Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril praat Sondagaand met SA oor OB se verslag
cyril ramaphosa, ob

Pres. Cyril Ramaphosa sal Sondagaand op adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), se bevindinge teen hom reageer.

Die presidensie het aangedui dat Ramaphosa die media om 18:00 in die Uniegebou in Pretoria gaan toespreek. Dit kom nadat Mkhwebane bekend gemaak het dat sy onder meer bevind het dat hy die parlement opsetlik mislei het en die etiese kode vir die uitvoerende gesag oortree het.

Ramaphosa het Vrydag aangedui dat hy die verslag bestudeer en 'n besluit oor enige verdere optrede sal neem.

Mkhwebane se ondersoek hou verband met 'n R500 000-skenking van die omstrede dienstemaatskappy Bosasa aan hom vir sy interne veldtog in 2017 om die ANC-president te word.

Die presidensie het Vrydag bevestig dat die president die OB se verslag ontvang het. Dit nadat hy op 30 Maart 'n kennisgewing van die OB ontvang het, waarin sy haar voorlopige bevindinge uiteensit.

“Die president het op 27 Junie 'n omvattende reaksie tot die art. 7 (9)-kennisgewing by die OB ingedien en in besonderhede areas hanteer waar die voorlopige bevinding beide feitelik en in terme van die wet gebrekkig was.

“Dit is egter jammer dat dit uit 'n vlugtige lees van die finale verslag blyk dat die president se reaksie op die art. 7 (9)-kennisgewing nie behoorlike oorweging gegee is nie. Nietemin sal die president die OB se verslag bestudeer en 'n besluit neem oor enige verdere optrede,” lui die verklaring.

cyril ramaphosa
Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Jaco Marais
jaco marais

Mkhwebane se ondersoek na Ramaphosa het op klagtes deur onder meer die DA en die EFF gevolg. Die partye het versoek dat sy ondersoek instel oor of Ramaphosa die parlement doelbewus mislei het oor die R500 000-skenking wat die omstrede dienstemaatskappy aan sy interne veldtog gemaak het om in 2017 die president van die ANC te word en om te bepaal of daar 'n onbehoorlike verhouding tussen hom en Bosasa was.

Dit was nadat Ramaphosa erken het dat dié veldtog onder meer deur Bosasa gefinansier is. Hy het egter gesê dat dié skenking sonder sy medewete was. Hy was onbewus daarvan totdat hy op 6 November in vraetyd in die Nasionale Vergadering deur Mmusi Maimane, die DA-leier, daaroor uitgevra is.

Maimane het Ramaphosa op dié dag gevra of hy bewus is van 'n R500 000-skenking wat Bosasa aan Andile Ramaphosa, sy seun, gemaak het. Ramaphosa het tóé gesê dat sy seun konsultasiewerk vir Bosasa gedoen het.

Ramaphosa het egter tien dae later in 'n brief aan Baleka Mbete, speaker van die NV, gesê dat hy “onopsetlik” die verkeerde inligting aan die parlement gegee toe hy dié inligting verskaf het en dat hy sy antwoord wil regstel. Hy het in die brief aangedui dat nadat hy meer inligting ingewin het, is hy ingelig dat die betaling waarna Maimane verwys het, nie verband hou met Andile se kontrak met Bosasa nie, maar dat Gavin Watson, uitvoerende hoof van Bosasa, dit in 'n trustrekening gemaak het wat gebruik is om geld in te samel vir sy veldtog om die ANC-president te word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.