Pres. Cyril Ramaphosa vergader vanoggend met die presidensiële koördineringsraad (PKR), wat onder andere bestaan uit die land se nege premiers, en daarna met die kabinet.
Onder bespreking is die inperkingsmaatreëls wat nodig is in dele van die Oos- en Wes-Kaap, wat tans land se koronavirus-brandpunte is.
In die verlede het die PKR nog elke keer vergader in die week wanneer Ramaphosa die nasie toegespreek het.
Patricia de Lille, minister van openbare werke, het dit Woensdag in ’n sitting van die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare werke bevestig.
Phumla Williams, direkteur-generaal van regeringskommunikasie en inligtingstelsels, het ook bevestig die kabinet vergader vandag.
Die nasionale koronavirusbevelsraad het glo reeds Dinsdag vergader.
Alan Winde, Wes-Kaapse premier, het intussen gesê hy sal op die PKR-vergadering aanvoer dat ’n algehele inperking nie in die provinsie ingestel moet word nie, en dat spesifieke gelokaliseerde ingrypings gegrond op wetenskaplike bewyse eerder moet geld.
Hier is die inperkings wat Ramaphosa vandag oorweeg
Netwerk24 verneem dat 'n nuwe aandklokreël saans van 22:00 af ingestel gaan word op plekke wat as brandpunte beskou word.
Daar kom ook nuwe beperkings wat drankverkope oor naweke verbied.
Strenger maatreëls sal ook op saamtrekke geplaas word.
Ramaphosa sal die land na verwagting weer vanaand of Donderdagaand toespreek.