Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Cyril se superstad ’n simbool van SA se potensiaal’

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdagaand in sy staatsrede gesê hy droom van die dag dat Suid-Afrika sy eie superstede bou en ’n sneltreinstelsel ontwikkel. Is dit moontlik? Sarel van der Walt het met kenners gepraat.

Grafika

Terwyl sommige in stomme verbasing geluister het na pres. Cyril Ramaphosa se droom van ’n superstad, glo ander dit moet gesien word as ’n simbool van die vertroue wat die president in die potensiaal van Suid-Afrika het.

Theo Venter, ’n voormalige adjunk-direkteur van die Instituut vir Toekomsstudies, sê te veel mense het die laaste deel van die president se staatsrede oor nuwe stede en blitstreine verkeerd verstaan.

“Ramaphosa wou verby die horison kyk. Hy wou illustreer dat Suid-Afrika, wat tans in ’n klomp krisisse vasgevang is, die potensiaal het om bo dit uit te styg,” sê Venter, wat tans as ’n politieke ontleder aan die Noordwes-Universiteit se sakeskool in Potchefstroom verbonde is.

Ek droom van ’n Suid-Afrika waar die eerste heeltemal nuwe stad in die demokratiese era verrys, met wolkekrabbers, skole, universiteite, hospitale en fabrieke.
Pres. Cyril Ramaphosa

Die president het Donderdagaand in sy staatsrede gesê dit is tyd dat Suid-Afrikaners hulself voorstel hoe dit kan wees in ’n land waar almal in gemak en voorspoed leef – in ’n land waar sneltreine in Johannesburg aandoen terwyl hulle van Kaapstad na Musina reis, of in Oos-Londen stilhou op pad terug van Durban af.

“Ek droom van ’n Suid-Afrika waar die eerste heeltemal nuwe stad in die demokratiese era verrys, met wolkekrabbers, skole, universiteite, hospitale en fabrieke,” het die president gesê.

Ramaphosa sê hy het gehou van die idee van ’n superstad ná ’n gesprek wat hy met onder andere China se pres. Xi Jinping gehad het.

“Sedert die koms van demokrasie 25 jaar gelede het ons nog nie ’n nuwe stad in Suid-Afrika gebou nie. Sowat 70% van Suid-Afrikaners sal teen 2030 in stedelike gebiede woon.

“Stede soos Johannesburg, Pretoria, Kaapstad en Durban het nie meer genoeg plek om almal te huisves wat hulle in dié stede wil vestig nie,” het die president gesê.

“Het dit nie tyd geword dat ons begin doen wat ons vroeër gedink het onmoontlik is nie. Het dit nie tyd geword dat ons ’n nuwe superstad bou nie, gegrond op die tegnologie van die vierde industriële revolusie,” het Ramaphosa gesê.

Venter sê terwyl die president ’n nuwe moderne stad visualiseer, word nuwe stede steeds deurlopend gebou.

“Midrand is besig om so nuwe stad te word met die Mall of Africa in sy sentrum, asook die gebied rondom Ballito aan die KwaZulu-Natalse noordkus.

“Steyn City (noord van Johannesburg) kan in dieselfde asem genoem word.

“Nuwe stede ontstaan rondom ’n sentrale aantrekking soos ’n nywerheid of bedryf en daar is baie potensiaal daarvoor.

Gauteng se Gautrein is reeds ’n vinnige treinstelsel. As die Gautrein-stelsel ontwikkel en suksesvol bedryf word, kan hy uitgebrei word.
Theo Venter, ’n voormalige adjunk-direkteur van die Instituut vir Toekomsstudies

“Polokwane (Limpopo) het daardie potensiaal, en so ook Harrismith (Vrystaat) en selfs Klerksdorp (Noordwes).

“Tot nou toe het Suid-Afrika egter verkies om van stede groter metropole te maak. Gauteng, die groter Durban/Noordkus-omgewing en die Wes-Kaap is goeie voorbeelde,” sê Venter.

“Gauteng se Gautrein is reeds ’n vinnige treinstelsel. As die Gautrein-stelsel ontwikkel en suksesvol bedryf word, kan hy uitgebrei word.”

Ramaphosa se visie moet dus as ’n “droom met oop oë” gesien word, eerder as die siniese vrae oor wat, waar en wanneer terwyl ons sukkel om Eskom aan die lewe te hou.

