Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril meer gewild as ANC, ‘maar hy het probleme’

Pres. Cyril Ramaphosa is waarskynlik die ANC se grootste bate vir die Mei-verkiesing – die party het hom nodig.

Minstens twee politieke ontleders het Sondag só gereageer op berigte dat Ramaphosa gewilder as die ANC self is.

’n Interne ANC-peiling wys luidens ’n berig in Sunday Times 73% van die respondende keur Ramaphosa goed, terwyl net 60% met die ANC tevrede is.

Meer as 4 000 mense landwyd het aan die peiling deelgeneem. Die grootste steun vir die party lê in die ouderdomsgroep 35 tot 40 jaar, terwyl jong mense tussen 18 en 25 jaar die party vermy.

Die ANC het nie Sondag op navrae hieroor gereageer nie.

Polities beteken dit dat Ramaphosa waarskynlik die ANC se grootste bate is. Terselfdertyd is hy waarskynlik die grootste bedreiging vir die DA en die EFF vanweë sy optrede, leierskap en profiel.

Theo Venter, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit, het by navraag gesê die ANC-president was sedert 1994 altyd gewilder as die party. “Dit was by (oudpres. Jacob) Zuma wat dié neiging omgedraai het. Wat ons sien by Ramaphosa, is dus die herstel van ’n ou tendens – dat ANC-leiers wyer steun geniet as die party self.

“Polities beteken dit dat Ramaphosa waarskynlik die ANC se grootste bate is. Terselfdertyd is hy waarskynlik die grootste bedreiging vir die DA en die EFF vanweë sy optrede, leierskap en profiel,” sê Venter.

Ralph Mathekga, politieke ontleder aan die Universiteit van Wes-Kaapland, is nie verbaas oor Ramaphosa se gewildheid nie. “Wanneer laas het ons iets anders as krisis-reaksies van die ANC gehoor? Ek het vroeër gevra waarom kan ons nie net ’n presidensiële stelsel hê nie? Waarom kan ons nie net ’n stelsel hê wat doen wat ons wil hê dit moet doen nie – om ’n leier te verkies wat meer aanspreeklik is?”

Hy glo ANC het Ramaphosa nodig vir die Mei-verkiesing. “Die party is aan skerwe maar Ramaphosa het steeds geloofwaardigheid as ’n leier. Dit beteken meer stemme vir die ANC. Dit wys egter ook dat Suid-Afrikaners bereid is dat die kous oor hul kop getrek word. Hulle is terdeë daarvan bewus dat in dié partypolitieke stelsel jy vir die party en nie vir die president stem nie,” sê Mathekga.

Supra Mahumapelo

Ramaphosa sukkel egter glo om oudpremier Supra Mahumapelo van Noordwes in bedwang te bring. City Press het Sondag berig dat Mahumapelo aan die voorpunt van “anti-Ramaphosa magte” in die party is.

Hy het glo verlede week ’n ambassadeurspos en ’n senior pos in die parlement van die hand gewys en is glo vol vertroue ná die hofsaak wat hy twee weke gelede gewen het wat hom en sy span provinsiale leiers in hul pos herstel het.

Venter sê daar is geen twyfel dat Ramaphosa met baie groot interne probleme sit nie.

City Press berig die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) wil hê die provinsiale uitvoerende komitee (PUK) en die ANC se provinsiale taakspan moet ontbind en ’n nuwe gesamentlike verkiesingspan aanwys. Obed Bapela, NUK-lid, en Mmamoloko Kubayi, minister van wetenskap en tegnologie, is glo onderskeidelik die sameroeper en koördineer, wat Mahumapelo op die agtervoet laat.

Volgens Venter het die ANC hom hiermee in sekere sin vasgeknoop in ’n “verlammende kompromis”.

“Dit beteken die party sit met twee faksies in provinsie wat mekaar moet aangluur en moet uithou tot ná die verkiesing,” reken hy.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Ralph Mathekga  |  Politiek  |  Verkiesing 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.