Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Cyril moet soos PW maak om SVA reg te ruk’

Pres. Cyril Ramaphosa moet maak soos oudpres. PW Botha destyds toe hy prof. Niël Barnard van die Universiteit van die Vrystaat ingespan het om die destydse Buro vir Staatsveiligheid (Boss in die volksmond) tot ’n betroubare intelligensie-agentskap te hervorm.

Dr. Niël Barnard Foto: Nasief Manie

So meen dr. Jakkie Cilliers, hoof van die Instituut van Sekerheidstudies (ISS) se afdeling vir toekomsnavorsing oor Afrika en innovasie.

Cilliers sê in die lig van die onluste verlede week in KwaZulu-Natal en Gauteng, asook die gevaar van onstabiliteit in die streek weens die gebeure in Cabo Delgado in Mosambiek en in Eswatini (Swaziland), moet die doel van Suid-Afrika se intelligensiedienste dringend hersien word.

Hy skryf in ’n meningstuk op die ISS se webwerf dit is duidelik dat Suid-Afrika net in naam ’n intelligensiediens het. Die verslag van die hoëvlak-ondersoek wat oudminister Sydney Mufamadi in 2018 na die SVA gelei het, het bewys dat daar grootskaalse ongerymdhede in die SVA was toe pres. Jacob Zuma nog die staatshoof was.

Ramaphosa moet daarom maak soos Botha destyds toe hy Barnard betrek het om ’n nuwe intelligensie-agentskap ná jare van onwettighede, finansiële misbruik en politieke inmenging onder sy voorganger, die Buro vir Staatsveiligheid, te begin, sê Cilliers.

Hy sê Barnard het “intellektuele nougesetheid en deugdelikheid” na die destydse Nasionale Intelligensiediens gebring.

“Pres. Ramaphosa moet dieselfde doen en iemand met die nodige kennis, integriteit en ruggraat kry om die SVA af te breek en te herbou.

“Dit kan nie bloot nóg ’n partylojalis wees nie. Dit moet iemand wees wat vertroue inboesem en wat aan die einde van die Ramaphosa-presidentskap steeds daar sal wees.”

Die weermag is op sy beurt in ’n staat van verwaarlosing.

Daar moet ook weggedoen word met die gedagte om ’n binnelandse én buitelandse eenheid te hê.

Cilliers sê die poging tot opstand verlede week bevestig die omvang waartoe Suid-Afrika onder verlammende politieke, maatskaplike en ekonomiese patologie ly.

“Met die hoë vlakke van werkloosheid, ongelykheid, armoede, vreemdelingehaat en rassisme wag groot interne veiligheidsprobleme op die land in die volgende paar jaar.”

Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Getty Images

Hy sê die mislukkings van die SVA en die polisie, sowel as die onoortuigende vertoning van die weermag, lê ’n gebrek aan ’n samehangende benadering jeens nasionale veiligheid bloot.

“Al drie dié departemente bevind hulle tans in ’n krisis. Probleme staar boonop dié verantwoordelik vir die regterlike gesag, die gevangenisse en grensbeheer in die gesig.

“Die rede sluit in ’n gebrek aan visie, politieke inmenging en staatskaping, swak bestuur en koördinering, swak beleid en onvoldoende verantwoordbaarhouding deur die parlement,” meen Cilliers.

“Die polisie se begroting het die laaste dekade met twee derdes vergroot, maar ontledings van die ISS wys die polisie se prestasie het in dié tyd op die meeste vlakke agteruitgegaan.

“Die weermag is op sy beurt in ’n staat van verwaarlosing.

“Al drie (die SVA, polisie en weermag) is ongeskik vir die huidige uitdagings.”

Cilliers sê daar is verskeie dinge wat dringend gedoen moet word om die situasie te beredder – die beëindiging van politieke inmenging met senior aanstellings, die nasionale vervolgingsgesag (NVG) moet versterk word en daar moet eerder op bevoegdheid en lojaliteit as op sekere faksies gefokus word.

“Die bestuur van spesialis-eenhede moet oorgelaat word aan professionele mense soos militêre en polisie-offisiere wat deur die range gevorder het. Dit is mos doodeenvoudig.”

Dit kan nie bloot nóg ’n partylojalis wees nie. Dit moet iemand wees wat vertroue inboesem en wat aan die einde van die Ramaphosa-presidentskap steeds daar sal wees.

Die polisie kort nuwe leierskap en die stelsel moet van só ’n aard wees dat slegs die beste offisiere bo uitkom.

Cilliers stel voor ’n onafhanklike paneel moet die nasionale en provinsiale kommissarisse van polisie aanstel.

Die hele stelsel binne die weermag moet ook hersien en aangepas word.

Om dit alles te doen, is dit belangrik dat Ramaphosa die regte mense in sy kabinet aanstel om dit deur te voer.

Meer oor:  Pw Botha  |  Cyril Ramaphosa  |  Hervorming  |  Plundery En Geweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.