Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril goed keelvol vir swak diens aan publiek

Dit is onaanvaarbaar dat Suid-Afrikaanse howe se tyd en geld gemors word deur plaaslike, provinsiale en nasionale staatsdepartemente wat nie hul plig teenoor die land se burgers nakom nie.

So het pres. Cyril Ramaphosa gesê toe hy Vrydag die nuwe Mpumalanga-hooggeregshof in Mbombela (Nelspruit) amptelik geopen het.

Pres. Cyril Ramaphosa knip Vrydag die lint by die amptelike opening van die nuwe hooggeregshof in Mbombela (Nelspruit). By hom is Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste.Foto: Presidensie

“In ’n tyd dat die staat se beursie leeg is, mag dit nie gebeur dat eise teen die staat die hoogte inskiet nie – veral nie wanneer dit eise weens mediese nalatigheid deur ons openbare gesondheidsinstellings, of teen die polisie is nie,” het die president gesê.

“Dit plaas baie druk op die nasionale en provinsiale begrotings.”

Ramaphosa het gesê die situasie word vererger deur die optrede van “roofsugte regsfirmas” wat mense uitbuit en die grootste gedeelte van die uitbetalings in hul sakke steek.

Ramaphosa het in sy toespraak gesê hy is moeg vir munisipale bestuurders en provinsiale en nasionale staatsdepartemente wat dienstebegrotings terughou of op ’n bedrieglike wyse bestee.

“Ons is moeg vir die veragtelike houding van sommiges wat die publiek met arrogansie behandel wanneer hulle op hul regte aandring. En dan die vermetelheid het om te sê: ‘As jy nie daarvan hou nie, neem my hof toe.’ Genoeg is genoeg,” het Ramaphosa, self ’n regsgeleerde, gesê.

“Wat kan gedoen word aan dié kommerwekkende neiging? Die antwoord is eenvoudig: Ons munisipaliteite en staatsdepartemente móét hul werk doen.

“Hulle moet regeringsbesluite in werking stel, hul begrotings omsigtig bestuur en behoorlike diens lewer aan al die land se mense wat daarop geregtig is.”

Die nuwe hooggeregshof in Mbombela (Nelspruit).Foto: Presidensie

Dié mense moet hul werk doen sonder om deur die howe aangesê te word om dit te doen. Dié dienste moet gehaltediens wees en ons mense se waardigheid eerbiedig.

“En waar hofbevele teen hulle uitgereik word, moet hulle daaraan voldoen. Gebeur dit nie, verloor die publiek vertroue in die eerbaarheid van die regstelsel. Dit ondermyn ook die oppergesag van die reg.

“Deur die regering se distriksgegronde ontwikkelingsmodel wil ons die verantwoordbaarheid en oorsig van die inwerkingstelling van regeringsprogramme versterk,” het Ramaphosa gesê.

“Die invloed van dié hof moet veel wyer strek as die mooi gebou. Dit moet elke man, vrou en kind in dié provinsie bemagtig.

“Die hof moet ’n baken van hoop wees vir almal wat onder vooroordeel, viktimisasie, ongeregtigheid of skade gely het.”

Die hofgebou sou aanvanklik sowat R600 miljoen gekos het, maar belastingbetalers moes uiteindelik R1,1 miljard opdok vir die gebou wat drie jaar langer geneem het om te voltooi as wat aanvanklik beplan is.

Die spesiale ondersoekeenheid (SOE) ondersoek tans die redes hiervoor in opdrag van die president, het Laevelder vroeër berig.

Die nuwe hof het op 1 Mei vanjaar sy deure geopen. Hy het drie permanente regters en twee waarnemende regters.

Mpumalanga het ook ’n hooggeregshof in Middelburg. Dit het die druk op die hooggeregshof in Pretoria verlig.

Die nuwe hof in Mbombela het 12 hofsale, waarvan vyf op die oomblik in gebruik is – drie vir siviele sake en twee vir strafsake.

Dit maak ook voorsiening vir ’n grondeise- en arbeidshof.

Mpumalanga is die laaste van die nege provinsies wat ’n eie hooggeregshof gekry het.

Meer oor:  Pres. Cyril Ramaphosa  |  Dienslewering  |  Staatskuld  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.