Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
KYK: Cyril looi rassisme ná chaos in parlement

Op ’n dag van drama waarop pres. Cyril Ramaposa onderneem het om sy kinders sélf tronk toe neem as hulle ooit by onwettighede betrokke is, het die humeure opgevlam en die vuiste in die Nasionale Vergadering (NV) geklap ná verwysings na ras.

Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Deaan Vivier, Argief

Ramaphosa, wat Dinsdagmiddag vrae in die NV beantwoord het, het hom agterna sterk uitgespreek teen rassisme en ’n beroep op LP’s gedoen om mekaar te respekteer.

Lede van die parlementêre beskermingsdienste moes tydens die sitting ingryp om ’n geveg tussen Nazier Paulsen, EFF-LP, en Andries Tlouamma, Agang-LP, stop te sit.

Dit was nadat Paulsen oor die banke gespring en op Tlouamma afgestorm het nadat hy gesê het niemand kan toegelaat word om te sê dat wit mense nie in die raadsaal mag praat nie.

Die twee het mekaar fisiek bygekom terwyl LP’s van die DA en EFF bontgestaan het om te keer.

Thoko Didiza, raadsvoorsitter, is genoop om die sitting ná die chaos vir vyf minute te verdaag.

Dié onderonsie is voorafgegaan deur ’n woordewisseling tussen John Steenhuisen, DA-hoofsweep, en Julius Malema, EFF-leier, nadat Steenhuisen – wat deur die EFF in die rede geval is – gevra het dat “die VBS-plunderaars” hom moet toelaat om klaar te praat. Die gort was hierna gaar, veral nadat die DA “pay back the money!” begin gedreunsing het.

LP’s van die twee partye het op mekaar geskel en Malema en ander EFF-LP’s het in die rigting van die DA-banke “rassiste! rassiste!” begin dreunsing.

Didiza het haar hande vol gehad het om die orde te herstel.

Daar moet nooit tye of geleentheid wees waar ons mekaar as wit, swart, ensovoorts sien en mekaar beledig nie.
Cyril Ramaphosa

Sy het later gesê sy sal haar Woensdag oor die gebeure uitspreek omdat verskeie parlementêre reëls oortree is. Die politieke partye se hoofswepe moet die aangeleentheid met haar bespreek, “want die uitlatings wat gemaak is, druis in teen ander se regte”.

Malema het in ’n stadium gesê hy sal hom nooit aan “witheid” onderwerp nie.

Ramaphosa het hom daarop sterk teen rassisme uitgespreek. “Daar moet nooit tye of geleentheid wees waar ons mekaar as wit, swart, ensovoorts sien en mekaar beledig nie.

“Ons kan nie teruggaan na daardie verskriklike verlede wat ons gehad het nie. Ons is ’n nierassige demokrasie en hoe pynlik dit ook al is – ons leef steeds met die pyn van wat apartheid gedoen het – kan ons nie toegee aan kru rassisme en die skeiding tussen onsself nie.

“Ons is Suid-Afrikaners wat verenig is in ons diversiteit. Dit is wat ons moet bevorder. Dit is dit wat ons sterker maak terwyl ons ons verskriklike nalatenskap hanteer,” het hy gesê.

As daar enige onwettighede of korrupsie is, sal ek die eerste een wees wat my kinders tronk toe sal neem.
Cyril Ramaphosa

Ramaphosa het vroeër in die sitting op ’n vraag van Mmusi Maimane, DA-leier, gesê hy sal die eerste een wees wat sy kinders tronk toe sal neem as hulle by onwettige aktiwiteite betrokke is.

Dit was nadat Maimane hom gevra het oor ’n bewys van betaling van R500 000 wat die omstrede fasiliteitbestuursgroep Bosasa in Oktober 2017 aan ’n trustrekening van ’n maatskappy genaamd EFG2 gemaak het. Dit was na bewering vir sy seun, Andile Ramaphosa. Maimane het ’n beëdigde verklaring van ene Peet Venter omhoog gehou wat lui dat hy deur die uitvoerende hoof van Bosasa gevra is om die betaling aan Andile Ramaphosa te maak.

Ramaphosa het geantwoord dat die kwessie ’n ruk gelede onder sy aandag gebring is, waarna hy sy seun, wat ’n finansiëlekonsultasie-onderneming bestuur, daaroor uitgevra het. Sy seun doen konsultasiewerk vir verskeie plaaslike en internasionale maatskappye, waarvan Bosasa een is.

Volgens Ramaphosa het hy sy seun pertinent gevra of die geld onwettig aan hom betaal is. “Hy het gesê hy het ’n kontrak met Bosasa onderteken. Ek het geen idee of die geld onwettig bekom is nie. As dit aan die lig kom dat daar enige onwettigheid of korrupsie is in die wyse waarop hy die kwessie hanteer het, sal ek die eerste een wees wat seker maak dat hy aanspreeklik gehou word. Selfs al moet ék die een moet wees wat hom na die polisiekantoor toe neem.

“Ek het aan my kinders gesê hulle moet geensins sake met ’n staatsentiteit of die regering doen nie. As daar enige onwettighede of korrupsie is, sal ek die eerste een wees wat hulle tronk toe sal neem,” het hy gesê.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Rassisme  |  Chaos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.