Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril praat in parlement oor Trump se twiet

Pres. Donald Trump van Amerika se omstrede twiet oor Suid-Afrika se grondhervormingsplanne gaan Dinsdag hoog op pres. Cyril Ramaphosa se agenda wees in ’n vraag-en-antwoordsessie in die parlement.

Hy sal praat oor die jongste verwikkelinge oor grondhervorming, sowel as die regering se standpunt oor Trump se opmerkings oor die grondkwessie in Suid-Afrika en die gevolge wat dit vir die diplomatieke betrekkinge tussen Suid-Afrika en Amerika kan hê, het Khusela Diko, Ramaphosa se woordvoerder, Maandag gesê.

Pres. Cyril Ramaphosa

“Pres. Ramaphosa het konsekwent aangedui dat die proses van grondhervorming binne die raamwerk van die Grondwet onderneem sal word en op ’n wyse wat die ekonomie sal laat groei, voedselsekerheid sal verseker en landbouproduksie verhoog,” het Diko in ’n verklaring gesê.

Trump het verlede maand onder meer getwiet dat hy ná ’n nuusberig oor Suid-Afrika se grondhervormingsplanne op die konserwatiewe Amerikaanse TV-stasie Fox News vir Mike Pompeo, Amerikaanse minister van buitelandse sake, opdrag gegee het om die grondkwessie en die beslaglegging en onteiening van plase en grootskaalse plaasmoorde in Suid-Afrika deeglik te ondersoek.

Trump is wyd in Suid-Afrika, ook deur Ramaphosa, daaroor veroordeel.

Ander kwessies waaroor Ramaphosa in Dinsdag se vraag-en-antwoordsessie in die Nasionale Raad van Provinsies sal praat, is werkskeppingsprojekte vir jeugdiges, sowel as die bestuur van staatsentiteite en hul ontwikkelingsrol om Suid-Afrika se ekonomie te laat groei.

Hy sal ook meer inligting gee oor die voorwaardes van lenings wat die Chinese Ontwikkelingsbank onlangs aan Eskom en Transnet toegestaan het.

Volgens Diko sal hy die vordering met die proses van leefstyl-oudits vir senior staatsamptenare as deel van die regering se verbintenis tot die bestryding van korrupsie bespreek.

Ramaphosa het Maandag in Durban, toe hy die eerste konferensie van die Internasionale Telekommunikasie-unie in Afrika geopen het, gesê beleggings in die inligtings- en kommunikasietegnologiesektor is ’n kerndeel van sy plan om $100 miljard se beleggings na Suid-Afrika te lok.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.