Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Cyril moet self kom sê oor kaders se ontplooiing’

Regter Raymond Zondo is die afgelope week gevra om pres. Cyril Ramaphosa te nooi om self te kom getuig oor die rol wat die ANC se beleid van kaderontplooiing in staatskaping gespeel het.

Vier jaar lank, terwyl hy tussen Mei 2014 en Februarie 2018 adjunkpresident was van die land, was Ramaphosa die voorsitter van dié omstrede ontplooiingskomitee. In dié jare is talle bedenklike figure met ANC-bande in sleutelposte in die staatsdiens en by geruïneerde staatsbeheerde ondernemings aangestel.

Die kaderontplooiingskomitee bestaan nog steeds – die huidige voorsitter is adj.pres. David Mabuza. Jessie Duarte, die ANC se adjunk-sekretaris-generaal, is die koördineerder.

‘Watter deursigtigheid is daar?’

Dr. Leon Schreiber, DA-woordvoerder oor staatsdiens en administrasie, het Zondo in ’n brief op 17 Julie gevra om Ramaphosa as oudvoorsitter en ook alle ander destydse lede van die kaderkomitee te nooi om te getuig. Ook adv. Richard Sizani, voorsitter van die staatsdienskommissie (SDK), moet kom getuig oor hoe bestaande wetgewing die apolitiese SDK se hande afkap met die aanstel van “direkteurs-generaal, uitvoerende hoofde van staatsbeheerde ondernemings en ander staatsamptenare, en eerder politici bemagtig om sulke aanstellings te doen”.

Die rol van die ANC se kaderontplooiingskomitee in staatskaping het in November voor die Zondo-kommissie ter sprake gekom toe Barbara Hogan, voormalige minister van openbare ondernemings, gesê het dat ’n “handvol mense – aangewys deur die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) – eenvoudig besluit wie is die voorkeurkandidaat” vir ’n pos.

“Op watter gronde? Watter deursigtigheid is daar?” het sy gevra.

Hogan het gesê as só ’n ANC-komitee deur ’n partyfaksie gekaap word, “kan dit ’n fundamentele impak op die regering hê”.

Hogan se besware het gevolg op die aanstelling in 2016 van Siyabonga Gama as hoof van Transnet, al was dissiplinêre klagte teen hom hangende. Die direksie het ’n ander voorkeurkandidaat gehad. Hogan het getuig oudpres. Jacob Zuma het aangedring Gama moet die werk kry.

Zuma het dit die afgelope week ontken en het die bestaan van die ANC se kaderontplooiingskomitee vurig verdedig. “Ek weet nie wat sy dink moet gebeur en hoekom aangesteldes nie mense moet wees wat die party ken en hul ervaringe ken nie. Dit moet mense wees wat die partybeleid sal uitvoer,” het Zuma gesê.

Oor Gama het hy gesê: “Diegene wat die keuringsproses gedoen het, het gevoel hier is ’n man wat ons dink die werk sal kan doen.”

Zuma het gesê die ontplooiings­komitee maak maar net aanbevelings.

Zondo het gevra of die komitee, wat in 1994 gestig is, ’n lys het van mense met kwalifikasies en ervaring en of die komitee net mense aanbeveel wat hulle ken.

“Hulle hou nie noodwendig ’n lys nie.

“Ek dink die ANC ken sy mense en weet in sommige gevalle wat is hul vermoëns.”

Die adjunkpresident is volgens Zuma die voorsitter omdat hy as ANC-adjunkpresident “verstaan wat in die regering benodig word”.

Toe hy gevra is of die komitee ook direksielede van staatsondernemings aanwys, het Zuma geantwoord: “Ja, by tye.”

Schreiber skryf dat baie individue wat by staatskaping betrek is, nie in magtige posisies sou gewees het as dit nie was vir die invloed van die ANC se kaderontplooiingskomitee by die aanstellingsproses nie.

Ramaphosa se rol as voorsitter moet daarom ondersoek word. Ander lede tussen 2013 en 2017 was Duarte, Lindiwe Sisulu, Ngoako Ramatlhodi, Sdumo Dlamini (oud-Cosatu-baas), Rob Davies, Maite Nkoana-Mashabane, Ronald Lamola, Sisisi Tolashe van die vroueliga en Sankie Mthembi-Mahanyele.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Jacob Zuma  |  Zondo-Kommissie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.