Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril se 1ste 100 dae: Kenners se indrukke

Vrydag 25 Mei is pres. Cyril Ramaphosa 100 dae in sy amp as staatshoof. Ons kyk wat hy reeds reggekry het en wat sy grootste uitdagings is. Gert van der Westhuizen en Sarel van der Walt het met kenners gepraat oor hul indrukke van sy presidentskap tot dusver.

Die mense se president? Pres. Cyril Ramaphosa toe hy verlede maand die Tembisa-hospitaal in Gauteng besoek het. Foto: Felix Dlangamandla

Kenners en ontleders is dit eens dat vuisvoos Suid-Afrikaners buitengewoon hoë verwagtinge van Ramaphosa gehad het nadat hy as president by Jacob Zuma oorgeneem het. 

“Suid-Afrikaners is ’n vreemde klomp,” sê die politieke ontleder Ralph Mathekga. “Jy kan nie stort toe gaan en die laaste sewe jaar van die Zuma-bewind sommer net afwas nie. Ons is baie onrealisties en het ons sin vir perspektief verloor.

“Kyk net wat hy geërf het. Die probleme was oraloor baie erg. Ek weet nie wat mense wil hê hy meer moes gedoen het in 100 dae nie.”

Pieter Labuschagne, emeritus-professor in politieke wetenskap aan Unisa, stem saam dat Ramaphosa oneindig baie probleme by sy voorganger geërf het.

“Onder Zuma het die staat op die randjie van ineenstorting gestaan. Daar was stelselmatige korrupsie terwyl sekere besluite vanweë staatskaping nie meer deur die staat geneem is nie. Boonop het patronaatskap meegebring dat onbekwame mense in sleutelposisies aangestel en behou is.”

Pres. Cyril Ramaphosa en oudpres. Kgalema Motlanthe by ’n vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee verlede maand in Boksburg, Gauteng. Foto: Elizabeth Sejake

Dit alles het beteken dat die regering nie armoede kon verlig nie en ook nie veel aan die grondkwessie kon doen nie, sodat dit ’n sterk verdelende faktor geword het.

“Ramaphosa het dus ’n feitlik onmoontlike taak gehad met Suid-Afrika wat soos die Titanic op pad na ’n ysberg toe was. Die probleme was só groot dat dit moeilik was om die skip wat op pad was na ’n watergraf, om te draai.”

Dr. Piet Croucamp, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit, meen Ramaphosa het met die aanstelling van sleutelpersoneel in sy kabinet en staatsbeheerde ondernemings Suid-Afrika waarskynlik van die afgrond van ekonomiese ineenstorting weggetrek.

Volgens Labuschagne lyk dit of die nasionale vervolgingsgesag vir die eerste keer in jare ook meer ywer in hul ondersoeke na korrupsie toon.

Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA, is veral beïndruk met “die regte ministers wat in kernportefeuljes aangestel is”. Hy noem veral die name van Nhlanhla Nene as minister van finansies, Pravin Gordhan as minister van openbare ondernemings, en dr. Zweli Mkhize as minister van samewerkende regering en tradisionele sake.

Labuschagne is dit met Van Zyl eens, maar meen ander onbevoegde ministers kan ook die trekpas kry omdat die kabinet in elk geval te groot is.

Ramaphosa kan gerus ook ontslae raak van adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer, wat haar pos onder Zuma gekry het.

Die ingrypings by verskeie staatsbeheerde ondernemings soos Eskom, die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, asook in Noordwes as provinsie, is volgens kenners van die ander positiewe dinge wat in Ramaphosa se eerste 100 dae gebeur het, en wat ’n beter toekoms beloof.

Grondhervorming

“Maar daar moet nog baie gedoen word om ons van die fiskale afgrond weg te hou,” sê Van Zyl.

“Daar moet aandag gegee word aan die land se  skuldverhouding, en die bloeding by staatsbeheerde ondernemings moet baie vinnig gestop word.”

Van Zyl glo ekonomiese groei moet veral in die landbousektor gesteun word.

Onteiening van grond sonder vergoeding is juis een van die kwessies wat druk bespreek word sedert Ramaphosa president geword het.

“Beleidsonsekerheid oor onteiening sonder vergoeding vier hoogty en dit skep akute onsekerheid onder beleggers in die landbougemeenskap en daarbuite.”

Dr. David Masondo, lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee, stem nie saam nie.

“Pres. Ramaphosa het die kwessie van grondhervorming saam met die ANC en die regering baie goed hanteer. Dit het nie die ekonomie ontwrig nie en Suid-Afrikaners het steeds hoop en vertroue dat ons uiteindelik ’n oplossing vir die grondhonger in die land sal kry.”

