Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril moet sê ‘of boere die seisoen moet plant’

Die wysiging aan ’n fundamentele grondwetlike beginsel sal nie net op die landbou nie, maar op die ekonomie in geheel ’n verdoemende uitwerking hê.

So sê Theo de Jager, sameroeper van ’n gidskomitee vir ’n vereniging vir familieboerderye wat leierboere oor Suid-Afrika heen insluit en deur tientalle organisasies van buite die landbou ondersteun word.

“Swak dienslewering, korrupsie en onvermoë is nie net die oorsaak van die mislukking van grondhervorming nie, maar ook van groeiende verset teen die ANC. Om sy verlore aansien voor die 2019-verkiesing te herwin deur goedkoop populistiese optrede soos ’n wysiging aan ’n fundamentele grondwetlike beginsel te maak, sal enersyds op die landbou en andersyds op die totale ekonomie ’n verdoemende uitwerking hê,” het De Jager Donderdag in ’n verklaring gesê.

Dr. Theo de Jager, president van die Wêreldorganisasie vir Boere (WOF). Foto: Facebook

De Jager het sy skok uitgespreek oor wat hy bestempel as die blatante en ongesofistikeerde wyse waarop die grondwetlike hersieningskomitee se prosesse deur die ANC en EFF verwring en gemanipuleer is om hul standpunt oor onteiening sonder vergoeding toe te pas.

“Daar is geen aanduiding dat dieselfde beleid wat in Venezuela en Zimbabwe rampspoedige gevolge gehad het, in Suid Afrika ander uitkomste sal hê nie. ’n Dawerende meerderheid geskrewe standpunte, wat ook byna alle welvaartskeppende sektore soos georganiseerde landbou, beleggers en banke insluit, het omslagtig en wetenskaplik standpunt teen die voorgestelde grondwetwysigings ingeneem.”

Volgens De Jager is die instandhouding van markverwante vergoeding steeds die goedkoopste en sekerste manier om landbou te laat groei, beleggings aan te spoor, en nuwe toetreders suksesvol en winsgewend te kry.

“Hoewel die Grondwet nie markverwante vergoeding waarborg nie, word dit ook nie verbied nie. Dis nie billik of regverdig om te verwag dat individuele grondeienaars die rekening vir ’n nasionale verantwoordelikheid moet diens nie.”

In ’n verklaring wat Donderdag deur die Transvaalse Landbou-unie van Suid-Afrika (TLU SA) uitgereik is, sê die organisasie dat die uitslag van die parlementêre hersieningskomitee om voor te stel dat die land se Grondwet gewysig moet word om vir onteiening sonder vergoeding voorsiening te maak, nie as ’n verrassing gekom het nie.

“Die voorstel beteken dat talle boere nou twyfel of hulle nog enigsins vir die nuwe seisoen moet plant. Dit kos meer as R6 000 per hektaar om te ploeg en te plant, en boere sal twee keer dink om daardie groot koste aan te gaan as daar ’n moontlikheid is dat die grond gevat kan word en hulle alles kan verloor. Die president van die land moet nou sê waarom boere wel moet voortgaan om te plant.”

Meer oor:  Grond  |  Grondonteiening  |  Theo De Jager
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.