Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril gelooi oor grond-aankondiging

Pres. Cyril Ramaphosa loop onder skerp kritiek deur oor sy aankondiging dat hy voortgaan met sy planne om art. 25 van die Grondwet te wysig om onteiening sonder vergoeding moontlik te maak.

Roy Jankielsohn van die DA het op Facebook gesê Ramaphosa het sy aankondiging “soos ’n dief in die nag gedoen”. Dit sal Suid-Afrikaners se werk en die kos van hul tafels af steel.

Bennie van Zyl van die Transvaalse Landbou-unie (TLU) sê hy is bekommerd, maar nie verbaas nie.

“Die parlementêre proses is nog nie afgehandel nie en nou maak hy dié aankondiging. So wat was dan die doel van die openbare vergaderings?”

Die geskiedenis wys dat internasionale beleggers, ongeag wat AfriForum of enigiemand anders sê, nie bereid is om in ’n land te belê waar eiendomsreg nie beskerm word nie.

Louis Meintjes, president van die TLU, sê die wending in die regeringsbeleid “dwing boere en landbou-ondernemings wat vir voedselsekerheid, waardevolle buitelandse valuta, asook stabiliteit en werkverskaffing op die platteland sorg, om ernstig oor die toekoms te herbesin.”

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê die aankondiging maak ’n klug van die openbare vergaderings wat oor die land heen gehou word. Ramaphosa en die ANC sê hiermee dat hulle die Grondwet – ongeag die aanbeveling van die grondwethersieningskomitee – gaan wysig.

Die VF Plus gaan ’n klag by die Verenigde Nasies (VN) se menseregtekommissie indien oor die oortreding van art. 16 van die VN se handves van menseregte wat private eiendomsbesit beskerm en onteiening sonder vergoeding verbied.

Dan Kriek, president van AgriSA, sê die aankondiging ondermyn die proses van openbare vergaderings wat aan die gang is. Suid-Afrika het meer swart boere en meer swart plase nodig. Veranderings aan die Grondwet en onteiening sonder vergoeding is goed vir ’n verkiesingsveldtog, maar dit kweek nie meer swart boere nie.

AfriForum het buitelandse beleggers Woensdag in ’n videoboodskap gevra om druk op die Suid-Afrikaanse regering te plaas om af te sien van sy planne om eiendom sonder vergoeding te onteien.

“Die geskiedenis wys dat internasionale beleggers, ongeag wat AfriForum of enigiemand anders sê, nie bereid is om in ’n land te belê waar eiendomsreg nie beskerm word nie. Daarom is internasionale druk nóú nodig om te voorkom dat beleggers afgeskrik word,” het Kallie Kriel, hoof van AfriForum, gesê.

Die bestuur van die African Farmers Association (Afasa) was Woensdag in vergaderings en sal eers Donderdag kommentaar oor Ramaphosa se aankondiging lewer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.