Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Cyril se politieke wittebrood is verby’
Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Reuters

Pres. Cyril Ramaphosa se politieke wittebrood is verby en die tyd tot volgende jaar se algemene verkiesing sal vir hom baie moeilik wees.

“Die post-Zuma-era is ’n baie moeilike tyd. Ramaphosa se politieke wittebrood het geëindig met die aanwysing van die kabinet Maandagaand,” sê prof. André Duvenhage, ’n politieke kenner van die Noordwes-Universiteit.

Sommige waarnemers meen Ramaphosa was met die aankondiging van sy nuwe kabinet in die Uniegebou in Pretoria op die oog af meer senuagtig as met sy onlangse staatsrede. Hulle sê die euforie oor Ramaphosa, in sommige kringe bekend as “Ramaforie”, is verby.

Duvenhage stem saam.

Hy sê die aanduidings is reeds daar dat die ondersteuners van oudpres. Jacob Zuma opnuut besig is om te mobiliseer.

“Daar sal beslis iets gebeur. Die breuklyne in die ANC is nog nie gekonsolideer nie en hy (Ramaphosa) figureer in daardie breukomgewing,” sê Duvenhage.

Prof. André Duvenhage, politieke kenner van die Noordwes-Universiteit.

Hy meen die verdelingslyne in die ANC loop so diep dat daar nog nie stabiliteit in die organisasie is nie.

“Die situasie word misbruik deur die David Mabuzas van die wêreld om vir hulself poste te beding.

“Mabuza wou adjunkpresident word, maar Ramaphosa wou hom nie in dié pos hê nie. Dit lyk vir my asof daar ’n redelike groot geveg hieroor was. Dit is waarskynlik een van die redes waarom die mediakonferensie (waarop Ramaphosa die nuwe aanstellings aangekondig het) anderhalf uur laat begin het.”

Duvenhage sê Ramaphosa het met sy kabinet “die breë kerk van die ANC bymekaar probeer hou”.

Hy glo die huidige situasie in die ANC is vir Ramaphosa ’n baie ongemaklike een en ’n “bitter moeilike oefening”.

Om sake vir Ramaphosa te vererger, is daar van sy ondersteuners wat vergoed wil word vir hul ondersteuning om hom tot ANC-leier verkies te kry.

“ ’n Moeilike tyd lê vir Ramaphosa voor, voor volgende jaar se algemene verkiesing.

“Die ANC se alliansie met die SAKP en die vakverbond Cosatu was al voor verlede jaar se ANC-leierskapsverkiesing in sy swernoot in en daar word van Ramaphosa as ANC-leier verwag om die ANC baie goed by die stembus volgende jaar te laat vaar,” sê Duvenhage.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Opposisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.