Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril oor Magashule en ander kwessies
Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Daily Sun

Die ANC moet toegelaat word om self te besluit hoe hy intern moet optree teen senior leiers soos Ace Magashule en ander wat van ernstige korrupsie beskuldig word, het pres. Cyril Ramaphosa Donderdagmiddag in die parlement gesê.

Hy het mondeling vrae in die Nasionale Vergadering beantwoord en ook oor verskeie ander kwessies gepraat.

Hier is ’n opsomming van wat hy daaroor gesê het:

Waarom is Magashule, beleërde ANC-sekretaris-generaal, en adv. Bongani Bongo, ’n ANC-LP, steeds in hul partyposte ondanks ernstige korrupsieaanklagte teen hulle?

“Die kwessie van ANC-leiers is iets wat die party hanteer. Die ANC sal dit deur sy eie prosesse pak,” sê Ramaphosa.

“Laat ons wag vir hierdie prosesse om te ontvou. Die kwessie sal met tyd aandag kry en almal sal weet hoe die ANC optree.”

Hoe vorder die stryd teen korrupsie en staatskaping?

Ramaphosa sê die onlangse inhegtenisneming en hofverskyning van verskeie hoëprofiel-politici en sakemense is duidelik ’n bewys dat vordering gemaak word.

Hy het bygevoeg dat alle wetstoepassingsagentskappe ook versterk is en tans gekoördineerd saamwerk om sowat 223 korrupsie- en staatskapingsake te ondersoek en te vervolg.

Hy het verwys na die nasionale vervolgingsgesag se ondersoekende direktoraat wat op ernstige korrupsie- en staatskapingsake fokus en wat reeds personeel van die polisie, Valke en die polisieondersoekdirektoraat in diens geneem het.

Dit het ook forensiese en regskundiges van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, die spesiale ondersoekeenheid, die Finansiële Intelligensiesentrum (FIS), die Reserwebank en die Staatsveiligheidsagentskap bekom.

Verder kan die Zondo-kommissie ook inligting en getuienis met ander wetstoepassingsagentskappe deel wat terselfdertyd parallel-ondersoeke kan dryf. Gesteelde geld sal ook deur siviele hofsake deur die Spesiale Tribunaal verhaal word.

Waarom maak hy nie die geseëlde bankstate en dokumente openbaar oor wie almal sy CR17-veldtog om ANC-president te word gefinansier het nie?

Ramaphosa sê dit is die FIS en nie hy nie wat daarteen gekant is dat hierdie inligting openbaar gemaak word. Hy sê daar is ’n hofsaak daaroor aan die gang en dat daar vir die uitspraak gewag moet word.

Hy het volgehou dat daar geen korrupsie of enige vorm van onbehoorlike gedrag was in sy CR17-veldtog nie.

Volgens hom is daar geen wette wat die verklaring van skenkings vir interne veldtogte vir leierskapsposisies in politieke partye reguleer nie en moet die parlement daaroor besluit.

Die uitgebreide werkloosheidskoers wat skerp tot 43,1% gestyg het

“Ja, ons werkloosheid het gestyg. Die syfers wat vandag uitgekom het, is ’n meer korrekte weerspieëling van wat ons verwag het.

“Die vorige syfers het getoon dat werkloosheid afgeneem het, maar dit was weens Covid-19 nie ’n regte weerspieëling nie.

“Die syfers is meer korrek. Dit is skokkend, maar terselfdertyd realisties.”

Volgens hom is 543 000 nuwe werkgeleenthede egter al in die formele en informele sektor en die landbou geskep.

Ramaphosa erken Suid-Afrika het 2 miljoen werkverliese gehad, maar glo dat die ekonomiese herstelplan meer werke sal skep.

Meer oor:  Anc  |  Ace Magashule  |  Cyril Ramaphosa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.