Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril se besluit ‘gaan in konstitusionele hof draai’

Pres. Cyril Ramaphosa se besluit om adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), se verslag oor hom op hersiening te laat neem gaan beslis in die konstitusionele hof draai, meen sommige politieke ontleders.

Dít nadat hy Sondagaand op ’n mediakonferensie by die Uniegebou in Pretoria aangedui het dat hy Mkhwebane se verslag dringend in die hof op hersiening wil laat neem.

“Hoe gouer die kwessie hanteer word, hoe beter. Ons wil ’n versnelde, dringende hersiening hê,” het Ramaphosa gesê.

Ramaphosa moet terugstaan, vra EFF

Minstens een politieke party, die EFF, het gevra dat Ramaphosa as president terugstaan terwyl die OB se verslag op hersiening geneem word en totdat sy naam skoon is.

“Geen dienende president behoort in konflik te wees met ’n hoofstuk 9-grondwetlike instelling omdat hy aan sekere goed skuldig bevind is nie,” lui hul verklaring.

Die OB het bevind dat Ramaphosa die parlement mislei het oor ’n R500 000-skenking van die maatskappy Bosasa vir sy presidensiële veldtog in 2017.

Politieke ontleders het uiteenlopend op Ramaphosa se aankondiging gereageer.

Draai by konstitusionele hof

Theo Venter, politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit, reken Ramaphosa het presidensieel opgetree en dat hy die waardigheid van sy kantoor gehandhaaf het.

“Hy het basies gesê hier is ’n saak vir die konstitusionele hof, dat dit nie die einde daarvan is nie. Dit sal beslis in die konstitusionele hof draai.”

Volgens hom het die OB gebruik gemaak van die uitspraak ten opsigte van die bindende aard van haar besluite gegrond op bevindings van die vorige OB.

“Sy het egter nie haar huiswerk behoorlik gedoen nie. Sy neem nou aan dat haar bevindings bindend is, maar sonder die deeglike werk wat die vorige OB gedoen het. Die bevindings van die huidige OB is nie deeglik genoeg nie, want sy streef politieke en ideologiese agendas na,” het Venter gesê.

Cyril se verduideliking 'onvoldoende'

Ralph Mathekga, onafhanklike politieke ontleder, het op sy beurt gesê Ramaphosa se verduideliking was “onvoldoende.” Hy het na tegniese aspekte verwys terwyl mense “die waarheid” wou hoor.

“Ek het gedink dat die president meer sou verduidelik oor die skenkings wat hy vir sy veldtog ontvang het. Daar is toenemende nuuskierigheid oor hoeveel die president eintlik aan sy veldtog bestee het. Dit is baie geld vir die president om nie van te weet nie.

“Dit is baie belangrik dat hy die basiese goed weet – dit is te vroeg in sy termyn om nie sleutelbesonderhede van sy presidensie te hê nie.

“Toe hy gesê het hy is ‘Meneer Skoon’, het hy die integriteitsroete geneem. Dit was met die verstandhouding dat hy ‘skoon’ sou wees. Ek is bevrees sy antwoorde en verduidelikings was onvoldoende.

“Mense wil weet wie die geld geskenk het en wat hulle in ruil daarvoor verwag. Hy kan nie onbewus wees van so baie geld nie,” het Mathekga gesê.

OB-verslag 'skiet tekort'

Ramaphosa het Mkhwebane se verslag oor die skenking vir sy CR-17-veldtog in 2017 as “baie ernstig” bestempel.

Sy het bevind dat hy die etiese kode vir die uitvoerende gesag en die Grondwet oortree het.

“Alle Suid-Afrikaners behoort bekommerd te wees dat ’n kantoor soos dié van die OB bevindinge van dié aard teen die staatshoof gemaak het. Dit is dus noodsaaklik dat sulke bevindinge op feite geskoei is – dat dit ’n grondige regsbasis het, rasioneel is en dat daar deur ’n regverdige, onpartydige en wetlike proses tot dié gevolgtrekkings gekom is,” het Ramaphosa gesê.

“Ongelukkig skiet die OB se verslag te kort en stel dit nie tevrede ten opsigte van al dié kritieke vereistes nie.”

Ná deeglike bestudering daarvan het Ramaphosa bevind dat die verslag “fundamenteel en reddeloos” gebrekkig is. Dit is deur sy regspan bevestig.

“Die bevindings is verkeerd kragtens die wet, irrasioneel en het in sommige gevalle die magte van die openbare beskermer oorskry. Omdat sy my nie die geleentheid gegun het om op die voorgestelde remediërende optrede te reageer nie, het die OB die voorskrifte van die Wet op die Openbare Beskermer, die Grondwet en die beginsels van gemene reg oortree.”

Gegewe dié gebreke en in pas met die land se Grondwet is dit gepas dat die howe ’n finale en onafhanklike bevinding maak oor die kwessie, het Ramaphosa gesê.

Respek vir kantoor van OB

Hy het beklemtoon dat hy die kantoor van die OB respekteer.

“My besluit om die kwessie op hersiening te laat neem moenie beskou word as kommentaar op die persoon, haar bevoegdheid of motiewe van die OB nie. Dit is gemotiveer deur ’n bepaling dat die wet korrek en konsekwent toegepas moet word,” het Ramaphosa gesê.

Hy het op ’n vraag oor die miljoene rande wat uiteindelik aan sy veldtog geskenk is, toegegee dat “taamlik baie geld” ingesamel is. Dit is vir verskeie aktiwiteite gebruik soos vervoer, vergaderplekke en vir saamtrekke – dit is gebruik om die hele land te deurkruis.

Amper almal wat aan die interne ANC-veldtog deelgeneem het, het “taamlik baie” geld ingesamel. Die enigste een waarvan almal nou weet, is die CR-17 een. 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.