“Onthou, in 1960 het pres. John F. Kennedy van die VSA gepraat van die (destydse) onmoontlike – ’n man op die maan. Skaars nege jaar later het dit gebeur en dis nou al 50 jaar gelede.

“Ek dink dit moet die perspektief op Ramaphosa se stede en blitstreine wees. Dit moet mense inspireer en aanmoedig om oplossings te soek,” sê Venter.

Prof. Flip Smit, ’n demograaf van Pretoria, sê in hierdie stadium is die bou van superstede in Suid-Afrika soos dié in byvoorbeeld China, Japan en Suid-Korea ’n droombeeld. “Waar kan ons só ’n stad vestig?

“Dekades lank al groei stede rondom produksiefaktore.

“In die stadium het Suid-Afrika boonop nie die geld óf die kundigheid om die tegnologiese infrastruktuur van ’n nuwe superstad te bou nie,” sê Smit.

“Voordat die onderwysstelsel in die land nie verbeter nie, sal ons sukkel om ontwikkelings soos dié te kan doen.

Gauteng is weens sy sentrale ligging vir nywerheidsontwikkeling eintlik die beste daaraan toe.
Prof. Flip Smit, ’n demograaf van Pretoria

“Die groot debat wat tans aan die gang is, is of ons groot stede volgens ’n Westerse styl moet bou, waarvan die bedrading, die vesel en die hysers binne 20 jaar verouderd is en vervang moet word.

“Stede soos Port Elizabeth en Oos-Londen kan nie juis verder ontwikkel nie. Durban se toekoms met onder meer die suikerbedryf wat aan die taan is, lyk ook nie goed nie.

“Gauteng is weens sy sentrale ligging vir nywerheidsontwikkeling eintlik die beste daaraan toe,” sê Smit.

Daar is na raming tans meer as 60 miljoen mense in die land.

Die vinnige verstedeliking en toestroming na veral groot stede sal watertekorte, ’n tekort aan skole ensovoorts veroorsaak, terwyl plakkersgebiede en onwettige

grondbesetting onafwendbaar lyk, sê Smit.

Oudambassadeur Gert Grobler, wat tans op uitnodiging van die Chinese regering vir ’n paar maande lank help met die opleiding van Chinese diplomate, sê China se stadsprojekte was die gevolg van deeglike medium- tot langtermynbeplanning as deel van hul “omvattende, doelgerigte en gedissiplineerde ekonomiese en ontwikkelingsgroeimodel”.

Pres. Cyril Ramaphosa Donderdagaand in die Nasionale Vergadering. Foto: Jaco Marais

Boonop het die ekonomie van China in daardie stadium met meer as 10% per jaar gegroei.

“So finansiering is feitlik alles intern gemobiliseer.

“Die stadsprojekte word nou nog oral in die land voortgesit met ’n effe laer ekonomiese groeikoers, maar wat steeds in die omgewing van 6% tot 6,5% per jaar is,” sê Grobler. Die Suid-Afrikaanse ekonomie groei tans teen minder as 1% per jaar.

Grobler sê China het oor die laaste paar dekades groot klem gelê op vakkundige opleiding. Die gevolg is hulle het die vaardigheidskapasiteit vir sulke projekte.

Tog is al die superstede in China nie ’n sukses nie. Van hulle het spookstede geword.

Die Chinese het ook gesukkel om soortgelyke projekte in Angola op dreef te kry.

Pieter Geldenhuys, ’n toekomskundige van die Noordwes-Universiteit, sê lande soos China, Indië en die Verenigde Arabiese Emirate het gewys die tegnologie is beskikbaar om ultramoderne nuwe stede te bou.

* John Jack, uitvoerende hoof van Galetti Corporate Real Estate, sê Ramaphosa se opmerking oor ’n superstad is interessant, hoewel die president nie presies gesê het wat hy daarmee bedoel nie.

Galetti meen die Johannesburgse middestad het groot potensiaal om herontwikkel te word nadat die besigheidsdistrik die laaste paar dekades na Sandton verhuis het.

Gebou-eienaars in die Johannesburgse middestad sal met groot belangstelling aandag gee aan enige aansporings wat daar kan wees, het Galetti in ’n verklaring gesê.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Sona 2019  |  Staatsrede 2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.