Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril: Owerhede kan bewerings teen ministers ondersoek

Niks verhoed die relevante owerhede in die strafregstelsel om bewerings van wandade deur ministers, soos voor die Zondo-kommissie getuig is, onmiddellik te begin ondersoek nie, sê pres. Cyril Ramaphosa.

Dit was in antwoord op ’n vroeëre parlementêre vraag van Mkhuleko Hlengwa, IVP-LP, wat wou weet of hy sal optree teen Nomvula Mokonyane, minister van omgewingsake, Gwede Mantashe, minister van mineralebronne, en Thabang Makwetla, adjunkminister van justisie en korrektiewe dienste.

Hulle is onlangs by bewerings van omkopery deur die geriewebestuursmaatskappy Bosasa voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping betrek.

Pres. Cyril RamaphosaFoto: DEAAN VIVIER

Luidens Ramaphosa se antwoord, wat Vrydag deur die parlement uitgereik is, is die Zondo-kommissie nog besig met sy ondersoek na staatskaping, korrupsie en bedrog in die regering en sy instellings.

“As die kommissie sy werk afgehandel het, sal dit bevindinge en aanbevelings aan die president maak. Die president sal vir die verslag wag voordat hy sal bepaal hoe daar teen selfs kabinetsministers opgetree moet word, sou hulle geïmpliseer word.

“Niks verhoed egter die relevante owerhede in die strafregstelsel om bewerings van wandade deur ministers of enige ander geïmpliseerde mense te ondersoek nie. In sulke gevalle moet die regsprosesse hul gang gaan,” het Ramaphosa geantwoord.

Deidre Carter, Cope-LP, wou in nog ’n parlementêre vraag by Ramaphosa weet of hy al enige stappe gedoen het om die aanbeveling van die Nugent-kommissie in werking te stel. Dit sluit in dat strafregtelike klagte teen Tom Moyane, voormalige kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), ingedien word oor ’n tender wat hy glo onregmatig toegeken het.

Ramaphosa het in sy parlementêre antwoord hieroor gesê dat sy regering reeds met die inwerkingstelling van die mees dwingende aanbevelings van die Nugent-kommissie begin het.

“Dit het ingesluit die beëindiging van Tom Moyane se termyn as SAID-kommissaris op 1 November, sowel as om die proses te begin om ’n nuwe kommissaris aan te stel. Die nuwe kommissaris sal binnekort aangestel word.

“Terwyl sommige van die organisatoriese aanbevelings net deur die kommissaris geïmplementeer kan word, het die minister van finansies (Tito Mboweni) in sy begrotingsrede aangekondig dat die waarnemende kommissaris reeds stappe gedoen het.”

Volgens Ramaphosa sluit dit onder meer die herinstelling van ’n sake-eenheid vir groot ondernemings in, wat amptelik op 1 April bekend gestel sal word.

Dit sluit ook ’n eenheid in wat belastingontduikingskemas in hoërisiko-sektore, soos die tabakbedryf, sal ondersoek. Ooreenkomste sal ook met ander belastingowerhede aangegaan word om oorgrens-belastingontduiking te bestry.

Ramaphosa het bygevoeg dat kontrakte wat onreëlmatig toegeken is, hersien sal word en dat die geld verhaal sal word.

Volgens hom sal wysigings aan wetgewings ook later vanjaar ingestel word, wat aan ’n aantal van die aanbevelings sal aandag skenk. Regter Dennis Davis is ook versoek om die belastinggapings te ondersoek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.