Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Cyril mislei Zondo oor tap van geld uit staatsentiteite’

Om geld uit staatsentiteite te tap, was ’n “lewenswyse” in die ANC.

So het Lucky Montana, voormalige uitvoerende hoof van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa), Maandag voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping getuig.

Pres. Cyril Ramaphosa en ander ANC-leiers het verlede week die kommissie mislei, het hy aangevoer. 

JOHANNESBURG, SOUTH AFRICA - APRIL 20: Former Pass
Lucky Montana toe hy op 20 April voor die Zondo-kommissie verskyn het. Foto: Gallo Images

Dit was toe Ramaphosa getuig het dat hy nie daarvan bewus was dat staatsentiteite gebruik word om die ANC finansieel te ondersteun nie en dat dit moontlik die werk van slegs “sekere mense” is.

Montana sê die ANC het gereeld tafels by gesellighede aan staatsentiteite “verkoop” en dat uitvoerende beamptes as ontplooide kaders na konferensies uitgenooi is.

“Ek het met aandag geluister toe die leierskap van die ANC voor die kommissie verskyn het. Ramaphosa het gesê dat dit (die insameling van geld vanuit staatsentiteite) slegs die werk van sekere mense is. Nee, dit is nie waar nie. Dit is ’n lewenswyse binne die ANC. Daar is nie een staatsonderneming wat nie deur die ANC genader is nie,” het Montana getuig.

Hy het aan Zondo gesê alle uitvoerende hoofde van staatsentiteite sal daarvan kan getuig.

Ramaphosa het verlede Woensdag en Donderdag in sy hoedanigheid as leier van die ANC aan die kommissie gesê dit sal verkeerd wees indien dit die geval is dat staatsentiteite die ANC gefinansier het.

JOHANNESBURG, SOUTH AFRICA - APRIL 29: President C
Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdag sy getuienis voor die Zondo-kommissie voortgesit. Foto: Gallo Images

Montana het getuig dat uitvoerende amptenare gereeld by ANC-gesellighede deur ondernemings genader is oor tenders.

Hy het gesê daar was ANC-lede met agendas wat eintlik net hulself wou verryk.

“Enoch Godongwana (voorsitter van die ANC se subkomitee oor ekonomiese transformasie) het byvoorbeeld op ’n geselligheid druk op ons uitgeoefen om ’n tender aan Sondola IT toe te ken. Sondola IT was ’n afdeling van Bosasa. Godongwana sal dit egter ontken,” het hy gesê.

Montana het ook getuig sover hy weet, is Dipuo Peters, voormalige minister van vervoer, deur die ANC gevra dat Prasa vir een van die party se 8 Januarie-byeenkomste moes betaal.

Die kommissie het ook Maandag vrae aan Montana gestel oor beweringe dat die ANC groot geldelike voordeel getrek het uit ’n kontrak vir lokomotiewe wat Prasa met Swifambo Rail Leasing gesluit het wat op die ou einde nie op Suid-Afrika se treinspore gepas het nie.

Die kontrak was sowat R3,5 miljard werd. Die ANC het na bewering ’n betaling van R80 miljoen ontvang weens die toekenning van dié kontrak. Die betaling is glo gedoen as ’n skenking vir die ANC se verkiesingsveldtog in 2014.

Hy sê hierdie betaling is ’n bron van kommer.

Adjunkhoofregter Raymond Zondo Foto: Argief

“Ons sal moet uitvind wie se bankbesonderhede voorsien is. Auswell Mashaba (direkteur van Swifambo) het aangedui dat hy inderdaad R80 miljoen aan die ANC betaal het. Die ANC ontken egter dat hy daardie geld ontvang het. Nou waar is die geld?” het hy gevra.

Montana het gesê hy het al met dr. Zweli Mkhize, toe die ANC se tesourier-generaal, hieroor vergader.

“Dit was ’n groot gesukkel om by hom (Mkhize) uit te kom. Toe ek die feite in ’n SMS aan hom stel, het hy skielik gesê hy kan my spreek en dat hy by ’n hotel is.

“Ek het in die SMS aan hom gesê indien die ANC nie daardie geld ontvang het nie, beteken dit dat Mashaba en die ANC om die bos gelei is.

“Hy was met my aankoms ontsteld omdat ek die inligting in ’n SMS gestuur het, want dit kon glo nagespoor word. Mkhize het by die hotel aan my erken dat hy geld ontvang het, maar nie R80 miljoen nie. Hy kon nie vir my sê of die skenking wat hy ontvang het, deel van die R80 miljoen was nie,” het hy getuig.

Montana het Zondo egter die versekering gegee dat die Swifambo-kontrak per se nie korrup is nie.

Montana sal Dinsdag verder voor die kommissie getuig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.