Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril ‘sal gou moet sê oor Jiba en Mrwebi’

Pres. Cyril Ramaphosa sal reeds Donderdag of Vrydag moet besluit of hy twee hooggeplaastes in die nasionale vervolgingsgesag (NVG) in die pad moet steek, want dit is wanneer hul skorsingstydperk tot ’n einde kom, sê adv. Glynnis Breytenbach, DA-LP en voormalige senior aanklaer.

Vroeër is oor die uitgelekte verkorte verslag oor die geskiktheid van advv. Nomgcobo Jiba en Lawrence Mrwebi, onderskeidelik nasionale adjunkdirekteur van openbare vervolging en hoof van die gespesialiseerde handelsmisdaadeenheid, vir hul poste berig.

Advv. Lawrence Mrwebi (links) en Nomgcobo Jiba in ’n teepouse van die Mokgoro-kommissie van ondersoek. Foto: Sarel van der Walt

In dié verslag deur die kommissie van ondersoek onder leiding van oudregter Yvonne Mokgoro, word Ramaphosa aangeraai om Jiba en Mrwebi weens onbevoegdheid af te dank. Breytenbach was een van die getuies voor die kommissie.

Sy het Donderdag gereageer op die vraag of sy dink Ramaphosa sal sy besluit eers ná die verkiesing bekend maak.

“Nee, hy kan nie (so lank wag nie). Hy sal dit nou moet doen, voor hul skorsingstydperk verval, anders kan hulle net weer terugkom werk toe. Ek dink dit verval vandag (Donderdag) – of môre (Vrydag),” het sy gesê.

Zola Majavu, Jiba se prokureur, sê egter hy weet nie wanneer sy kliënt se skorsing tot ’n einde kom nie.

“Sy (Jiba) weet ook nie. Ons wag om van die president te hoor,” het hy by navraag volgehou.

Jiba en Mrwebi is geskors hangende die kommissie se ondersoek.

Jiba word daarvan beskuldig dat sy by die NVG na oudpres. Jacob Zuma se belange omgesien het en hom en mense naby aan hom beskerm het. Sy en Mrwebi het ten nouste saamgewerk.

Luidens die verslag het haar besluite as adjunkdirekteur, “wat almal op hersiening geneem is”, asook die kritiek van die howe teen haar, “skande oor die NVG gebring”.

“Mrwebi se optrede was openlik strydig met wat van ’n persoon in sy posisie verwag word. Dit is daarom duidelik dat hy versuim het om sonder begunstiging en vooroordeel op te tree,” lui die verslag verder.

Breytenbach het Donderdag in ’n verklaring gevra dat Jiba en Mrwebi ook vervolg word.

As die berigte akkuraat is, is dit inderdaad ’n goeie dag vir die NVG en die strafregstelsel in sy geheel.

“Ek bedoel nie net strafregtelike vervolging nie, maar ook dissiplinêr, soos (onder meer) weens die versuim om hul ampseed te handhaaf en weens magsmisbruik,” het sy by navraag gesê.

“As die berigte akkuraat is, is dit inderdaad ’n goeie dag vir die NVG en die strafregstelsel in sy geheel,” lui Breytenbach se verklaring.

“As die berigte korrek is, het pres. Cyril Ramaphosa geen ander uitweg as om hulle albei af te dank nie en die NVG moet dan ernstig oorweeg om hulle albei te vervolg.”

Amos Vilakazi, Mrwebi se prokureur, is om kommentaar genader. Sy kommentaar sal bygewerk word sodra dit ontvang word.

Majavu het vroeër namens Jiba gesê hulle het vertoë tot die president gerig en wag op sy finale besluit voordat hulle kommentaar sal lewer.

“Ons wag ook op die uitspraak van die konstitusionele hof, wat voorbehou is. Ons kliënt se volledige reaksie op die verslag is vervat in ons vertoë aan die president en sal in die toekoms openbaar gemaak word sodra die proses afgehandel is.”

Dié uitspraak hou verband met Jiba en Mrwebi se vroeëre skrapping van die rol van advokate nadat hulle strafregtelike aanklagte teen Richard Mdluli, geskorste hoof van die polisie se misdaadintelligensie-eenheid, teruggetrek het.

Hul status is egter deur die appèlhof herstel en albei het na die NVG teruggekeer.

Die Algemene Balieraad van Suid-Afrika het hom toe tot die hoogste hof gewend. Die saak is in Maart vanjaar aangehoor en uitspraak is voorbehou.

Adv. Gerrie Nel van AfriForum se private vervolgingseenheid staan sedert November 2017 gereed om Jiba weens meineed en regsverydeling te vervolg indien die NVG haar nie self vervolg nie.

Adv. Phyllis Vorster van Nel se kantoor het Donderdag bevestig dat hulle tans onder die NVG vuurmaak om die besluit oor vervolging te bespoedig.

Die NVG het by navraag gesê hy gaan nie in hierdie stadium kommentaar lewer nie.

Ramaphosa se woordvoerder het gedurende die dag nie op enige oproepe of boodskappe gereageer nie.

Hyperlink: 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.