Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril ’n 'ware staatsman', maar daar is ook kommer

Die optrede van pres. Cyril Ramaphosa Donderdagaand in sy televisieboodskap aan Suid-Afrikaners was dié van ’n ware staatsman.

“Sy optrede was dié van ’n staatsman, veral as dit vergelyk word met die egoïstiese en venynige optrede van pres. Donald Trump van Amerika,” sê die politieke ontleder Theo Venter van die Noordwes-Universiteit se sakeskool in Potchefstroom in sy reaksie op Ramaphosa se toespraak.

“Die verlenging van die staat van inperking het nie vir my as ’n verrassing gekom nie.

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Presidensie

“Die president het erkenning gegee aan die burgerlike samelewing, sakelui en die mense uit die breë samelewing. Daar was ook ’n dringendheid in sy toespraak oor die nodigheid om die ekonomie weer op dreef te kry,” sê Venter.

“Dit is ’n baie simboliese gebaar dat sy en sy kabinet se salarisse met 33% gesny sal word en dat dié geld na die Solidariteitsfonds sal gaan.

“As voorsitter van die Afrika-Unie (AU) het hy ook namens Afrika gepraat en die internasionale gemeenskap gevra om dié vasteland te help.”

Venter sê Suid-Afrika self sal op al sy eie bronne en kundigheid moet staatmaak. Dít behoort sekere “kunsmatige en onsinnige ideologies gedrewe beleide” beslis te temper.

“ 'n Nuwe normal staar ons in die gesig.”

DA waarsku oor verlenging van inperking

John Steenhuisen, waarnemende leier van die DA, sê egter ’n verlenging is nie uitvoerbaar as dit tot ’n ekonomiese ramp lei nie.

Hy het in ’n verklaring gesê die DA sou verkies dat die huidige inperking oor die volgende paar weke geleidelik uitgefaseer word. Die verlengde inperking is skadelik vir die ekonomie.

“Ons groot kommer is dat die president die verlenging van die staat van inperking geregverdig het asof ons ’n keuse moet maak tussen gesondheid en ekonomiese belange.

“Ons glo dit is ’n fout om te dink aan lewens teenoor lewensbestaan. Dit is ’n valse dilemma.

Ons glo dit is ’n fout om te dink aan lewens teenoor lewensbestaan. Dit is ’n valse dilemma.

“Die moeilike besluite wat geneem moet word, is tussen lewens wat verlore gegaan het of deur die Covid-19-pandemie verwoes word, en lewens wat verlore gaan of seerkry weens die drastiese stappe om die pandemie te beheer,” sê Steenhuisen.

“Ons moet onthou ons het beperkte bronne. Wanneer ons moeilike besluite neem, moet sowel sigbare en onsigbare koste in ag geneem word.

“Dit is die rol van ’n regering: Om moeilike besluite te neem in belang van die meerderheid, maar terselfdertyd nie te vergeet dat agter elke statistiek ’n menslike storie is nie,” het hy bygevoeg.

Solidariteit se reaksie

Op sy beurt het Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, gewaarsku teen die gevolge van verdere inperking in die huidige formaat.

Hy meen die verlengde inperking in dié formaat kan die nasionale staat van inperking laat inplof.

Die verlenging sal ook die ekonomiese en maatskaplike gevolge van die pandemie vererger.

“Radikale veranderings in die staat van inperking moet aangebring word. Mense moet toegelaat word om gesond te werk.

“Juis omdat dit noodsaaklik is om die lang stryd teen Covid-19 volhoubaar te maak, is veranderinge aan regulasies noodsaaklik.”

Buys sê voorts sal werkplekke ingrypend verander moet word om mense in staat te stel om “gesond te werk”.

“Alle gesonde werk is noodsaaklike werk. As die ekonomie nie gestimuleer word nie, gaan dit tot grootskaalse werksverlies en maatskaplike onstabiliteit lei.

Dis nodig dat daar ’n skuif gemaak word van net noodsaaklike werkers na almal wat gesond kan werk.

“Ons sal omvattende voorstelle oor ’n strategie vir gesonde werk aan pres. Ramaphosa doen.

“Dis nodig dat daar ’n skuif gemaak word van net noodsaaklike werkers na almal wat gesond kan werk. Die keuse is nie tussen gesondheid en werk nie, maar vir gesonde werk vir soveel as moontlik werknemers,” het Buys gesê.

‘Verantwoordelike besluit gegrond op kundige advies’

Prof. Erwin Schwella, ’n politieke ontleder van die Tilburg-Universiteit in Nederland en die Hugenote Kollege in die Boland, sê Ramaphosa neem verantwoordelike besluite gegrond op kundige advies.

“Hy onderhandel en konsulteer wyd om legitimiteit vir sy besluite en ook morele en materiële steun te kry. Só probeer hy die las versprei en solidariteit bevorder.

“Dit bly egter ’n ope vraag of die hulp wat aangebied word sal wees vir alle Suid-Afrikaners wat swaarkry, ongeag ras.

“Indien nie, benadeel dit steeds die bereiking van die belangrike aspirasie om sosiale samehorigheid te bevorder.”

‘Dit was ’n rasionele besluit’ – Mathekga

Nóg ’n politieke ontleder, dr. Ralph Mathekga, het in sy reaksie aan Netwerk24 gesê Ramaphosa se besluit is rasioneel en op presies die regte tyd geneem.

“Hy bestuur die land se verwagtinge baie goed. Die reëls sal geleidelik verslap word soos die situasie ontwikkel,” sê Mathekga.

“Niemand moet verwag dat ons sommer skielik na normaal sal terugkeer nie.”

Begrip vir president, maar . . .

Dr. Theo de Jager, voorsitter van die landbou-organisasie Saai, sê dié organisasie het begrip vir Ramaphosa se besluit om die tydperk van inperking met nog twee weke te verleng.

“Die einde van ’n inperkingstyd is nie ’n vervaldatum van die koronavirus nie, en sonder die drastiese stappe kan alle vordering wat oor die afgelope twee weke gemaak is, ongedaan gemaak word.

“Die maatreëls wat tydens inperking geld, kan egter meer oorlewingsvriendelik gemaak word – ook vir die land se boerderygemeenskap.”

Hy sê in dié krisistyd het die president nou ’n unieke geleentheid om iets te doen aan van Suid-Afrika se grootste probleme soos nasiebou, ekonomiese verlangsaming weens swak beleid, en misdadigheid.

De Jager het ’n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om “geduldig ’n opoffering te maak”.

Cosatu

Die vakverbond Cosatu het in 'n verklaring gesê dit is tyd dat die regering en die sakewêreld nou die nodige leierskap toon, anders sal die land in 'n verwoestende ekonomiese depressie beland.

Meer oor:  Koronavirus  |  Cyril Ramaphosa  |  Inperking  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.