Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril kondig nood-aksieplan oor gendergeweld aan

’n Nood-aksieplan om gendergeweld daadwerklik te takel is Woensdag deur pres. Cyril Ramaphosa aangekondig.

As deel van dié plan, wat oor die volgende ses maande in werking gestel word, is ’n bykomende R1,1 miljard in die huidige boekjaar daarvoor bewillig.

President Cyril Ramaphosa
President Cyril Ramaphosa. Foto: Jaco Marais

Ramaphosa het Woensdag op ’n buitengewone gesamentlike sitting van die Nasionale Vergadering en die Nasionale Raad van Provinsies gesê Suid-Afrika is vir vroue een van die onveiligste lande ter wêreld om in te wees. Misdaad teen vroue hier is op vlakke wat vergelykbaar is met lande wat in ’n oorlog gewikkel is.

Vroue en ander aktiviste het die afgelope twee weke na onder meer die JSE en die parlement opgeruk om hul stemme te verhef oor gendergeweld. Hulle het onder meer geëis dat ’n noodtoestand afgekondig word.

Ramaphosa sê ’n nood-aksieplan is gegewe die dringendheid van die situasie vir die volgende ses maande ontwikkel.

Dit sluit in maatreëls oor hoe om gendergeweld te bekamp; die strafregstelsel te versterk, stappe om die regs- en beleidsraamwerk te versterk; stappe om genoegsame sorg en ondersteuning aan die slagoffers van geweld te verskaf, en maatreëls om die ekonomiese mag van vroue in Suid-Afrika te verbeter.

’n Tussentydse komitee wat in die presidensie gesetel is en waarvan die regering en burgerlike organisasies die medevoorsitters sal wees, sal die plan dryf.

As deel van voorkomingsmaatreëls sal ’n massaveldtog van stapel gestuur word wat gemik sal wees op gemeenskappe, openbare plekke, werkplekke, kampusse, skole en ontspanningsplekke soos tavernes.

Die fokus sal val op manlike groepe, jeugdiges en oortreders in tronke. Skole word ook betrek. “Vroue en gender-magsverhoudings sal deel vorm van lewensoriëntering in die skoolkurrikulum.”

Opleiding in gendersensitiwiteit sal ook as deel van die veldtog aan wetstoepassers, aanklaers, landdroste en beleidmakers verskaf word.

As deel van die versterking van die strafregstelsel sal hulpbronne herlei word om die funksionering van howe vir seksuele oortredings, Thuthuzela-sentrums en eenhede vir gesins-, kinder- en seksuele misdrywe te versterk.

Ons herbevestig ons posisie dat die staat borgtog moet teenstaan vir verdagtes wat aangekla word van verkragting van en moord op kinders. Diegene wat skuldig bevind word aan sulke misdade behoort nie vir parool in aanmerking te kom nie.

Finansiering is reeds goedgekeur vir ’n bykomende elf howe vir seksuele oortredings.

Maatreëls is in die departement van justisie onderweg om die agterstand in strafsake ten opsigte van verkragting en ander vorme van gendergeweld uit te wis. Dit sluit in die totstandkoming van spesiale howe, die aanstelling van bykomende hofpersoneel en om die agterstande by forensiese laboratoriums uit te wis.

’n Reeks regs- en regulatoriese hervormings sal ook aan die parlement voorgestel word om die staat se reaksie op gendergeweld te versterk.

“Ons sal die nodige wetswysigings aan die parlement voorlê om te verseker dat alle misdaad teen vroue en kinders swaarder minimum vonnisse sal lok. Verkragters, mishandelaars en moordenaars moet weet dat hulle aangekeer sal word en die gevolge van hul optrede sal dra.

“Ons herbevestig ons posisie dat die staat borgtog moet teenstaan vir verdagtes wat aangekla word van verkragting van en moord op kinders. Diegene wat skuldig bevind word aan sulke misdade behoort nie vir parool in aanmerking te kom nie. Lewenslange tronkstraf moet juis dít beteken – lewenslank in die tronk.”

Wat sorg en ondersteuning aan slagoffers betref, het Ramaphosa aangekondig dat die raamwerk vir die finansiering van burgerlike organisasies wat met die slagoffers van gendergeweld werk, gestandaardiseer sal word.

Opleiding oor gevalle van verkragting sal aan gesondheidswerkers en lekeberaders verskaf word.

Oor die ekonomiese bemagtiging van vroue het Ramaphosa gesê die regering is daartoe verbind om 30% van die waarde van sy aankope van sakeondernemings vir ondernemings wat deur vroue besit word, opsy te sit. Daar sal van alle staatsdepartemente vereis word om te voldoen aan beplanning, begrotings, monitering en evaluasie wat betref gendermisdaad.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.