Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Cyril konsolideer sy mag in ANC’
Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Elizabeth Sejake

Die konsolidering van pres. Cyril Ramaphosa se mag in die ANC.

Dít is volgens die politieke ontleder Theo Venter die betekenis van die “geskiedkundige” besluit van die ANC se nasionale werkkomitee (NWK) Maandag dat alle partylede wat in ’n hof weens korrupsie en ander ernstige misdaad teregstaan en weier om hul poste te ontruim, dadelik tydelik geskors moet word.

Dit sluit in Ace Magashule, sekretaris-generaal en Ramaphosa se grootste interne politieke teenstander.

Die besluit baan volgens Venter ook die weg vir Ramaphosa om volgende jaar vir ’n tweede termyn as ANC-president op die party se verkiesingskonferensie verkies te word.

“Ramaphosa se streep in die sand (teen korrupsie in die ANC) het nou ’n werklikheid geword.”

Volgens Venter moet teenstand, insluitende hofgedinge van Magashule en ander geïmpliseerdes, in die volgende paar dae verwag word.

Intussen het eNCA Dinsdag berig dat Mike Mabuyakhulu, adjunkvoorsitter van die ANC in KwaZulu-Natal en ’n Ramaphosa-ondersteuner, die eerste hoëprofiel-ANC-leier geword het wat sy pos vrywillig ontruim het.

Die NWK, waarvan Ramaphosa lid is, het Dinsdag verder in ’n verklaring gesê dat hulle in hul vergadering Maandag die vroeëre besluit van die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) oor die “opsystaan”-besluit herbevestig het.

Ramaphosa se streep in die sand (teen korrupsie in die ANC) het nou ’n werklikheid geword.

Die komitee het tydens sy vergadering verslae van die provinsies ontvang oor alle ANC-lede wat in howe teregstaan, die stand van die hofgedinge teen hulle, en wie reeds afgestaan het.

Diegene wat wel opsy gestaan het, moet die party maandeliks op die hoogte hou van die vordering met hul onderskeie hofsake, terwyl hul “opsystaan”-besluit elke ses maande hersien sal word.

Die NWK het ook opdrag gegee dat skorsingsbriewe dadelik aan betrokke ANC-lede gestuur word wat nie self opsy gestaan het nie.

Verskeie verslae van die party se integriteitskommissie sal luidens die NWK-verklaring ook op die NUK-vergadering die komende naweek bespreek word.

Intussen het Magashule self nog nie openlik aangedui of hy sy pos sal ontruim weens die “opsystaan”-besluit wat die verdeeldheid tussen sy faksie van radikale ekonomiese transformasie (RET) en Ramaphosa-ondersteuners in die ANC verskerp nie.

’n Ingeligte bron het Dinsdag egter gesê dat Magashule op ’n vergadering met Ramaphosa en die ander ANC-topsesleiers Sondag steeds gesê het dat hy nie self opsy sal staan nie.

Ace Magashule Foto: Daily Sun

Business Day het Dinsdag ook berig dat Ramaphosa op dieselfde vergadering die heelhartige steun van die ander topsesleiers gekry het om Magashule te dwing om sy pos onmiddellik te ontruim. Dít hangende die afhandeling van die hofsaak waarin hy tans op aanklagte van korrupsie, geldwassery en bedrog in die Vrystaat teregstaan.

Intussen het adv. Bongani Bongo, senior ANC-LP en ’n Magashule-ondersteuner wat ook sy pos weens korrupsie-aanklagte moet ontruim, Maandag gesê dat hy teen sy “opsystaan”-opdrag sal appelleer.

Pule Mabe, ANC-woordvoerder, het Dinsdagmiddag aan Newzroom Afrika gesê hoewel dit “ongelukkig” is dat Magashule self deur die NWK-besluit geraak word, het die kantoor van die sekretaris-generaal en die NUK die kapasiteit om die nodige “kommunikasie” aan hom en ander geraaktes oor die NWK-besluit te stuur.

Intussen het prof. Dirk Kotze, politieke ontleder van Unisa, Dinsdag se NWK-besluit as “ ’n belangrike mylpaal” beskryf “omdat dit die afdwinging van die opsystaan-besluit werklik bindend maak”.

Kotze meen die reaksie van die geraaktes daarop sal die volgende fokuspunt in dié ANC-sage wees.

“Wat ook interessant is, is dat daar in die verklaring ook nie verwys word dat die NWK-besluit eers na die NUK moet gaan nie.”

Volgens Kotze is daar egter ook geen interne appèlkanaal teen die opsystaan-besluit nie omdat dit ’n NUK-besluit is. “Al wat die geraakte persone dus kan doen, is om die besluit in ’n hof te laat hersien.”

Meer oor:  Cyril  |  Opsystaan  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.