Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril moet oppas met borgtog-opmerking, sê kenner

Pres. Cyril Ramaphosa moet versigtig wees om nie die teenstaan van borgtog aan beskuldigdes as straf te beskou nie – daar behoort nie “voortydig vergelding” gesoek te word nie.

Dr. Llewelyn Curlewis, strafregkenner verbonde aan die Universiteit van Pretoria, het Vrydag só gereageer op een van die opmerkings wat Ramaphosa Donderdagaand in reaksie op die vlaag moorde en verkragtings van vroue gemaak het.

Plakkate en blomme wat betogers vroeër die week in hul optog teen die parlement se heining aangebring het. Foto: Philda Essop

Ramaphosa het onder meer gesê het dat hy “saamstem met die vroue van die land” dat die staat borgtog en parool moet teenstaan vir die oortreders van verkragting en moorde op vroue en kinders.

Curlewis het by navraag gesê by implikasie beteken dié opmerking dat oortreders sommer dadelik gestraf moet word nog voordat hulle in die hof skuldig bevind is.

“Dit kan nie reg wees nie. Dit kan nie suiwer wees nie. Dit beteken jy wil die reg vooruitloop. Dit druis in teen alle gesonde regsbeginsels wat nog ooit uitgedink is. Iemand moet eers skuldig bevind word voordat hy gestraf kan word,” sê hy.

“Die president moet baie versigtig wees om nie die teenstaan van borgtog te sien as ’n straf nie. Dit moenie verwar word met die uiteindelike vonnisoplegging nie. Borgtog is bloot ’n waarborg tussen die staat en die beskuldige waarin die beskuldigde onderneem dat hy sy verhoor sal bywoon en in ruil daarvoor is hy bereid om geld te betaal as sekuriteit.”

Een van die vryhede in die Grondwet is dat mense onskuldig is totdat hulle skuldig bewys word, sê Curlewis.

“Ons het genoeg strawwe om beskuldigdes vir lank tronk toe te stuur, maar bevind hulle eers skuldig. Moenie voortydig vergelding soek nie.”

Almal is egter nie geregtig op borgtog nie, sê hy.

Daar is gevalle waar die staat vir seker borgtog moet teenstaan – nie net waar vroue, gendergeweld en xenofobie ter sprake is nie – maar in enige saak waar dit lyk asof die beskuldigde gaan weghardloop.

Prof. Amanda Gouws, politieke ontleder en genderaktivis aan die Universiteit Stellenbosch, het Vrydag gesê sy dink baie mense is teleurgesteld omdat die aankondigings wat Ramaphosa gemaak het maatreëls is wat “hoeveel keer tevore” al gesê is.

Voorkomingsmaatreëls, beter polisiëring en toepaslike opleiding vir die polisie is volgens haar noodsaaklik.

Sy het daarop gewys dat die Thuthuzela-sorgsentrums vir slagoffers van seksuele misdrywe ondergefinansier is.

“Die president het wel aangekondig dat daar meer geld beskikbaar gestel gaan word vir die nasionale veldtog teen gendergeweld, maar ek dink nie dit sny deur tot die kern van die probleem nie. Die maatskaplike weefsel is aan skerwe. Dit gaan oor hoe kinders gesosialiseer word en die beter toepassing van die Wet op Seksuele Misdrywe.”

Intussen het die ANC die verbintenis verwelkom om te verseker dat die strafregstelsel strawwer vonnisse vir oortreders van gendergeweld oplê. Die party het ’n beroep op die strafregstelsel gedoen om “genadeloos en ferm” te wees in hul hantering van diegene wat hulle aan die mishandeling van vroue skuldig maak en steun die beroep op lewenslange tronkstraf vir verkragting.

“Dit sal ’n duidelike boodskap aan alle moontlike oortreders stuur dat ons samelewing en regstelsel nie hierdie misdade sal duld nie.”

Die African Transformation Movement-party (ATM) het op sy beurt Ramaphosa se toespraak as “baie moeg en oninspirerend” bestempel en voorbrand gemaak vir ’n referendum oor die doodstraf. Die party wys in verklaring daarop dat die openbare sentiment is dat die doodstraf heringestel moet word, maar dat die regime “toondoof” is daarvoor.

“ATM glo vas dat die doodstraf die mees gepaste reaksie is op diegene wat nie waarde heg aan die lewe van ander nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.