Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril se eerste 100 dae: Wat het hy vermag?

Vrydag, 25 Mei, is pres. Cyril Ramaphosa presies 100 dae in sy amp. Netwerk24 het gaan kyk wat hy reeds vermag het om Suid-Afrika se sukkelende ekonomie reg te ruk en wat sy belangrikste uitdagings is.

Pres. Cyril Ramaphosa het in sy staatsrede op 16 Februarie vanjaar, ’n dag nadat hy oudpres. Jacob Zuma as die land se president vervang het, grootskaalse maatreëls en inisiatiewe aangekondig om Suid-Afrika op ’n nuwe pad van ekonomiese groei, werkskepping en transformasie te plaas.

Pres. Cyril RamaphosaFoto: DAILY SUN

Hy het gesê dit sal gedoen word deur die regering se maatskaplike vennote te kry om saam te bou aan ’n maatskaplike pakt waarmee drywers vir ekonomiese herstel geskep sal word.

“Ons moet verder bou aan dié samewerking met die privaat sektor en georganiseerde arbeid om vertroue te herstel én om ’n beleggingsafgradering te vermy.

“Moeilike besluite moet geneem word om die fiskale gaping toe te maak, ons skuld te stabiliseer en om ons staatsentiteite (SOE’s) se gesondheid te herstel.”

Ramaphosa het in sy staatsrede aangekondig hoe die skep van werksgeleenthede, veral vir die miljoene werklose jeugdiges, sentraal sal staan in sy regering se nasionale ekonomiese agenda in 2018.

Hy het daarom ’n nasionale werksberaad belowe wat vorendag moet kom met praktiese oplossings én inisiatiewe vir werkskepping en wat onmiddellik geïmplementeer sal word.

’n Beleggerskonferensie sal ook later vanjaar gehou word om beleggingsgeleenthede aan plaaslike en buitelandse beleggers te bemark.

Die herindustrialisering van die land word volgens Ramaphosa ook beplan op ’n skaal en teen ’n pas wat miljoene werksgeleenthede sal skep, terwyl die regering se koop van plaaslike produkte ook versterk sal word om die sukkelende vervaardigingsektor ’n hupstoot te gee.

Hy het in die staatsrede bygevoeg dat spesiale ekonomiese sones belangrik sal bly vir regstreekse beleggings en om nuwe nywerheidskerne te vestig.

Om sy opponerende faksie in die ANC, wat op radikale ekonomiese transformasie aandring, te paai, het Ramaphosa verder belowe dat ekonomiese groei inklusief moet wees en transformasie moet steun.

Wat het sedertdien gebeur?

Nadat hy president geword het, het Ramaphosa sy kabinet geskommel en die gerespekteerde Nhlanhla Nene as Suid-Afrika se nuwe minister van finansies aangestel.

Verder is Pravin Gordhan as minister van openbare ondernemings en Gwede Mantashe as minister van minerale bronne aangestel nadat dié twee departemente onder Zuma ernstig by bewerings van staatskaping betrek is.

Verder het die rand met Ramaphosa se verkiesing as president van bo R13,50 teen die dollar in Januarie versterk tot R11,55 in Maart vanjaar.

Dit was nie noodwendig vanweë enigiets wat Ramaphosa gedoen het nie, maar bloot vanweë die feit dat hy as ’n sakevriendelike president beskou word wat weet hoe die sakesektor se koppe werk.

Die euforie het egter teen April begin taan en die rand het sedertdien tot bo R12,50 verswak.

Aan werkloosheid het Ramaphosa egter nog nie veel gedoen nie. Sedert Desember is dit onveranderd op 26,7%.

Ramaphosa het wel onregstreeks gehelp dat inflasie teen Maart – op 3,8% – sy laagste vlak in sewe jaar bereik het. Die laer inflasie was grootliks danksy die sterker rand, wat beteken die koste van ingevoerde goedere het minder skerp gestyg.

Aan werkloosheid het Ramaphosa egter nog nie veel gedoen nie. Sedert Desember is dit onveranderd op 26,7%.

Daar is 100 000 meer werkloses as in Desember en die getal ontmoedigde werksoekers is 249 000 meer. Die werkloosheidskoers is wel een persentasiepunt laer as in Maart verlede jaar.

Die deelnamekoers aan die arbeidsmag het wel tot 59,3% gestyg en dit is ’n aanduiding dat meer mense aan die ekonomie wil deelneem.

Ramaphosa se stappe om SOE’s se korporatiewe bestuur te verbeter, sy optrede by Davos ten tyde van die Wêreld- Ekonomiese Forum se jaarberaad en die internasionale besoeke van sy spesiale beleggingsambassadeurs, wat $100 miljard se beleggings na Suid-Afrika moet lok, het van die kredietgraderingsagentskappe begin oortuig om minder negatief oor Suid-Afrika te wees.

