Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril moet ‘belofte oor uitsettings’ nakom, eis vroue
Betogers wou eers hê dat pres. Cyril Ramaphosa aan hulle uitsettingskwessies aandag gee voordat hy gister sy toespraak kon lewer in die Mbekweni-rugbystadion in die Paarl. Foto: Jaco Marais

Die grondkwessie in veral die Wes-Kaap het gister ook by die amptelike Vrouedagvieringe in die Paarl die kollig gesteel toe pres. Cyril Ramaphosa gevra is om ’n belofte van vier jaar gelede na te kom.

’n Groep vroue wat op plase in die Wes-Kaap werk, het met plakkate in die Mbekweni-rugbystadion opgedaag het om te vra dat Ramaphosa “sy woord gestand doen” en ’n moratorium op plaasuitsettings plaas.

Foto: Jaco Marais

Ramaphosa was op die punt om met sy toespraak by die amptelike Vrouedagvieringe hier te begin toe ’n groep van sowat tien vroue voor in die gehoor met hul plakkate opgestaan het. Die plakkate wat hulle vreedsaam en stil omhoog gehou het, het gelui: “Teken die moratorium op uitsettings” en “Stop plaasuitsettings”.

Ramaphosa het gesê hy neem kennis van hul saak en dat hy later daaraan aandag sal gee.

Hulle is deur ’n vrou uit die groot markiestent in die stadion waarin die geleentheid plaasgevind het, gelei.

Pres. Cyril Ramaphosa spreek gister die regering se amptelike Vrouedagvieringe in die Mbekweni-rugbystadion in die Paarl toe. Foto: Jaco Marais

Carmen Louw, mededirekteur van die organisasie Women on Farms, het ná afloop van die geleentheid in die stadion gesê hul pleidooi aan Ramaphosa is om ’n moratorium op plaasuitsettings te plaas. “Toe hy vier jaar gelede (as adjunkpresident) hier in die Paarl was, het hy die plaaswerkers belowe dat daar ’n moratorium op plaasuitsettings sal wees. Dit was (vandag) plaaswerkers wat ’n pleidooi aan hom gerig het om sy woord gestand te doen,” het Louw gesê.

Die vroue het van Wes-Kaapse plase by Simondium, Ceres, Wolseley en De Doorns gekom. “Van hulle staar uitsettings in die gesig. Van hulle is reeds uitgesit. Uitsettings is vir hulle ’n werklikheid,” het Louw gesê.

Bathabile Dlamini, minister belas met vroue in die presidensie. Foto: Jaco Marais

Bathabile Dlamini, minister belas met vroue in die presidensie, en Maite Nkoana-Mashabane, minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, het die vroue buite die tent ontmoet en onderneem om aandag aan hul kwessies te gee.

Ida Plaatjies, wat reeds 30 jaar op ’n plaas naby Simondium werk, het gesê sy het aan die betoging deelgeneem om die president se aandag te kry.

“Ons plaaswerkers is die mense wat die swaarste kry. Ons het niks nie. Ons het nie grond nie en ook nie ons eie huise nie. Ons verlang grond en ons eie huise. Die president het mos in 2014 belowe dat hy ’n verandering sal maak. Ons wil seker maak dat hy sy belofte gestand doen.”

Foto: Jaco Marais

Sy het gesê ’n nuwe boer het die plaas gekoop waarop sy werk en dat sy een van die werkers is wat ’n uitsettingsbevel gekry het. “Ons is tans besig met die saak,” het sy gesê.

Maria Scheepers van die plaas Simondium het gesê mense word van die plase afgesit. “Mense wat jare lank daar gewerk het, wat oud is en wie se kinders daar gebore is, word afgesit. Die plaas word verkoop en die nuwe boer wat nie ons omstandighede ken nie, kom nie en doen navraag nie. Al wat hulle sê is dat die mense wat nie vir die vorige eienaar gewerk het nie, moet gaan. Veral ons wat in die hokkies bly, kry swaar.”

Sy het die hoop uitgespreek dat die president kennis neem van hul probleme.Ramaphosa het Woensdagaand beleggers weereens gepaai dat die regering nie grondgrypery en anargie sal toelaat tydens die proses om ’n oplossing te vind vir die grondkwessie nie.

Ramaphosa paai beleggers

Ramaphosa het by ’n konferensie in Johannesburg gepraat wat deur beleggers van die Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB) en AB InBev bygewoon is. Die beleggers het belangstelling getoon in die regering se pogings om nuwe direkte buitelandse beleggings van $100 miljard oor die volgende vyf jaar na Suid-Afrika te lok.

Ramaphosa het gesê die grondkwessie sal op so ’n manier gepak word dat die uitkoms daarvan goed vir die land sal wees.

“Ons sal die grondgrypery en anargie toelaat nie. Ek sê ons sal die uitdaging hanteer. Sodra ons die grondkwessie gepak en opgelos het, sal die land behoorlik wegtrek, het hy gesê.

“Ek het die volste vertroue dat, as ons die dood van apartheid deur onderhandeling kon bewerkstellig, ons in staat is om ’n oplossing te vind wat die grondkwessie in die bed sal sit sodat die land sy kragte regtig kan laat losbreek.”

Hy het benadruk dat die wonde van hoe die grond van die inheemse mense van Suid-Afrika weggeneem is “steeds daar is en bloei”.

Oorlog woed teen SA vroue

’n Oorlog woed teen die vroue van Suid-Afrika– dit is ’n oorlog teen hul liggame, hul waardigheid en reg tot vryheid, sekuriteit en gelykheid, het Ramaphosa by die amptelike Vrouedagvieringe gesê.

“Regdeur ons samelewing . . . word ’n oorlog teen vroue van Suid-Afrika gevoer.

“Dit is ’n belediging vir ons gemeenskaplike menslikheid en versaking van die waardes van die Grondwet. Vroue word daagliks beide op subtiele en brutale maniere onderwerp aan verbale, emosionele en fisieke mishandeling,” het hy gesê.

Ramaphosa het daarop gewys dat patriargie ’n bepalende kenmerk van die samelewing bly.

“Ons mans moet dit in ons koppe kry dat ons nie vroue besit nie. Nóg besit ons hul liggame en ons moet nooit daarop uit wees om te skend nie.

“Geen mens het in die grondwetlike bestel die reg om ’n ander te domineer nie. Dit beteken dat patriargie wat homself uitspeel deur mans wat vroue in ons land wil domineer tot ’n einde moet kom omdat ons nie die vroue in ons land besit nie,” het Ramaphosa onder ’n groot gejuig van die hoofsaaklik vroulike gehoor gesê.

Ramaphosa is bly dat baie organisasies aangedui het dat hulle gaan begin met ’n proses van gesprekvoering met mans in die land.

“As ’n nasie moet ons aandag gee aan die vlak van bewustheid van mans en verstaan waarom hulle op dié manier optree waar hulle nie net die vroue van die land verkrag nie, maar ook vermoor.”

’n nasionale geslagsberaad sal aan die einde van die maand plaasvind om konsensus te bereik op ’n doeltreffende en dringende benadering tot geslagsgegronde geweld, diskriminasie teen vroue en ongelykhede.

Die aanbevelings van die beraad moet omvattend wees en die werk van die regering en aktiwiteite van alle rolspelers lei.

Tamaryn Green, Mej. Suid-Afrika., Foto: Jaco Marais

Meer oor:  Ramaphosa  |  Cyril  |  Wes-Kaap  |  Vroue  |  Plaaswerkers  |  Vrouedag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.