Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril klap die sweep oor Ndabeni-Abrahams

Niemand in Suid-Afrika, veral nie ’n minister nie, sal toegelaat word om die nasionale poging te ondermyn om lewens te red te midde van die baie ernstige koronavirus-pandemie, sê pres. Cyril Ramaphosa.

Hy het dít Woensdagoggend duidelik gemaak toe hy in ’n verklaring aangekondig het dat hy Stella Ndabeni-Abrahams, minister van kommunikasie en digitale tegnologie, vir twee maande op spesiale verlof geplaas het. Een daarvan sal onbetaald wees.

Ndabeni-Abrahams moet ook ’n openbare verskoning aan die nasie bied.

Jackson Mthembu, minister in die presidensie, sal vir die volgende twee maande as minister in haar portefeulje waarneem.

Die optrede teen Ndabeni-Abrahams kom nadat foto’s van haar op sosialemediaplatforms verskyn het waar sy die afgelope Sondag saam met Mduduzi Manana, omstrede voormalige adjunkminister van hoër onderwys en opleiding, en ander mense middagete by sy huis geniet het te midde van die staat van inperking.

Stella Ndabeni-Abrahams is vir twee maande op spesiale verlof geplaas, waarvan een maand sonder betaling sal wees.Foto: SON

Dit het erge kritiek op sosiale media en onder politieke partye ontlok, veral omdat derduisende gewone Suid-Afrikaners in hegtenis geneem is weens oortredings van die inperkingsregulasies.

Ramaphosa sê in die verklaring Woensdagoggend die staat van inperking vereis dat alle Suid-Afrikaners absoluut aan die regulasies moet voldoen.

“Ministers dra ’n spesiale verantwoordelikheid om ’n voorbeeld te stel aan landsburgers, wat op hul beurt enorme opofferinge moet maak.

“Niemand van ons – veral nie ’n minister nie – moet ons nasionale poging ondermyn om lewens in ’n baie ernstige situasie te red nie. Ek is tevrede dat minister Ndabeni-Abrahams die erns van wat sy gedoen het, besef, asook die feit dat niemand bo die reg verhewe is nie.”

Manana het Dinsdag in sy eie verklaring beweer dat Ndabeni-Abrahams as deel van haar werksverpligtinge by hom was om materiaal wat hy vir die stryd teen die pandemie geskenk het, af te haal en dat sy toe saam met hulle middagete genuttig het.

Luidens die presidensie se verklaring het Ramaphosa Dinsdag met Ndabeni-Abrahams gepraat. “Die president het sy afkeuring teenoor die minister se optrede uitgespreek . . .

“Die president het die minister se verskoning vir die skending aanvaar, maar het ’n onversetlike standpunt ingeneem teen die versagtende redes wat sy aangebied het.

“Die president het die minister berispe en haar opdrag gegee om ’n openbare verskoning aan die nasie te bied,” lui die verklaring.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.