Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril se ‘skorsing’: Ace lyk nie lus om jammer te sê

Dit lyk asof Ace Magashule, voorlopig geskorste sekretaris-generaal van die ANC, vasskop en nie om verskoning gaan vra vir sy futiele “skorsing” van pres. Cyril Ramaphosa as president van die ANC nie.

Die party se nasionale uitvoerende komitee (NUK) het hom gelas om dit te doen.

Netwerk24 verneem van mense wat na aan die vuur sit daar was Dinsdagaand ’n Zoom-vergadering waarop Magashule en sy lojaliste oor die saak besin het. Dit het nie gelyk asof Magashule wil bes gee en om verskoning vra nie.

Ace Magashule Foto: Sidwell Guduka

Nog vergaderings sou Woensdag hieroor gehou geword “sodat ’n finale besluit geneem kan word”.

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder verbonde aan die Noordwes-Universiteit, sê “dit pas nie die selfbeeld van Magashule om om verskoning te vra nie. Hy sal hom nie in ’n minderwaardige posisie wil plaas en sy status as politieke leier op ’n ondergeskikte wyse wil definieer aan dié van Ramaphosa nie.”

Hy meen ’n verskoning hou ook ’n loopbaan-risiko vir Magashule in. “Aan die ander kant is daar nie veel wins vir Magashule daarin as hy om verskoning sou vra nie omdat hy reeds opsy geskuif is.”

Duvenhage meen Magashule dink sy beeld gaan skade ly as hy om verskoning vra.

Prof. Theo Neethling van die departement politieke wetenskap aan die Universiteit van die Vrystaat sê as hy moet raai, gaan Magashule nie om verskoning vra nie.

“Maar sy politieke loopbaan is op die spel. Hy is in ’n hoek geverf en dit is sy eie skuld. Tensy hy ’n ordentlike plan B het, sal hy om verskoning moet vra en verkieslik dan ook nie ontwrigtend optree nie. Maar om om verskoning te vra, is nie in sy aard nie.

“As politikus sal hy moet besef dat sy loopbaan aan ’n dun draadjie hang. Hy moet besef dit is deur sy eie toedoen dat hy in sy eie ratwerk vasgedraai is.”

Dr. Ralph Mathekga, onafhanklike politieke ontleder, meen hy kan dalk om verskoning vra, “maar of daar ’n betekenisvolle apologie gaan kom, is ’n ander saak”.

“Dit sal vernederend vir hom wees om jammer te sê. As hy nie om verskoning vra nie, beteken dit hy staan by wat hy gedoen het. Dit kan ’n verdere sanksie beteken en dat hy dalk voor ’n dissiplinêre komitee sal moet verskyn.”

Dr. Ralph Mathekga
Prof. Theo Neethling Foto: Facebook
Prof. André Duvenhage Foto: Argief
Werner Horn, DA-LP Foto: Argief

Mathekga meen ’n verskoning sal vir hom die maklikste uitweg wees.

Werner Horn, DA-LP en voorsitter van die DA in die Vrystaat, sê wat Magashule ook al besluit, gaan ’n goeie aanduiding wees van die sogenaamde faksie vir radikale ekonomiese transformasie (RET) se strategie oor die volgende paar maande.

“Indien hy om verskoning vra, sal die strategie wees om die ANC en ook sy dissiplinêre strukture te oortuig dat die opsystaan-besluit onwerkbaar is. Magashule en sy ondersteuners sal die saak wil uitmaak dat daar van hulle sondebokke gemaak word terwyl daar Ramaphosa-ondersteuners is wat deur bewerings van onbehoorlike en moontlike korrupte gedrag geïmpliseer word.

“As Magashule nie om verskoning vra nie, sal dit ’n goeie aanduiding wees dat sy groep se strategie eerder een gaan wees van destruktiewe gedrag soos stakings, betogings en geweld en selfs om ’n groot klomp onafhanklike kandidate in die komende munisipale verkiesing te laat staan.”

Hulle sal dit doen om aan Ramaphosa en die ANC te wys dat hulle die ondersteuning van die RET-groep nodig het as hulle enigsins politieke mag in die toekoms wil behou, meen Horn.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Cyril Ramaphosa  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.