Die 11de Brics-beraad vind Woensdag en Donderdag in Brasilië plaas.
Pres. Cyril Ramaphosa lei die Suid-Afrikaanse afvaardiging na die beraad in die hoofstad Brasilia.
Die Brics-groepering van lande bestaan uit Brasilië, Rusland, Indië, China en Suid-Afrika wat saam 42% van die wêreldbevolking verteenwoordig.
Die vorige beraad is verlede jaar in Johannesburg gehou.

Pres. Cyril Ramaphosa toe hy verlede jaar voorsitter van die Brics-beraad in Johannesburg was.Foto: Deaan Vivier
Die presidensie sê in ’n verklaring Ramaphosa sal vergesel word van dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Tito Mboweni, minister van finansies, Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, en Ayanda Dlodlo, minister van staatsveiligheid.
Dr. Tshepo Motsepe, Ramaphosa se vrou, reis ook saam Brasilië toe.
Die vernaamste besprekingspunte op vanjaar se beraad is innovasie, die stryd teen transnasionale misdaad, gesondheid en die bevordering van handel en beleggings tussen die Brics-lande.
Die presidensie sê in sy verklaring Suid-Afrika se lidmaatskap van Brics help hom om uitdagings soos armoede, werkloosheid en ongelykheid te pak danksy onder meer ’n toename in handel, beleggings en toerisme en die uitruiling van kundigheid en tegnologie.
Op die beraad sal aandag gegee word aan die totstandkoming van die Brics-adviesgroep oor die vierde nywerheidsrevolusie. Dié revolusie was ook verlede jaar met die beraad in Johannesburg ’n belangrike besprekingspunt.
“Suid-Afrika sal ook die Afrikakontinent en die bevordering van suid-suid-handel op die sakelys plaas,” sê die presidensie.
Omdat adj.pres. David Mabuza ook nie in die land is nie, sal dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, as president waarneem totdat Ramaphosa terug is.