Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril haal dalk wind uit teenstanders se seile

Pres. Cyril Ramaphosa is vasbeslote om korrupsie in die ANC uit te roei en het genoeg steun om te verklaar: “Tot hiertoe en nie verder nie.”

Só sê oudminister Roelf Meyer wat meen die president het nou die punt bereik waar hy genoeg steun in die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK), asook die burgerlike samelewing het, om ’n streep in die sand te trek ondanks die aanslae teen hom.

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Argief

Meyer en Ramaphosa is welbekende vriende en was die NP en ANC se hoofonderhandelaars by Kodesa.

Die regerende party se NUK het die naweek ’n virtuele vergadering gehou waar onder meer korrupsie in partygeledere bespreek is.

Ramaphosa se teenstanders het sy geloofwaardigheid aangeval en hom onder meer daarvan beskuldig dat hy stemme gekoop het.

Bronne het intussen aan Netwerk24 bevestig dat die president bereid is om homself aan die ANC se integriteitskommissie te onderwerp.

Dit het glo die wind uit sy teenstanders se seile gehaal.

Dit alles kom nadat Ramaphosa verlede Sondag in ’n interne brief aan ANC-lede gesê het die ANC staan as “beskuldigde nommer een” in die beskuldigdebank wat korrupsie betref.

Ramaphosa trek streep in die sand

“Met die brief van verlede Sondag lyk dit asof hy (die president) bereid is om ’n streep te trek en te sê tot hiertoe en nie verder nie.”

Volgens Meyer was die president die afgelope twee jaar versigtig om mense nie onnodig om te krap nie, maar dit lyk of hy nou selfversekerd genoeg is om sy standpunte deur te voer.

Oudminister Roelf Meyer. Foto: Jaco Marais

Ramaphosa se teenstanders in sy eie party het die mes in vir hom.

Tony Yengeni, ’n NUK-lid, het Ramaphosa volgens News24 Vrydag getakel op ’n aanlyn vergadering van die werkkomitee wat die NUK-vergadering voorafgegaan het.

Yengeni, wat al tronkstraf vir bedrog uitgedien het, het volgens bronne gesê Ramaphosa moet sy eie raad volg en uit sy amp tree omdat hy daarvan beskuldig word dat hy stemme by die ANC se Nasrec-konferensie gekoop het.

Boonop het oudpres. Jacob Zuma in ’n striemende brief aan Ramaphosa gesê: “Meneer die president, dit het jou kenmerk geword sedert die 54ste nasionale konferensie (in 2017 by Nasrec) om die aandag van bewerings teen jou af te lei eerder as om hulle aan te pak en jou naam in ere te herstel . . . jy word tans daarvan beskuldig dat jy byna R1 miljard in skenkings van witmonopoliekapitaal gekry het, net om ’n interne ANC-stryd te wen.”

Zuma beskuldig Ramaphosa ook daarvan dat hy die rekords oor die skenkings met die hulp van die hooggeregshof in Pretoria geseël het sodat gewone ANC-lede nooit kan weet wie hulle is nie.

Teenstanders dalk ‘ontwapen’

Die bewerings teen Ramaphosa het betrekking op sy CR17-veldtog om as die ANC-leier verkies te word, en wie dit finansieel gesteun het.

Oudpres. Jacob Zuma. Foto: Argief

Andile Lungisa, voormalige adjunkpresident van die ANC-jeugliga, het vroeër die party se integriteitskommissie versoek om die CR17-veldtog te ondersoek.

Ramaphosa het in die verlede ontken dat daar enige ongerymdhede met sy veldtog was.

“As ’n mens kyk van wie af die reaksie kom, is dit duidelik waar die weerstand lê,” sê Meyer.

Qaanitah Hunter van News24 het Saterdagaand berig Ramaphosa het aan die ANC se NUK gesê hy het reeds die integriteitskommissie genader om verantwoording vir sy omstrede CR17-veldtog te doen. Dit het skynbaar sy mees uitgesproke teenstanders “ontwapen”.

‘Skuldiges hoort agter tralies’

Die vakbond Nehawu het Saterdag gesê die ANC se NUK moet ná die naweek met duidelike planne vorendag kom oor hoe hy korrupsie gaan uitwis.

“Ons soek die skuldiges agter tralies,” het Zola Saphetha, hoofsekretaris van Nehawu, gesê.

Zola Saphetha, sekretaris van Nehawu. Foto: Jabu Kumalo/Daily Sun

Nehawu dreig tans met ’n landwye staking.

Intussen het Mzwandile Masina, uitvoerende burgemeester van die Ekurhuleni-metromunisipaliteit en streekvoorsitter van die ANC in Ekurhuleni, Saterdag voor die St. George-hotel by Irene vreedsaam betoog.

Die NUK-vergaderings word gewoonlik by die hotel gehou.

Masina het aan joernaliste gesê hy doen ’n beroep op sy mede-partylede om gehoor te gee aan die ANC se resolusie rakende korrupsie.

“As daar beskuldigings van korrupsie teen jou is, is die ANC se resolusie van die 54ste nasionale konferensie duidelik – dit sê jy moet die integriteitskomitee nader . . . dit sê as jou saak rakende korrupsie voor die howe is, moet jy terugstaan (van jou pos) totdat jou naam in ere herstel is.”

Hy het ’n plakkaat vasgehou waarop gestaan het: “ANC-lede het nie afgevaardiges gestuur om in die regering te steel nie!”

Toe Masina Saterdag gevra is oor Yengeni se beroep op Ramaphosa om van sy pos afstand te doen, het hy gesê daar “moet redes wees” hoekom Yengeni dit gedoen het, maar hy wag op die ANC-leierskap se terugvoering.

Masina het destyds gesê hy sou bedank as Ramaphosa op die ANC se Nasrec-konferensie tot partyleier verkies word, maar het dit toe nie gedoen nie.


Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Jacob Zuma  |  Roelf Meyer  |  Andile Lungisa  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.