Net Donderdag het Gordhan ook grootskaalse veranderinge in die direksies en senior bestuur van SOE’s soos Eskom, SA Express, Transnet en Denel aangekondig.

Die kredietgraderingsagentskap Moodys het in Maart byvoorbeeld besluit om sy gradering vir Suid-Afrika onveranderd te laat.

Wat ekonomiese groei betref, het ekonome reeds hul verwagting vir groei in 2018 verhoog sedert Ramaphosa aan die bewind gekom het.

In Februarie se begroting het Malusi Gigaba, toe nog minister van finansies, groei van 1,5% vir vanjaar voorspel, terwyl ekonome wat aan Sake se Ekonoom van die Jaar-wedstryd deelneem, teen Maart reeds hul verwagtinge aangepas het tot 1,65% en in April tot 1,8% opgeskuif het.

Sakevertroue het in Januarie tot die beste vlak in twee jaar gestyg nadat Ramaphosa oorgeneem het, maar het sedertdien teruggesak namate die Cyril-euforie begin oorwaai het.

Die Suid-Afrikaanse Kamer van Koophandel en Nywerheid se sakevertroue-indeks was in April op die laagste vlak sedert November.

Wat is nog haakplekke vir Ramaphosa?

’n Ekonomiese aspek wat nog nie heeltemal so klopdisselboom vir Ramaphosa uitgewerk het nie, is die belofte van ’n nasionale minimum loon wat op 1 Mei in werking sou tree.

Dié proses is nog in parlementêre prosesse vasgevang en is vertraag deur onder meer die omvang van al die kommentaar van verskeie vakbonde, werkgewersorganisasies, akademici en gemeenskapsorganisasies.

Die parlementêre komitee wat die wetgewing daarvoor moes verwerk, het vir meer tyd gevra en geen nuwe datum vir die instel van die minimum loon is nog gegee nie.

Die verandering wat hy tot dusver in sy kabinet aangebring het, is ook ’n stap in die regte rigting, hoewel dit nog nie goed genoeg verander het nie.
Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient-groep

Nóg ’n spertyd wat onder Ramaphosa se toesig verstryk het, is dié vir die nuwe Mynbouhandves wat in Mei afgehandel sou word. Mantashe het juis Donderdag gesê die handves moet teen Junie afgehandel wees.

Dit moet beleidsekerheid in die bedryf skep sodat die mynbedryf internasionale beleggings kan lok.

Suksesse, mislukkings en die pad vorentoe:

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient-groep, het Donderdag gesê Ramaphosa het tot dusver daarin geslaag om SOE’s ’n stap in die regte rigting te kry. “Dit is egter nog nie heeltemal reg nie.”

“Dan is die ‘superspan’ wat hy aangestel het om $100 miljard se beleggings te lok ’n goeie ding.

“Die verandering wat hy tot dusver in sy kabinet aangebring het, is ook ’n stap in die regte rigting, hoewel dit nog nie goed genoeg verander het nie.”

Roodt meen dit is ook ’n goeie ding vir Suid-Afrika en die ekonomie dat Ramaphosa ’n sake-ingesteldheid het.

As hy eers sy mag in volgende jaar se algemene verkiesings gekonsolideer het, sal hy werklik ’n verskil kan maak.
Dawie Roodt

Oor sy mislukkings tot dusver het Roodt gesê “die ooreenkomste wat die regering met vakbonde bereik oor salarisverhogings is Ramaphosa se klaaglikste mislukking tot dusver”.

“Dit is hopeloos te hoog. Suid-Afrika kan dit nie bekostig nie en Ramaphosa het nie die boodskap duidelik genoeg na vakbonde uitgestuur nie.

“Die onsekerheid oor onteiening – nie net dié van grond sonder vergoeding nie, maar ook van alle ander bates – kan ook nie goed vir die ekonomie wees nie.”

Oor die pad vorentoe sê Roodt Ramaphosa se belangrikste prioriteit sal moet wees om sy eie posisie en politieke mag te konsolideer.

“Ons weet hy het die ANC-presidentskap met ’n klein marge gewen en is nog nie in totale beheer van die ANC nie. Kyk net wat gebeur in Noordwes en KwaZulu-Natal.

“As hy eers sy mag in volgende jaar se algemene verkiesings gekonsolideer het, sal hy werklik ’n verskil kan maak deur die nodige beleid te implementeer om die ekonomie op die regte trajek te plaas” sê Roodt. – Llewellyn Prince, Francois Williams en Hanlie Stadler

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Cyril100
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.