Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Cyril: Krisis steek lont van rassisme ‘blitsig’ aan

Die “rasseverdeeldheid” wat die Senekal- en die Hoërskool Brackenfell-protesaksies gekenmerk het, wys hoe diepgewortelde rassisme in Suid-Afrika weer blitsvinnig in krisistye kan kop uitsteek, sê pres. Cyril Ramaphosa.

Hy het Donderdagmiddag op ’n vraag-en-antwoord-sessie in die Nasionale Vergadering sy “diepe teleurstelling” oor die twee voorvalle uitgespreek.

“Ek was diep bekommerd daaroor omdat dit strydig is met die soort samelewing wat ons nastreef,” het hy gesê oor die plofbare situasie in Senekal verlede maand ná die wrede moord op die plaasvoorman Brendin Horner (22).

Hy meen hoewel dit ook wys “hoeveel van die verlede steeds met ons is”, weerspieël dit nie die werklikheid van die meerderheid Suid-Afrikaners wat nie rassisties is nie.

Tamarin Breedt, VF Plus-LP, het aan Ramaphosa gesê dat voedselsekerheid in gevaar gestel word as plaasboere nie voldoende beskerm word nie. Sy wou by hom weet wat hy veral aan die ANC-jeugligalede gaan doen wat ná die Senekal-voorval sou gesê het: “As hulle (boere) oorlog wil hê, sal ons dit vir hulle gee.”

Pres. Cyril Ramaphosa spreek Donderdag die parlement deur middel van ’n videoskakel vanaf Pretoria toe. Foto: Jaco Marais

Ramaphosa het dit ten sterkste veroordeel en gesê mense wat oor oorlog praat, “speel met vuur”.

“Ons soek nie oorlog in ons land nie. Ons kom as land uit die ergste vorm van menslike agteruitgang omdat apartheid werklik ’n oorlog teen die mense was. Dit hoort egter in die verlede.”

Volgens hom is Suid-Afrikaners nasiebouers wat hul geskille met gesprekke tussen hulle moet oplos, en nie met geweld nie.

Die president het gesê wetstoepassingsagentskappe moet ingeroep word as iemand rassisties optree, pleks daarvan dat mense mekaar daaroor wil aanval.

Hy sê sy regering is daartoe verbind om alle Suid-Afrikaners, plaasboere en -werkers, swart en wit, te beskerm, en dat hulle moet voel dat hulle in Suid-Afrika hoort.

“Ons polisie en ander beskermingsdienste moet altyd daar wees om mense wat op ons plase werk en voedsel produseer te beskerm.”

Hy meen egter dat alle landsburgers, veral vroue en kinders, sowel as ondernemings wat deur misdadigers geteiken word, net soveel beskerm moet word.

“Ons moet ’n land van wetsgehoorsame burgers word, waar die oppergesag van die reg handhaaf moet word.”

Omphile Maotwe, EFF-LP, het dit namens Julius Malema, EFF-leier, aan Ramaphosa gestel dat die “omvang van die plaasmoorde in Suid-Afrika oordryf word”.

Ons polisie en ander beskermingsdienste moet altyd daar wees om mense wat op ons plase werk en voedsel produseer te beskerm.

“Dit word misbruik vir politieke en ekonomiese redes.”

Volgens haar word meer swart vroue en kinders daagliks in die land vermoor en moet die regering eerder daaraan aandag skenk.

“In 2019-’20 was net 49 uit die meer as 21 000 moorde wat in Suid-Afrika gepleeg was, beskryf as plaasmoorde,” het Maotwe gesê.

Intussen het John Steenhuisen, DA-leier, dit aan Ramaphosa gestel dat die Senekal-voorval ’n regstreekse gevolg is van die ANC-regering wat met sy regstelbeleid soos regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging, sowel as rassekwotas, Suid-Afrikaners steeds op grond van ras verdeel.

Steenhuisen wou weet of Ramaphosa bereid is om hierdie beleide wat die land in twee skeur, terwille van nasiebou te skrap.

Ramaphosa het hierop geantwoord dat die “onderdrukkende apartheidsregime een ras bo die ander gestel en een ras bo die ander bevoordeel het”.

Volgens hom stippel die Grondwet dit duidelik uit dat die regering stappe moet doen om voorheen benadeeldes op gelyke voet met die bevoordeeldes te bring, en dat dit is wat die regering met sy regstelbeleid probeer doen.

Hy meen mense kan daarom nie sê dit is rassisties of diskriminerend as daar voorsiening gemaak word om voorheen benadeeldes te bemagtig nie.

“Ek is eerlikwaar verras en geskok dat diegene wat deur die vorige regime bevoordeel is, ook dié is wat woedend is as voorheen benadeeldes bemagtig word,” het Ramaphosa gesê.

Ek is eerlikwaar verras en geskok dat diegene wat deur die vorige regime bevoordeel is, ook dié is wat woedend is as voorheen benadeeldes bemagtig word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.