Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril: Moord-komplot bekyk

Hierdie berig het vroeër verkeerdelik gesê dat Thapelo Mokgosi vier jaar lank by ’n Rooms Katolieke priester, vader Peter Motshegwa, gebly het. Hy het eintlik by vader Jo Matlhonoko van die Kagiso Christian Church gebly.


Die intelligensiedienste en polisie ondersoek die beweerde infiltrasie van die weermag asook “een of twee” beplande aanslae op pres. Cyril Ramaphosa se lewe.

Rapport verneem op onberispelike gesag die ondersoek is al “etlike weke” aan die gang, maar is in die hoogste rat geplaas ná die inhegtenisneming van ’n sogenaamde spooksoldaat met drie magasyne in sy sak. Die soldaat is al jare op verskeie weermagbasisse doenig sonder dat hy ooit amptelik in diens van die weermag was.

Thapelo Mokgosi poseer in ’n amptelike leëruniform voor die 4SA infanterie-eenheid se kennisgewingbord in Middelburg. Hy het hom glo voorgedoen as ’n soldaat.

Hy is in hegtenis geneem toe hy hom probeer inwurm het by die infanterie-groep wat Ramaphosa verlede Saterdag met sy inhuldiging op Loftus Versfeld sou vergesel. Dit is onduidelik wat sy motiewe was. Hy word ook nie sover Rapport kon vasstel betrek by die ondersoek na die aanslae op die president se lewe nie.

Tog het ’n bron na aan die groter ondersoek gesê die feit dat ’n spooksoldaat dit byna reggekry het om hom by die inhuldiging te plaas, opper ernstige vrae. “As hy jare daarmee kon wegkom, hoeveel ander spooksoldate is daar en wat doen hulle?”

City Press, susterskoerant van Rapport, het verlede jaar berig Suid-Afrika het op die vooraand van oudpres. Jacob Zuma se bedanking op 14 Februarie net-net ’n muitery voorkom deur soldate wat lojaal aan Zuma was.

Op al die foto’s het hy militêre gewere in sy hand.

Intelligensiebronne het toe gesê hulle het bewus geword van praatjies oor ’n opstand deur soldate van Umkhonto weSizwe, voormalige gewapende vleuel van die ANC.

Rapport se bronne wou nie sê waar of wanneer die beweerde vorige komplotte teen Ramaphosa onderskep is nie omdat die ondersoek sensitief is.

Volgens dié bronne soek die polisie dringend na nóg twee mense. Hulle probeer ook bevestig of dit Ramaphosa is of dalk eerder “ander politieke hoës” wat geteiken word.

Brig. Hangwani Mulaudzi, woordvoerder van die Valke, het navrae na brig. Vishnu Naidoo, nasionale polisiewoordvoerder verwys. Naidoo het alle navrae na die weermag verwys.

Thapelo Mokgosi (tweede van links) saam met ander weermaglede waar hy glo deel was van die seremoniële wag by Winnie Madikizela-Mandela se begrafnis.

Brig.genl. Mafi Mgobozi, weermagwoordvoerder, het bevestig dat die militêre polisie (MP) se spesiale ondersoekeenheid saam met verdedigingsinligting (VI), voorheen bekend as militêre intelligensie, ander intelligensiedienste en die Suid-Afrikaanse Polisiediens werk aan ’n gesamentlike ondersoek.

“Nog mense word ondersoek vir hul betrokkenheid by ’n groter plan, maar nader besonderhede kan nie nou bekend gemaak word nie. Enige ander inligting wat ons nou sou bekend maak, kan die ondersoek belemmer.”

Khusela Diko, Ramaphosa se woordvoerder, het Saterdag gesê die presidensie weet nie van so ’n ondersoek nie.

Die bisarre voorval van Thapelo Mokgosi (29), wat ’n week voor die inhuldiging gearresteer is toe hy saam met die 21 SA Infanterie-bataljon van Lenasia in Pretoria wou inklaar, het die ondersoekers ontsenu.

Mokgosi het reeds in die landdroshof in Pretoria verskyn op aanklagte dat hy homself valslik voorgedoen het as ’n soldaat asook van die onwettige besit van ’n wapen en ammunisie.

Kapt. Shane Southgate (44) is ook gearresteer, maar die weermag weier om te sê presies waarvoor.

Rapport se eie ondersoek wys Mokgosi is allesbehalwe ’n eenmalige opportunis wat graag by Ramaphosa se inhuldiging wou inkom:

  • In sy CV, wat Rapport gesien het, sê hy hy werk al van 2009 vir die weermag as ’n soldaat en sy werksbeskrywing is “beskermingsdienste”.

Voorheen het hy gewerk as ’n kassier by ’n klerewinkel en by ’n toiletvervaardiger.

Hy gee die naam op van kapt. Jacob Sebolai as “bevelvoerder”.

