Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Cyril is 2 dae vóór geweld daaroor gewaarsku’

Pres. Cyril Ramaphosa is volgens inligting tot sy beskikking twee dae voor die uitbreking van die geweldpleging in KwaZulu-Natal daaroor gewaarsku, sê die politieke wetenskaplike prof. André Duvenhage van die Noordwes-Universiteit.

Die teenwoordigheid van die weermag in KwaZulu-Natal het ’n groot rol gespeel om stabiliteit en orde na dié provinsie te bring. Dié foto is Maandag naby die hooggeregshof in Pietermaritzburg geneem. Foto: Isabel Venter

“Daar is skynbaar twee dae voor die tyd ’n intelligensieverslag aan hom geopenbaar. Hy was dus bewus van die risiko, maar ek vermoed hy het die risiko laer aangeslaan.

“Ek dink hy het nie verwag dit (die plundering en geweld) sou só ’n groot omvang hê nie.

“My inligting is die waarskuwing oor die onstabiliteit is ook binne komitees bespreek, sowel as binne ANC-verband,” sê Duvenhage.

Hy sê die inligting kom van ’n betroubare bron af.

“Of dit so is of nie, as hy (Ramaphosa) nie inligting ontvang het nie, is dit eintlik nog erger omdat dit beteken sy intelligensiemense het hom geheel en al in die steek gelaat.

“Dit beteken iewers is daar ’n probleem. Dit is ses van die een en ’n halfdosyn van die ander.

“Daar was dus waarskuwingseine, maar dit lyk of die president dit nie ‘gehoor’ het nie, of dit verkeerd ‘gelees’ het.

“Na albei kante toe bly dit problematies,” meen Duvenhage.

“Ramaphosa het ’n probleem, en dis ’n ernstige een. Dit lyk of sy veiligheidsomgewing hom nie ondersteun nie, óf hulle het nie ’n oor by hom nie.”

Daar was dus waarskuwingseine, maar dit lyk of die president dit nie ‘gehoor’ het nie, of dit verkeerd ‘gelees’ het.
Prof. André Duvenhage

Hy meen die geweldpleging en opstokery is goed beplan. “Hierdie hele ontploffing in KwaZulu-Natal kom nie van gister af nie. Jy kry nie hierdie tipe energie en organisasie oornag nie.”

Carl Niehaus, woordvoerder van die Umkhonto we Sizwe-militêre-veterane-vereniging (MKMVA), het Vrydag op ’n mediakonferensie van die #FreeJacobZuma-veldtog gesê die MKMVA het die ANC op 18 Augustus 2020 al gewaarsku daar sal politieke onstabiliteit wees as Zuma in hegtenis geneem sou word.

Ramaphosa het Vrydag gesê die regering is onkant gevang deur ’n “gekoördineerde en goed beplande aanval op Suid-Afrika se demokrasie”.

Opposisiepartye sê die land se intelligensiedienste is aan die slaap gevang.

Die politieke ontleder dr. Ralph Mathekga sê hy vermoed daar was weens probleme – soos ’n gebrek aan kapasiteit (in die Staatsveiligheidsagentskap) – nie die vermoë om op te merk daar was groot probleme op pad nie.

‘Vroeëwaarskuwing-stelsel het misluk’

Prof. Dirk Kotze, politieke wetenskaplike van Unisa, meen ook die probleem lê by die intelligensiedienste.

“Die groot doel van inligting is om jou te help om voorkomend te kan optree. Jy moenie eers as iets al plaasvind, uitwerk wat aan die gang is nie.

“Daar moet ’n vroeëwaarskuwing-stelsel wees waarin die gevaar vroegtydig geïdentifiseer kan word. Dit is dié heel belangrikste funksie van ’n intelligensiediens. En dit is wat in dié geval nie gebeur het nie” sê Kotze.

“As hulle (die Staatsveiligheidsagentskap) inligting gehad het, sou hulle die belhamels vooraf geïdentifiseer het. Hulle sou hulle toe al op grond van daardie inligting aangekeer het en nie op grond van wat daarna gebeur het nie.”

Daar moet ’n vroeëwaarskuwing-stelsel wees waarin die gevaar vroegtydig geïdentifiseer kan word.
Prof. Dirk Kotze

Kotze meen die situasie is onder beheer gebring danksy die ontplooiing van die weermag.

“Wat het ons vandag (Maandag) op televisie in Pietermaritzburg gesien? Buite die hooggeregshof het twee ratels gestaan. Dit is ’n demonstrasie van mag: Hulle doen nie veel nie, maar hul blote teenwoordigheid tel.

“Die boodskap wat dit uitstuur is eenvoudig: ‘As julle met ons probeer lol, het julle moeilikheid.’ ”

Duvenhage se kollega dr. Piet Croucamp sê hy weet nie of dit waar is dat Ramaphosa voor die tyd ’n verslag gekry het nie, maar hy sal eers die bewyse vir dié bewerings wil sien.

“Totdat iemand bewys lewer daarvan, het ek geen rede om dit te glo nie, veral nie in die konserwatiewe milieu waarin daardie bewering gemaak is nie,” sê Croucamp.

“Die beweringe sê eintlik Ramaphosa het ongrondwetlik opgetree. Met die aflê van sy ampseed het hy onderneem om die staat en die samelewing te beskerm teen die soort gedrag wat ons verlede week gesien het.

“Dit sou beteken hy het nie sy grondwetlike plig vervul nie.”

Tyrone Seale, Ramaphosa se woordvoerder, het nie gereageer op ’n versoek om kommentaar nie.

Christiaan du Plessis berig Khumbudzo Ntshavheni, waarnemende minister in die presidensie, het Maandagmiddag op ’n mediakonferensie in antwoord op ’n vraag of daar versuim is om op te tree toe ’n waarskuwingsverslag ontvang is, gesê daar is betyds opgetree. Sy het bygevoeg lesse is geleer en regstellende maatreëls sal ingestel word.

Volgens haar was daar geen bykomende inligting waarvolgens daar nie opgetree is nie.

  • Nog kommentaar is bygewerk sedert die berig aanvanklik verskyn het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.