Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril moet wys hy is álmal se president, sê Afrikanerbond

Een van pres. Cyril Ramaphosa se uitdagings met die ANC se amptelike 107de verjaardagvieringe in KwaZulu-Natal sal wees om te wys dat hy die leier van alle Suid-Afrikaners, ook wit landsburgers, kan wees, sê die Afrikanerbond (AB).

Dr. Jacob Schoeman. Foto: Verskaf

Dr. Jaco Schoeman, voorsitter van dié organisasie, het Donderdag gesê dat Ramaphosa ook die ANC se nie-rassige vryheidsdroom en beginsels moet laat herleef “bo die party wat self rassisme en diskriminasie op allerlei maniere toepas en in die proses vele Suid-Afrikaners van hul vryheid en selfrespek ontneem het”.

Schoeman het in ’n verklaring gesê Saterdag se amptelike ANC-verjaarsdagvieringe by die Moses Mabhida-stadion in Durban sal daarom ’n barometer wees van die retoriek wat uit ANC-geledere in aanloop tot die nasionale verkiesings verwag kan word.

Dit raak volgens die Afrikanerbond toenemend duidelik dat Ramaphosa al meer gekonfronteer word deur dieselfde knyptangsituasie as vorige ANC-leiers, wat die party bo die Grondwet en Suid-Afrika gestel het.

“Vandag pluk ons steeds die vrugte van die onderhorigheid aan uitgediende ideologieë wat blindweg nagejaag en opgedwing word.”

Schoeman het gesê oudpres. Jacob Zuma het dit in sy termyn baie duidelik gemaak dat ANC-belange bo die Grondwet was. “Daarmee het hy homself van ’n groot deel van die bevolking vervreem.”

Volgens Schoeman lui die Nasionale Ontwikkelingsplan egter onder meer dat Suid-Afrika nie ’n afwaartse spiraal wat sosiale spanning verhoog, kan bekostig nie én dat sterk leierskap nodig is om die visie van die Grondwet te bevorder.

Nog uitdagings vir Ramaphosa sal volgens Schoeman ook wees om sy vernuf as staatshoof te stel bo die politieke oneerlikheid wat die ANC se kenmerk geword het.

Ramaphosa sal ook “oplossingsgerig met die emosionele grondkwessie” sal moet werk.

Dít omdat Schoeman glo dat onteiening van grond sonder vergoeding nie suksesvol kan wees en nóg minder – ondanks Ramaphosa se versekeringe – toegepas kan word deur ’n regering wat op soveel ander terreine reeds misluk het.

“Die hele kwessie, ook die konseponteieningswet, word misbruik vir politieke doeleindes en word gegrond op ’n skeefgetrekte en eensydige geskiedenis. Ongelukkig maak die president homself ook skuldig aan die narratief wat net een geskiedenis voorhou.”

Schoeman meen Ramaphosa moet die grondprosesse met “absolute eerlikheid en integriteit” hanteer én erken dat die ANC die afgelope 25 jaar net so aandadig aan Suid-Afrika se huidige probleme was.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Jacob Schoeman  |  Politiek  |  Presidentskap  |  Afrikanerbond  |  Rassisme  |  Anc-Manifes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.