Meer as 1 300 lede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) sal die polisie bystaan om misdaad in Wes-Kaapse gemeenskappe te help bekamp.
Hulle sal tot 16 September vanjaar ontplooi word teen ’n koste van sowat R23,3 miljoen.

Die brief van pres. Cyril Ramaphosa
Pres. Cyril Ramaphosa het Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering (NV), in ’n brief gedateer 17 Julie (Woensdag) van die ontplooiing van 1 320 lede van die SANW in die Wes-Kaap ingelig om saam met die polisie te werk vir die “voorkoming, bekamping, instandhouding en behoud van reg en orde”.
Lede van die SANW het Donderdag met hul eerste patrollies op die Kaapse Vlakte begin.
Ramaphosa se brief is Vrydag in die amptelike dokumentasie van die parlement – aankondigings, tertafelleggings en komiteeverslae – gepubliseer.
Die ontplooiing word volgens Ramaphosa ingevolge art. 202 van die Grondwet gedoen.
Hy dui in die brief aan dat die totale besteding van die ontplooiing na verwagting R23 391 351 sal beloop.
Dié brief kom nadat Ramaphosa Donderdag in die NV daarop gewys het dat hy as deel van ’n geïntegreerde benadering om die mees uiterste voorvalle van geweldsmisdaad te takel, die ontplooiing van die SANW goedgekeur het.
Hy sê lede van die SANW word ontplooi om die polisie te ondersteun om reg en orde in gemeenskappe te herstel wat “deur bendebedrywighede geterroriseer” word omdat lewens gered moet word.
Hy sê die SANW is nie die een van ouds “wat in townships ingegaan en jong mense as teikens gebruik het vir skietery” nie. In plaas daarvan is dit die weermag van ’n demokratiese Suid-Afrika wat by verskeie vredesendings op die vasteland betrokke was. Hierdie SANW het ook ’n kritieke rol in die ondersteuning van die polisie in soortgelyke misdaadbestrydingsoperasies gespeel, waaronder Operasie Fiela in Gauteng.