Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril nooi Statebond-beleggers na SA

Pres. Cyril Ramaphosa het op die prestigeryke banket van die Statebond se sakeforum in Guildhall, Londen, beleggers in Statebondslande genooi om in Augustus en September die groot beleggingskonferensie wat Suid-Afrika gaan hou, by te woon.

Dié konferensie is deel van die groot plan wat Ramaphosa vandeesweek aangekondig het om in die volgende vyf jaar beleggings van R1 200 miljard na die land te lok.

Pres. Cyril Ramaphosa gesels Dinsdagaand met Charles Bowman, burgemeester van Londen, op die banket van die Statebond se sakeforum in Guildhall, Londen.Foto: Reuters

Die leiers van 53 lande oor die wêreld heen, wat altesame 2,4 miljard mense verteenwoordig, woon Donderdag en Vrydag die Statebondleiersberaad in Londen by.

Verskeie sake van wêreldbelang sal daar bespreek word.

Ramaphosa sou Woensdagoggend ook Afrika-leiers toespreek wat die beraad bywoon en saam met Theresa May, die Britse premier, gaste by ’n byeenkoms toespreek wat Bloomberg vir Statebondleiers aanbied. Verskeie topsakelui woon dit by.

“Ons is besig om die beleggingsomgewing (in Suid-Afrika) te verbeter deur onder meer beleidsekerheid en konsekwentheid, die verbetering van die vertoning van staatsbeheerde ondernemings en die konsolidering van fiskale skuld.

“Dit is die begin van ’n nuwe era. Suid-Afrika is vasbeslote om ’n betekenisvolle vennoot in Afrika te wees. Suid-Afrika wil ook die Statebond help,” het die president Dinsdagaand aan die uitgelese groep gaste op die banket van die Statebond se sakeforum gesê.

Ramaphosa het aan die gaste gesê hy het vier gesante aangestel om die wêreld te deurkruis en beleggings na Suid-Afrika te lok.

Die president sê hy het meer as 20 jaar gelede op versoek van wyle oudpres. Nelson Mandela laas dié banket toegespreek.

Die vorige keer was dit ’n ideale geleentheid om kontakte te bou.

“As president van Suid-Afrika is ek hier om goeie transaksies te beklink en beleggings na die land en die res van Afrika te lok.”

Ramaphosa sê die regering moedig sakeondernemings in Suid-Afrika aan om uit te reik na die land se Statebond-bondgenote oor die wêreld heen om nouer bande te smee en groter handel en beleggings moontlik te maak.

“Dit is beduidend dat die meeste lidlande van die Statebond ontwikkelende lande is wat dieselfde maatskaplike en ekonomiese uitdagings soos armoede en ongelykheid ondervind en wat steeds onderontwikkel is.”

Baie van dié lande het ’n tekort aan behoorlike infrastruktuur, ’n beperkte vervaardigingskapasiteit en dikwels ’n swak onderwysstelsel.

Die Statebond het ’n kritieke rol te speel om dié uitdagings te takel, sê Ramaphosa.

“Ons moet worstel met die moontlike impak wat die sogenaamde vierde nywerheidsrevolusie op ons ekonomieë sal hê. Baie van ons is reeds kwesbaar vir eksterne skokke. Baie van ons mense het nie die vaardighede vir ’n vinnig veranderende werkplek nie.

“Die uitdagings en geleenthede wat die vierde nywerheidsrevolusie vir ons inhou, moet ’n belangrike gesprekspunt op die sakelys van die Statebond wees,” sê Ramaphosa.

Meer aandag moet ook gegee word aan ons mensepotensiaal, sê hy.

Die negatiewe en positiewe invloed van Brittanje se onttrekking aan die Europese Unie (Brexit) moet verder deeglik bespreek word.

Die skepping van ’n vryehandelsone in Afrika sal baie help om vrye handel op dié vasteland te vergemaklik. Maar om dit reg te kry, is dit nodig dat onder meer die infrastruktuur in Afrika verbeter moet word om goedere tussen lande te kan vervoer.

Meer oor:  Pres. Cyril Ramaphosa  |  Engeland  |  Politiek  |  Beleggers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.