Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Cyril se hand sigbaar’ in premierskandidate

Die aangekondigde premierskandidate is ’n aanduiding daarvan dat pres. Cyril Ramaphosa sy stempel in die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) begin afdruk, terwyl hy aan die ander kant ook die ANC verenig wil hou.

Dit was Dinsdagoggend politieke kenners se reaksie op die premierskandidate wat die ANC Maandag ná ’n spesiale sitting van sy nasionale uitvoerende komitee in Pretoria aangekondig het.

Dr. Zwelinzima Ndevu, politieke ontleder by die Universiteit Stellenbosch se skool vir openbare leierskap, en Theo Venter, politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit se sakeskool, is dit eens dat die premierskandidaat vir Noordwes nog nie aangestel kan word nie omdat ’n tussentydse taakspan tans daardie provinsie lei.

Volgens Ndevu wil die ANC harmonie en stabiliteit in Noordwes verseker deur ’n baie neutrale persoon aan te stel wat aanvaarbaar vir albei ANC-faksies in die provinsie is.

Die ANC het Maandagaand sy premierskandidate aangekondig nadat die verkiesingsuitslag Saterdag amptelik deur die Verkiesingskommissie bekend gemaak is.

Daarvolgens het die ANC die nasionale verkiesing met 57,5%-steun gewen, terwyl die party ook al agt provinsies, behalwe die Wes-Kaap, in die provinsiale verkiesings behou het.

Die DA het Alan Winde as Wes-Kaapse premier aangewys.

Oor die ANC se premierskandidate het Ndevu gesê hoewel die meeste van hulle Ramaphosa goedgesind is, is dit sy mening dat die besluit om hulle te benoem berus op ’n ANC-besluit van 2009 dat die party se provinsiale voorsitters ook die premierskandidate moet wees om twee sentrums van mag in provinsies te vermy.

Volgens Venter wys die keuse van premiers ook dat Ramaphosa tans ’n baie sterk kompromis-hand in die ANC se NUK het. “En mens het verwag dat hy premiers sou aanstel wat hom goedgesind is.”

Hier volg ’n kort opsomming oor wie die aangewese premierskandidate is:

Oscar Mabuyane, Oos-Kaap:

Oscar Mabuyane. Foto: CARA-LEE DORFLING

Neem by Phumulo Masualle as premier oor.

Hy is tans ook die ANC-voorsitter in die provinsie en was tot verlede week se verkiesing LUR vir ekonomiese ontwikkeling, omgewingsake en toerisme.

Volgens Ndevu is hy ’n stoere Ramaphosa-ondersteuner.

Sisi Ntombela, Vrystaat:

Sisi Ntombela. Foto: MLUNGISI LOUW

Sy het by Ace Magashule as Vrystaatse premier oorgeneem toe hy die ANC-sekretaris-generaal geword het.

Sy is ook adjunkpresident van die ANC-vroueliga.

Venter beskou haar as Ramaphosa se swakste keuse as premier “omdat sy net sal voortgaan om Magashule se belange in die provinsie te bevorder”.

David Makhura, Gauteng:

David Makhura. Foto: DAILY SUN

Hy is ook die provinsiale ANC-voorsitter en behou sy premierskap vir ’n tweede termyn.

Beide Ndevu en Venter meen Makhura is Ramaphosa goedgesind.

Sihle Zikalala, KwaZulu-Natal:

Sihle Zikalala. Foto: DAILY SUN

Neem oor by Willies Mchunu as premier en is ook

die ANC-voorsitter in die provinsie en voor dit LUR vir ekonomiese ontwikkeling, toerisme en omgewingsake.

Venter meen die aanstelling van Zikalala, voorheen ’n stoere Jacob Zuma-lojalis, is die helderste aanduiding dat die steun in die ANC se NUK na Ramaphosa begin swaai.

Stan Mathabatha, Limpopo:

Stan Mathabatha. Foto: DAILY SUN

Hy is tans die dienende premier van Limpopo en ook die ANC-voorsitter in die provinsie.

Ndevu meen omdat Ramaphosa ook persoonlike bande met Limpopo het, is dié provinsie en Mathabatha van sy grootste ondersteuners in die ANC.

Refilwe Mtsweni, Mpumalanga:

Refilwe Mtsweni. Foto: DAILY SUN

Sy het in Maart verlede jaar by David Mabuza as premier oorgeneem toe hy adjunkpresident geword het; sy was voor dit LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake.

Volgens Ndevu is sy ’n neutrale keuse omdat sy nader aan Mabuza as aan Ramaphosa is.

Dr. Zamani Saul, Noord-Kaap:

Dr. Zamani Saul. Foto: CHARNE KEMP

Vervang Sylvia Lucas as premier en is ANC-voorsitter in die provinsie.

Hy was voor dit ook provinsiale ANC-sekretaris, terwyl hy ook al as munisipale bestuurder van die Pixley ka Seme-munisipaliteit gedien het.

Ndevu en Venter meen albei hy is een van Ramaphosa se grootste ondersteuners.

Alan Winde, Wes-Kaap:

Alan WindeFoto: ADRIAN DE KOCK

Neem by Helen Zille oor as DA-premier van die Wes-Kaap; was voorheen LUR vir gemeenskapsveiligheid, en voor dit LUR vir ekonomiese geleenthede, toerisme en landbou.

Bykomende bronne: www.gov.za en www.pa.org.za

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.