Die heraanstelling van Nhlanhla Nene as minister van finansies word bestempel as een van pres. Cyril Ramaphosa se goeie stappe in sy eerste 100 dae as staatshoof. Foto: Argief

Die herverdeling van grond is noodsaaklik vir die bou van ’n nierassige Suid-Afrika en ekonomiese groei, meen Masondo, ook voorsitter van een van die vier kommissies wat voorstelle oor die eiendomsklousule van die Grondwet, die herverspreiding van grond, grondrestitusie en landbouhervorming op die ANC se grondberaad gedoen het. 

Maklik gaan dit nie wees nie. Daar is verdeeldheid in die ANC oor hoe presies grond herverdeel moet word. Een groep is ten gunste van die huidige privaatbesit en voel grond moet net onteien word onder sekere toestande, soos wanneer dit nie gebruik word nie.

’n Ander groep wil hê die stelsel van privaatbesit moet vervang word met een waarin die staat beheer oor grond sal hê en dit op grond van behoefte toeken, sê Masondo.

Verdeelde ANC ’n uitdaging

Volgens Croucamp is grondhervorming onder Ramaphosa se leiding “uit die ideologiese loopgraaf geneem en na die terrein van rasionele oorweging gesleep”.

Die grondkwessie kan dalk in die komende dekades een van die grootste bemagtigingsprojekte in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse ekonomie word.

“Ramaphosa se klem op eienaarskap vir gewone mense en die feit dat die proses streng volgens ’n openbare proses moet verloop, is aan sy leierskap te danke,” sê Croucamp.

Labuschagne sê die herverdeling van grond kan moontlik die ekonomie en voedselsekerheid in gevaar stel, en dit sal omsigtig en met goeie beplanning gedoen moet word. 

Die moontlikheid van grondonteiening skep voorts groot onsekerheid onder minderheidsgroepe soos wit en bruin mense, en hulle kan uitgesluit voel.

Dit is die grootste punt van kritiek wat hy teen Ramaphosa het.

“Die inklusiwiteit waarvan Ramaphosa in sy eerste toespraak groot gewag gemaak het, het van minder belang geword.

“Ramaphosa is almal se president – hy is nie net regeringshoof nie, maar ook staatshoof. ’n President is staatshoof ook en moet verenig en nie verdeel nie. Hy moet die steun van alle Suid-Afrikaners agter hom kry sodat almal saam ’n groot verskil maak.”

Grondhervorming was fel in die kollig in pres. Cyril Ramaphosa se eerste 100 dae as president. Foto: Argief

Mathekga sê Ramaphosa sal eers die ANC agter hom moet verenig. “Die hergroepering van die ANC is sy grootste probleem.

“Ramaphosa moet oor alles onderhandel. Hy kan nie soos Zuma ’n hamer gebruik om dinge mee reg te slaan nie.

“Dit is ook ’n probleem dat hy nie ’n mandaat het nie. Hy gebruik nou die laaste bietjie van Zuma se oorblywende mandaat. Hy sal eers meer kragdadig kan optree as hy ’n mandaat van die mense van Suid-Afrika gekry het.

“Hy kan nie sê Suid-Afrikaners is lief vir hom nie, omdat hulle nog nie vir hom gestem het nie. As hy met aanstaande jaar se verkiesing ’n mandaat by die land se kiesers kry, sal sy paadjie vorentoe baie makliker wees.”

Croucamp en Labuschagne stem saam dat Ramaphosa se grootste uitdaging en swakplekke binne die ANC self is.

“Daar is steeds te veel mag gesetel in faksies buite sy beheer in die provinsies,” meen Croucamp.

“Sy teenstanders en vyande in sy eie party is steeds baie sterk,” meen Croucamp.

Mathekga sê hy deel nie sommer lof uit nie, maar Ramaphosa het ondanks al die probleme wat nog opgelos moet word, oorwegend ’n positiewe indruk gemaak.

“Hoeveel ander presidente in Afrika en in die wêreld sal die helfte van hul salarisse afstaan? (Ramaphosa het vandeesweek gesê dat hy die helfte van sy salaris vir so lank as wat hy president is, sal skenk aan ’n liefdadigheidsfonds ter herdenking aan oudpres. Nelson Mandela.) 

“Dit is maar een van die goeie dinge wat hy gedoen het en wat sy kritici dalk net van die Marikana-kwessie kan laat vergeet,” sê Mathekga.

Volgens Croucamp is Ramaphosa ’n president waarop Suid-Afrikaners trots kan wees.

“Daar is werk, maar daar is ook hoop.”

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Cyril100
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.