Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril se ‘wit kapitaliste gevaarliker as Zuma’, sê Malema by kongres

Pres. Cyril Ramaphosa is deur “wit kapitaliste” gekaap, het Julius Malema, EFF-leier, op sy party se tweede nasionale byeenkoms in Nasrec, Johannesburg, beweer.

Die byeenkoms het Saterdag amptelik begin met sowat 4 000 afgevaardigdes van oor die land heen wat moet help om te bepaal hoe die pad vorentoe vir die EFF gaan lyk.

Die byeenkoms duur tot Maandag en die EFF se topses-leiers sal hier verkies word.

141219 News Johannesburg- The 2nd EFF National Peo
Malema spreek sowat 4 000 afgevaardigdes toe by Nasrec. Foto: Felix Dlangmandla

Malema het sy politieke verslag voorgelees waarin hy kaalvuis onder die ANC inklim en hom beskuldig dat hy veral die swart mense van Suid-Afrika faal.

Hy het beweer Ramaphosa is ’n “pop” wat te veel ag slaan op die belange van wit kapitaliste ten koste van die belange van arm swart mense.

“Die establishment se pop is nou aan bewind en marginaliseer swart mense. Swart professionele mense word gemarginaliseer selfs in regeringsinstellings.

“Die regering van oudpres. Jacob Zuma is nou vervang deur ’n gevaarliker kapitalistiese establishment,” sê Malema.

Afgevaardigdes het met die aanvang van die byeenkoms ’n ander weergawe van die volkslied gesing wat nie die Afrikaanse deel bevat nie.

141219 News Johannesburg- The 2nd EFF National Peo
'n Afgevaardigde juis Malema staande toe tydens sy toespraak. Foto: Felix Dlangamandla

Malema het dit onomwonde gestel dat sy party ’n sosialistiese stelsel in Suid-Afrika wil vestig om die nalatenskap van kolonialisme en apartheid uit te wis.

“Ons is hier om die arm en die uitgewekenes te verteenwoordig. Ons is ’n organisasie wat die struggle van grond in ons bloed dra en nie gehoor gee aan Stellenbosch en die Oppenheimers nie.”

“Alles het begin skeefloop toe daai krimineel Jan van Riebeeck sy voet aan wal gesit het. In Suid-Afrika leef die wonde van apartheid en kolonialisme voort. Ons mense het politieke regte, maar is nie ekonomies bevry nie,” sê Malema.

Hy het kapitalisme gebrandmerk as die oorsaak van die meeste van Suid-Afrika se probleme. Malema sê dié stelsel is in gierigheid gegrond en buit veral swart mense uit.

Malema sê sosialisme beteken nie noodwendig dat mense “almal dieselfde moet loop, aantrek en klere moet deel nie”.

“Dit gaan daaroor om die middele van produksie te nasionaliseer wat gebruik word om mense uit te buit om wins te maak.”

Afgevaardigdes Saterdag by die EFF se leierskongres in Nasrec, Johannesburg. Foto: Felix Dlangamandla

Hy sê “voetsoldate” van die EFF moet geleer word hoe om die ideologie van die EFF reg weer te gee sodat die EFF in die volgende algemene verkiesing miljoene bykomende stemme kan trek.

Malema het aan ’n see van rooi gesê dat die kapitalistiese establishment alles in sy vermoë sal doen om EFF-leiers te vervolg.

Die EFF het Vrydag onder kritiek deurgeloop nadat verskeie mediahuise nie toegang tot die byeenkoms kon kry nie.

Malema sê hoewel die EFF mediavryheid onderskryf, wil hy tog joernaliste ’n les in “joernalistiek 101” gee omdat die media “ongebalanseerd” oor die EFF berig.

Voorts sê Malema sy party het die laaste paar jaar baie vermag – onder meer deur te help om die regerende party verantwoordbaar te hou. Hy sê die EFF het ’n groot rol gespeel in sy strewe na universele gesondheidsorg, gratis onderwys op universiteitskampusse en grondonteiening sonder vergoeding.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.