Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril moet aan Zondo gaan verduidelik, sê Mmusi

Pres. Cyril Ramaphosa moet leierskap toon en vrywillig voor die Zondo-kommissie van ondersoek gaan getuig om Suid-Afrikaners deeglik van die volle omvang van staatskaping in die ANC en die regering bewus te maak.

So het Mmusi Maimane, DA-leier, Woensdag in ’n verklaring gesê en bygevoeg dat die “DA in besit van e-posse is wat blyk voor te stel dat Ramaphosa se kantoor, toe hy nog adjunkpresident was, ook met die identiteitsverandering van ’n individu met noue bande met die Gupta-regterhand, Ashu Chawla, gehelp het”.

Mmusi Maimane. Foto: Daily Sun

“Ek sal hierdie inligting by die presidensie indien en ’n volle verduideliking daarvoor eis,” het Maimane gesê.

Die versoek kom nadat Ramaphosa Dinsdag net voor die inswering van Tito Mboweni as nuwe minister van finansies gesê het dat niemand verhewe bo die Zondo-ondersoek is nie.

“Om die land vorentoe te laat beweeg, moet ons die volle omvang van die staatskaping bepaal, diegene identifiseer wat verantwoordelik was vir die fasilitering daarvan en besliste stappe doen om te voorkom dat dit weer gebeur,” het Ramaphosa gesê.

Maimane het Woensdag gesê Suid-Afrikaners verdien ’n president wat gewillig is om te lei en om beslissend teen korrupsie op te tree.

Dit is belangrik dat Suid-Afrika bewus gemaak word van die volle omvang van hierdie ekostelsel van korrupsie wat in die ANC en die nasionale regering en sy entiteite bestaan het.
Mmusi Maimane

“Ramaphosa moet daarom voor die kommissie verskyn en verslag doen.”

Volgens Maimane het onlangse verwikkelings voor die Zondo-kommissie gewys dat die kaping van die ANC en die staat en sy entiteite vir korrupte doeleindes baie verder as net oudpres. Jacob Zuma en die Guptas strek.

“As adjunkpresident van die ANC sedert 2012 en van Suid-Afrika sedert 2014 is daar geen denkbare manier dat Ramaphosa nie bewus kon wees van die grootskaalse kaping van die ANC en die staat nie.”

Volgens Maimane moet Ramaphosa voor die kommissie verduidelik wanneer hy bewus geword het van staatskaping, wat hy daaraan gedoen het, en waarom hy geïmpliseerde ministers in sy kabinet aangestel het.

“Dit is belangrik dat Suid-Afrika bewus gemaak word van die volle omvang van hierdie ekostelsel van korrupsie wat in die ANC en die nasionale regering en sy entiteite bestaan het,” sê Maimane.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.