Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril ‘geskok’ nadat Ace hóm ‘skors’

Pres. Cyril Ramaphosa was “geskok” om te hoor dat Ace Magashule, geskorste sekretaris-generaal van die ANC, hóm ook uit die ANC “geskors” het.

Ramaphosa het dit Donderdagoggend volgens ’n ingeligte bron aan ANC-LP’s gesê toe hy die party se parlementêre koukus toegespreek het kort voordat hy Donderdagmiddag vrae in die parlement sal beantwoord.

Volgens die bron is LP’s ingelig dat die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) die kwessie van die oor-en-weer-skorsings die komende naweek op sy vergadering sal bespreek.

Pres. Cyril Ramaphosa

Dit volg ná ’n nag van hoogdrama Woensdag in die ANC waar Magashule kort ná sy eie tydelike skorsing ook vir Ramaphosa in twee uitgelekte dokumente “geskors” het. Die ANC het dit weens hierdie bisarre verloop van sake Woensdagaand duidelik gemaak dat Magashule nié die mag het om enigiemand uit die party te skors nie en dat die skorsing van Magashule staan.

Magashule en ander ANC-lede is Woensdag per brief van hul tydelike skorsing ingelig nadat hulle tot die bitter einde geweier het om hul poste ná ’n tydperk van 30 dae vrywillig te ontruim omdat hulle op aanklagte van korrupsie en ander ernstige misdade in ’n hof teregstaan.

Die bron het verder gesê dat die vergadering van die ANC-koukus – wat self tussen ondersteuners van Ramaphosa en Magashule verdeel is – “baie gespanne was”.

“Jy kon die bui aanvoel. Die president het net ’n kort toespraak gelewer. Geen vrae of kommentaar is toegelaat nie.”

Daar is gerugte dat Magashule die media later Donderdag oor sy politieke lot sal toespreek.

Intussen sê die ANC-alliansievennoot Sanco in die Vrystaat, Magashule se tuisprovinsie, dat hy onmiddellik moet appelleer teen sy skorsing. “As dit nie help nie, moet hy sy skorsing in ’n hof gaan betwis,” het Gift Poli, woordvoerder vir Sanco in die Vrystaat, Donderdag gesê.

“Dit is omdat die opsystaan-klousule die Magashule-klousule is wat hom spesifiek teiken, net soos die owerhede tydens die apartheidsera die Sobukwe-klousule geskep het. Magashule word geteiken deur gehuurde elemente in die ANC wat witmonopoliekapitaal bevorder,” het Poli bygevoeg.

Tony Yengeni, senior lid van die NUK en nasionale werkkomitee (NWK), het Donderdag ook aan NewzRoom Afrika gesê dat hy met Magashule saamstem dat laasgenoemde se tydelike skorsing onwettig is.

Ace Magashule Foto: Daily Sun

Yengeni is saam met Magashule een van die leiersfigure van die faksie vir radikale ekonomiese transformasie (RET) in die ANC.

“Ek was verras toe ek (Woensdag van Magashule se) skorsingsbrief hoor. Daar was op die laaste vergadering van die NWK nooit ’n bespreking oor wie die skorsingsbriewe moet uitstuur nie.

“Dit is abnormaal omdat die sekretaris-generaal die amptenaar is wat met lede en strukture van die organisasie kommunikeer. Dit is duidelik uiteengesit in ons grondwet. Daarom glo hy dat daardie verantwoordelikheid by hom lê.”

• Dit is ’n ontwikkelende berig.

Meer oor:  Anc  |  Pres. Cyril Ramaphosa  |  Ace Magashule
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.