die SAKP, beweer het Mkhwebane is ’n “huursoldaat”.
Volgens Mapaila word Mkhwebane se kantoor gebruik om individue te delegitimiseer en is sake wat sy ondersoek morele kwessies eerder as misdade.
* Mantashe het ook die geldigheid bevraagteken van Mkhwebane se ondersoek na die beweerde geldwassery tydens Ramaphosa se veldtog om ANC-president te word.