Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril se inhuldiging ‘kos R100 miljoen minder’

Die inhuldiging van pres. Cyril Ramaphosa op 25 Mei op Loftus Versfeld in Pretoria sal “meer as R100 miljoen minder kos” as die vorige inhuldiging van oudpres. Jacob Zuma.

Dié inhuldiging het sowat R240 miljoen gekos, het dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister in die presidensie en voorsitter van die interministeriële komitee wat vanjaar se inhuldiging reël, Donderdagoggend op ’n mediakonferensie in die Uniegebou in Pretoria gesê.

Met die inhuldiging van oudpres. Jacob Zuma by die Uniegebou in Pretoria in 2009 het dit gereën. Foto: Sarel van der Walt

Die inhuldiging val vanjaar saam met Afrika-dag.

Dlamini-Zuma het gesê die presiese bedrag wat die inhuldiging sal kos, sal eers ná die inhuldiging bekend gemaak word.

Sy sê dit is goedkoper om die inhuldiging op Loftus te hou as by die Uniegebou omdat dit baie kos om die amfiteater by die Uniegebou vir die geleentheid voor te berei.

In die verlede het die publiek die verrigtinge by die Uniegebou op groot skerms op die grasperk aan die onderpunt van die Uniegebou dopgehou. Die president het die mense dan later op die grasperk gaan groet.

Die voordeel van Loftus, wat loopafstand van die Uniegebou is, is dat die sowat 32 000 mense wat in die stadion verwag word, die verrigtinge uit die paviljoene sal kan dophou, het Dlamini-Zuma gesê.

In antwoord op die vraag of dit in die huidige moeilike ekonomiese toestande die moeite werd is om nog ’n groot inhuldigingseremonie te hou, het Dlamini-Zuma gesê dit is ’n saak waaroor Suid-Afrikaners in die toekoms debat moet voer.

Om koste te bespaar, is die getal staatshoofde beperk tot dié van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG), Egipte se pres. Abdel Fattah el-Sisi, voorsitter van die Afrika-Unie, en voorsitters van die ekonomiese streekkomitees in Afrika.

António Guterres, sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies, sal ook die geleentheid bywoon.

Ander staatshoofde sal deur ambassadeurs, hoë kommissarisse en ander senior diplomate verteenwoordig word.

Met oudpres. Jacob Zuma se inhuldiging in 2009 is oudpres. Robert Mugabe van Zimbabwe soos ’n held ontvang.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng sal die inhuldiging waarneem.

Ná die president se toespraak, na verwagting rondom 11:00, sal daar ’n kultuurprogram wees wat onder meer musiek sal insluit. Daar sal ’n amptelike dinee vir die uitgenooide gaste wees.

Hierna volg die nasionale saluut en die sing van die volkslied voordat Ramaphosa, wat volgende week amptelik in die parlement as president aangewys sal word, ’n toespraak sal lewer.

Soos met vorige inhuldigings sal daar weer ’n verbyvlug van vliegtuie van die lugmag en die Suid-Afrikaanse Lugdiens wees, sê Dlamini-Zuma.

Ná die president se toespraak, na verwagting rondom 11:00, sal daar ’n kultuurprogram wees wat onder meer musiek sal insluit. Daar sal ’n amptelike dinee vir die uitgenooide gaste wees.

Die verrigtinge sal regstreeks op televisie uitgesaai word. Elk van die nege provinsies sal ’n plek hê waar die publiek op groot skerms sal kan kyk wat op Loftus gebeur. Lede van die publiek sal ook die verrigtinge op Loftus self kan bywoon.

Daar sal vanaf 3:00 tot 7:00 die oggend van die inhuldiging busse wees wat lede van die publiek van die Tshwane Events Centre (die skougrond) na die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) langs Loftus bring en later weer terugneem.

Lede van die publiek sal by Affies vir die byeenkoms moet akkrediteer, sê Dlamini-Zuma.

Die gaste sal ook met busse na die stadion vervoer word.

Sowat 22 000 mense uit Gauteng, Limpopo, Mpumalanga en Noordwes sal per bus na Pretoria gebring word.

In hierdie stadium lyk dit asof Ramaphosa op 20 Junie die staatsrede in die parlement sal lewer, sê Dlamini-Zuma.

Meer oor:  Pres. Cyril Ramaphosa  |  Loftus Versfeld  |  Pretoria  |  Inhuldiging  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.