Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril nog stewig agter die stuur, sê sy adjunk

Die land word deur pres. Cyril Ramaphosa en sy kabinet regeer en nie deur dr. Nkosazana Dlamini-Zuma as ’n “magtige eerste minister” nie, sê die adjunk-president.

Adj.pres. David Mabuza. Foto: City Press

Adj.pres. David Mabuza het Donderdag dié versekering aan LP’s gegee toe hy vrae oor onder meer die Covid-19-pandemie en Eskom in die Nasionale Vergadering beantwoord het.

Natasha Mazzone, DA-hoofsweep, het aan Mabuza gesê niemand kan ontken nie dat Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), tans ongelooflike magte het. Sy is feitlik in beheer van die nasionale Covid-19-bevelsraad wie se regulasies “ietwat van ’n gemors en soms ’n verleentheid was”.

“Ons het derhalwe ’n onverkose eerste minister wat regeer deur ’n onverkose sub-parlement van ministers, waar die adjunkpresident op die kantlyn sit en die president skynbaar magteloos is.”

Mazzone wou weet waarom die demokraties verkose parlement nie toesig oor die bevelsraad kan hou nie.

Mabuza het geantwoord die bevelsraad is ’n substruktuur van die kabinet waarin hy saam met Ramaphosa, ander ministers en die NatJoints (die nasionale gesamentlike operasionele en intelligensie-struktuur) dien.

Die bevelsraad doen volgens hom aanbevelings oor die bestuur van Covid-19 aan die kabinet.

“Dit het geeneen van die magte van die drie bene van die staat oorgeneem nie.

Ramaphosa is voorsitter van die bevelsraad en van die kabinet. Niks het skeefgeloop nie.

“Die kabinet is steeds in beheer. As kabinetslede is ons aanspreeklik aan die parlement. Ons het nie daardie verantwoordelikhede geabdikeer nie.”

Volgens hom is Ramaphosa steeds die staatshoof.

“Hy is voorsitter van die bevelsraad en van die kabinet. Niks het skeefgeloop nie.”

Mabuza meen dit is ook “verkeerd om te sê dat Dlamini-Zuma “die eerste minister is”.

“Sy is as Cogta-minister verantwoordelik vir die Rampbestuurwet ingevolge waartoe die staat van inperking ingestel is. Sy stel saam met ander ministers regulasies op. Sy doen net haar werk soos enige ander minister.”

Op die vraag oor waarom hy self vir lank nie in die openbaar gesien is nie, het hy gesê dat hy soos die res van Suid-Afrika ook vir die eerste maand van die inperking in sy huis was.

“Ek kon jou ook nie sien nie,” het hy aan Mazzone gesê.


David Mabuza oor Eskom

Mabuza het ook aan LP’s gesê dat Eskom in die regte rigting beweeg en begin stabiliseer sedert André de Ruyter as nuwe uitvoerende hoof aangestel is.

“Ons begin ook nou gereeld verslae oor instandhoudingswerk aan Eskom se verouderende kragstasies kry.

“Ons is bly hy (De Ruyter) het openlik gesê beurtkrag sal weens die instandhoudingswerk nog vir die afsienbare toekoms met ons wees.”

Volgens Mabuza het Suid-Afrika eenvoudig nie genoeg elektrisiteit vir ’n ekonomie van sy grootte nie.

“Daarom het ons aangedring dat Eskom sy bouprogram bespoedig. Ons is verheug dat die nuwe Medupi-kragstasie volgens Eskom se projeksie in 2020 voltooi sal word. Dit sal bykomende vermoë tot die kragnetwerk voeg.”

Eskom het weens tegniese probleme by die nuwe Kusile-kragstasie volgens Mabuza ook eksterne kundiges tydens die inperking ingekry om te help.

Ons is bly hy (De Ruyter) het openlik gesê beurtkrag sal weens die instandhoudingswerk nog vir die afsienbare toekoms met ons wees.

Mabuza het bygevoeg prosesse is aan die gang wat die regering in staat sal stel om ’n bykomende 2 000 MW se elektrisiteit van onafhanklike opwekkers te koop.

Hy het bygevoeg dat die regering binnekort ’n veldtog sal begin om gemeenskappe landwyd aan te moedig om vir hul elektrisiteit en ander dienste te betaal.

Munisipaliteite sal ook gehelp word om hul skuld van sowat R28 miljard aan Eskom te betaal. Staatsinstansies gaan ook gedruk word om hul agterstallige munisipale rekeninge te betaal.

Mabuza het erken dat onwettige elektrisiteitsverbindings ’n enorme probleem vir Eskom is en het gesê “ons nie kan toelaat dat dié wetteloosheid voortduur nie”.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.