Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril glo ook hof toe oor Mkhwebane se verslag

Pres. Cyril Ramaphosa het Maandag na bewering hofdokumente teen Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), ingedien, berig Mail & Guardian.

Ramaphosa wil glo hê die hof moet verklaar dat hy gehoor gegee het aan die OB se versoek dat hy remediërende stappe doen teen Pravin Gordhan wat die pensioenuitbetaling van Ivan Pillay, voormalige adjunkhoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), betref.

Mkhwebane het in haar verslag bevind dat 'n vroeë uitbetaling van Pillay se pensioen, toe Gordhan nog minister van finansies was, onreëlmatig was.

Mail & Guardian berig dat Ramaphosa in sy beëdigde verklaring aandui dat hy gehoor gee aan die OB se verslag omdat die gepaste dissiplinêre optrede aan sy diskresie oorgelaat word. Hy het besluit om daarmee te wag totdat Gordhan en Mkhwebane se hofstryd afgehandel is.

Gordhan se hofaansoek is om te keer dat Mkhwebane se aanbevelings in werking gestel word wat sy in die verslag aanbeveel oor die eertydse geheime ondersoekeenheid by die SAID.

Pillay het in 'n verklaring van 110 bladsye aangedui dat hy Gordhan se aansoek steun. Hy verduidelik die OB-verslag impliseer hom by wangedrag, wanadministrasie en misdaad. Luidens die verslag was hy betrokke by onreëlmatige en onwettige intelligensiebedrywighede, hy het die geheime ondersoekeenheid by die SAID bestuur, en hy het regstreeks aan Gordhan verslag gedoen toe Gordhan nog die kommissaris van die SAID was.

Pillay het bevestig hy staan steeds by die inhoud van die twee verklarings wat hy gemaak het tydens die OB se aanvanklike ondersoek. Hy sê dit bekommer hom geweldig dat die OB min of geen ag op die bewyse in sy verklarings geslaan het nie.

Ramaphosa se verklaring kom nadat korrespondensie tussen hom en die OB glo gespanne geraak het en volgens Mail en Guardian nadat die OB hom glo gedreig het dat hy op 'n "konstitusionele krisis" afstuur oor hoe hy haar kantoor se aanbevelings hanteer.

Ramaphosa het glo in sy verklaring aangedui dat hy nie tevrede is met hoe die OB vir hom probeer sê wat om te doen en hom swartsmeer nie.

Die OB het in haar verslag bevind Gordhan het onreëlmatige uitbetalings goedgekeur en het Ramaphosa gemaan om teen Gordhan op te tree.

Gordhan het egter op sy beurt die saak hof toe geneem, wat die president genoop het om vir die uitkoms vir die hofsaak te wag voordat hy teen Gordhan optree.

Volgens Mail & Guardian sê Ramaphosa glo in sy hofaansoek dat dit betreurenswaardig is dat hy hom hieroor tot die hof moet wend.

Khusela Diko, Ramaphosa se woordvoerder, het nie onmiddellik op 'n versoek om kommentaar gereageer nie.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Ob
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.