Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Cyril hou aan swyg oor plaasmoorde’ – Pieter Groenewald

Pres. Cyril Ramaphosa se volgehoue stilte oor plaasmoorde in sy repliek op die debat op sy staatsrede wys hy gee nie om vir die veiligheid en welstand van boere en hul gesinne nie, sê dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier.

Dit was Woensdag Groenewald se reaksie nadat Ramaphosa sy repliek op Dinsdag se debat in die nasionale vergadering gelewer het.

Ramaphosa het in sy repliek in die algemeen oor misdaad gepraat en veral na bendegeweld en dwelmmisbruik verwys.

Dr. Pieter GroenewaldFoto: JACO MARAIS
Mmusi MaimaneFoto: JACO MARAIS
Dennis BloemFoto: VERSKAF

“Deel van die reaksie op bendes was om die bende-eenheid te skep. Hoekom stig hy nie ook ’n polisie-eenheid vir landelike veiligheid nie?” wou Groenewald weet.

“Boere het ’n grondwetlike reg om hulle en hul gesinne veilig te hou. Ek doen ’n beroep op hulle om in te skakel by veiligheidsorganisasies in hul gebiede om hulle te beveilig.”

Volgens Groenewald is nog ’n voorbeeld van Ramaphosa se gebrek aan omgee vir boere die feit dat hy wil “voortgaan met die onteiening van grond sonder vergoeding. Dit is nie goeie nuus vir die toekoms nie en voorspel groot probleme, hoewel hy sê wetgewing sal dit reguleer.”

Mmusi Maimane, DA-leier, sê Ramaphosa het weer eens misluk om die “moeilike besluite te neem en keuses te maak”.

“Die uiteindelike kwessie waaroor ons almal saamstem, is dat Suid-Afrika in ’n krisis is. Tien miljoen mense is werkloos. Ons moet werk skep en om dit te kan doen benodig ons doelbewuste hervormings.

“Jy kan Eskom meer geld gee, maar ons moet praat oor hoe volhoubaar Eskom se toekoms is. Ons moet metro’s toelaat om elektrisiteit regstreeks van onafhanklike produsente aan te koop.

“Jy kan van inwoners se veiligheid praat en meer polisiebeamptes ontplooi, maar om die polisie te hervorm moet ons provinsies meer magte daaroor gee.”

Volgens Dennis Bloem, Cope-woordvoerder, probeer Ramaphosa die land regruk. “Dit gaan nie maklik wees nie en dit gaan jare neem.

“Een droom wat hy egter nie noem nie, is die een waar die skelms wat die land bankrot gemaak het, nog nie in tronke is nie. Dit is die enigste manier om die land en die ekonomie reg te ruk.”

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, sê dit blyk Ramaphosa se staatsrede is “gebou uit ’n kompromis tussen die verskeie konflikte wat tans in die ANC heers”.

“Die meeste van die goed wat hy sê, se sukses of mislukking sal daarom lê by die manier hoe die prioriteite byvoorbeeld in werking gestel word.”

Volgens Duvenhage is hy egter bekommerd oor Ramaphosa se volgehoue standpunt dat daar deur die parlementêre proses voortgegaan sal word om onteiening van grond sonder vergoeding moontlik te maak.

“As jy ’n strategie wil skep om direkte oorsese beleggings te lok om die ekonomie te laat groei en werk te skep, is dit die verkeerdste ding om aan eiendomsregte te peuter.

“Dit stuur die verkeerde sein uit aan beleggers, want wie gaan wil belê in ’n omgewing van beleidsonsekerheid, kapasiteitsprobleme van die staat en populisme wat saamhang met die ANC se verkiesingsmandaat?”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.