Sebolai het by navraag aan Rapport bevestig hy werk vir die weermag en hy werk “in Pretoria”, maar hy wou nie sê waar hy gestasioneer is nie.

Hy sê hy ken vir Mokgosi en het baie jare gelede vir Mokgosi ’n aansoekvorm van die weermag gegee, maar hy het geen idee waarom Mokgosi sou beweer hy is sy bevelvoerder nie.

  • Mokgosi het gereeld vir sy familie foto’s gestuur waar hy in uniform tussen ander soldate by verskeie militêre basisse verskyn. Op al die foto’s het hy militêre aanvalsgewere in sy hand.

Hy het ook vir hulle ’n foto gestuur waar hy in April verlede jaar diens gedoen het by die begrafnis van Winnie Madikizela-Mandela.

  • Sy familie is heilig oortuig Mokgosi werk heeltyds vir die weermag.

Gugu Mokgosi, sy broer wat sedert Desember 2017 saam met hom woon, sê hy het daagliks met ’n weermaguniform die huis verlaat.

“Hy het baie uniforms gehad en het nou die dag nog ’n nuwe uniform gekry.”

Thapelo sou by tye vir lang rukke verdwyn en was vaag oor watter werk hy kwansuis vir die weermag gedoen het. “Hy het soms daarvan gepraat dat hy by die infanterie-bataljon buite Lenasia gewerk het.”

  • Thapelo Mokgosi se Capitec-bankstate van Desember verlede jaar tot 16 Maart vanjaar wys hy het nooit ’n salaris ontvang nie. Die enigste inbetalings was relatief klein kontantdeposito’s. Die laaste een was R6 000 op 28 Februarie.

Gugu Mokgosi het aan Rapport gesê hy het ’n WhatsApp-stemnota gekry waarin ’n man wat klink soos ’n senior weermagamptenaar sê daar is groot hoeveelhede geld by sy broer gekry.

“Ek weet nie waar die stemnota oorspronklik vandaan kom en wie daarop praat nie.”

Hy het ook nie meer onlangse bankstate van sy broer nie.

  •  Voor Desember 2017 het Thapelo Mokgosi vier jaar lank by ’n Rooms-Katolieke priester, vader Jo Matlhonoko, gebly.

“Ek is oortuig daarvan dat Thapelo in die weermag was,” het ’n oorblufte Matlhonoko Vrydag gesê. “Hy het baie uniforms gehad en hy het selfs met ’n meisie uitgegaan wat in haar uniform was as sy hier gekuier het.

“Dit maak glad nie sin dat hy op weermagbasisse toegelaat is as hy nie geregistreer was nie.

“Hy is vir my soos ’n seun. Hy is ’n vreeslike jolige ou met ’n ongelooflike humorsin. Hy het geen belangstelling in die politiek nie en ek kan nie glo dat hy by enige politieke veldtog sou betrokke raak nie.”

Matabo Matlhonoko, sy dogter wat saam met hom woon, sê die militêre polisie het hul huis kort ná Thapelo se inhegtenisneming kom deursoek en vir haar gesê Thapelo het selfs in ’n stadium permanent op ’n militêre basis in Pretoria gebly.

Thapelo Mokgosi is ook afgeneem by die 4 SA-infanteriebataljon in Middelburg, Mpumalanga.

Hy is ’n week voor die inhuldiging by Thaba Tshwane in hegtenis geneem toe die 21 SAI-bataljon daar wou inklaar. Kapt. Shane Southgate, die adjudant en kompaniebevelvoerder by 21 SAI, is ook gearresteer en het reeds twee keer in die militêre hof verskyn. Hy is Vrydag op waarskuwing vrygelaat.

Die weermagwoordvoerder sê Southgate het glo vir ’n klerk opdrag gegee om Thapelo Mokgosi in te klaar by die bataljon. Die klerk het onraad vermoed toe hy nie die nodige besonderhede soos sy mediese klassifikasie met die inklaringsadministrasie wou verskaf nie. Die klerk het die militêre polisie gebel.

Adv. Pikkie Greeff van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermagunie (Sanwu), wat Southgate verteenwoordig, sê die weermag het steeds nie volledige inligting aan hulle verskaf oor die aanklagte teen hom nie, behalwe dat hy gearresteer is weens ’n bedreiging van nasionale veiligheid.

“My kliënt is op die O.R. Tambo-lughawe deur die MP’s opgelaai. Hy was deel van die militêre wagte wat voor die inhuldiging by die lughawe diens gedoen het.”

Volgens Greeff ondersoek drie lede van die MP se spesiale ondersoek die aanklagte teen sy kliënt. “My kliënt ontken dat hy vir Mokgosi ken of enigiets met dié se beweerde vals voordoening as ’n soldaat te doen gehad het. Hy keer Maandag terug na sy werk as kompaniebevelvoerder met ’n wolk wat oor sy kop hang.”

Meer oor:  Cyril Ramaphosa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.